Fitch bespeur verbetering in bestuur van staatsbates

fitch-ratings-kredietgradering

Fitch Ratings se hoofkantoor in New York, VSA. Foto: Fitchratings.com

Ernstige vraagtekens hang oor die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit volg nadat die graderingsmaatskappy Fitch sy graderingsvooruitsig vir die land onveranderd gelaat het.

Fitch en Standard & Poor’s Global takseer die land se kredietgradering op ʼn negatiewe vlak. Net Moody’s Investor Service het die land op ʼn positiewe gradering.

Boonop het die Suid-Afrikaanse Reserwebank gesê die land se lopende rekening het in die derde kwartaal vergroot. Die lopende rekening kan as ʼn land se tjekboek beskou word.

Volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank het die lopende rekening met R9,2 miljard tot R176,6 miljard gestyg. Die lopende rekening het R167,4 miljard in die tweede kwartaal beloop.

Die bank se die lopende rekening as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) het tot 3,5% verswak teenoor die vorige kwartaal se hersiene 3,3%.

“Die swakker vertoning van die lopende rekening was te wyte aan die trae vertoning van die handelsrekening,” het die bank bygevoeg. ʼn Surplus van R14 miljard is in die derde kwartaal behaal, teenoor die surplus van R38,3 miljard in die vorige kwartaal.

Die rede vir die terugslag is volgens die bank ʼn toename in invoere wat netto goud en handelsuitvoere verbygesteek het.

“Die stygende waardes weerspieël die toename in volume en die prys van ingevoerde en uitgevoerde goedere,” se die bank.

Die ekonomiese navorsingmaatskappy NKC Research sê die gegewens strook met markverwagtinge. Die maatskappy voeg by dat die geskatte tekort op die lopende rekening vanjaar 3,7% kan beloop teenoor die 2,4% van die vorige jaar.

Daar is egter ʼn tikkie goeie nuus. Die maatskappy sê dat die stewiger rand, laer oliepryse en ʼn afname in vrese oor die handelsoorlog tussen die VSA en verskeie wêreldlande ondersteuning kan gee.

“Dié verwikkelinge kan die handelsrekening in die komende kwartaal ʼn hupstoot gee,” sê die maatskappy.

Intussen het Fitch die land se langtermyn plaaslike valuta herbevestig. Die gradering is BB-plus.

Fitch het aangedui dat die land se gradering gestonk word deur lae groei potensiaal, die regering se groot skuldlas, gebeurlikheidlaste en ʼn styging in maatskaplike spanning weens die ongelykheid in die land.

Die graderingsmaatskappy het egter opgemerk dat Suid-Afrika se sterk instellings soos banke, asook die gunstige struktuur van regeringskuld en gesonde kapitaalmarkte positief is.

Die maatskappy het bygevoeg dat daar ʼn verbetering in die bestuur van staatsbates is, asook die vordering met strukturele hervorminge in die ekonomie.

“Daar kan ook ʼn verbetering in die ekonomiese siklus wees wat ekonomiese groei kan bevoordeel.”

Fitch waarsku egter dat die finansiële uitdagings by kern staatsbeheerde ondernemings en regeringsskuld nog moet stabiliseer voordat ʼn gunstige gradering oorweeg kan word.

In reaksie op Fitch se besluit het die nasionale tesourie gesê die regering gaan hom daarop toespits om die land se beleggingstatus te herwin. Onder die planne tel ook die onderneming om die land weer ʼn aanloklike beleggingshawe te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Alleman ·

Fitch en kie is so uit hulle diepte met Afrika lande dat dit nie snaaks is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.