FNB help FirstRand om stewige vertoning te lewer

FNB, die kleinhandelbank in die FirstRand Group, het ’n stewige vertoning gelewer om die groep te help om kop bo water te hou. FirstRand sê sy wesensverdienste het in die ses maande tot einde Desember met 7% tot R13,3 miljard gestyg.

Volgens die finansiëledienstegroep verwag hy dat sy strategie om lenings en transaksie-inkomste uit sy kleinhandelafdeling te verkry, winste stukrag gegee ondanks die slakkepas waarteen die ekonomie groei.

Ander bedryfsgroepe binne die FirstRand-stal sluit in, Wesbank en Rand Merchant Bank. Dié groep se uitslae is onderskraag deur die blink vertoning deur FNB.

Alan Pullinger, FirstRand se bestuurshoof, sê FNB se verdienste was indrukwekkend en het met 13% gestyg. Hy skryf dit toe aan ’n sterk groei in kliënte, transaksievolumes, voorskotte en deposito’s.

FirstRand het sy tussentydse dividend met 7% verhoog. FNB se genormaliseerde verdienste het R8,4 miljard beloop. Die inkomste uit die res van Afrika was R311 miljoen.

WesBank het stewig gestaan ondanks ’n mededingende mark en laer voertuigverkope. Hy het R95 miljoen tot die groep se wins bygedra.

Intussen het ’n stewige vertoning deur die Wes-Afrika-bankgroep Ecobank vir Nedbank ondersteun. Sy wesensverdienste vir die jaar het met 14,5% tot R13,5 miljard gestyg.

Nedbank se algehele bates het vir die eerste keer die R1 triljoen-kerf verbygesteek. Gedurende die jaar het Nedbank ook sy paaie met dié van sy beheermaatskappy Old Mutual begin skei.

Suid-Afrika se grootste lewensversekeraar, Sanlam, sê dat sy wesensverdienste in die 2018-boekjaar met 10% verswak het. Hy skryf dit toe aan die onstuimigheid op die wêreld se finansiële markte asook die swak Suid-Afrikaanse ekonomie.

Die groep sê hy het veral in die laaste kwartaal van 2018 swaar getrek. Sy verdienste per aandeel het met 10% van R4,80 tot R4,31 gedaal.

Die kitkosgroep Famous Brands sê sy vertoning is deur Eskom se beurtkrag en die Brexit-debakel in Brittanje gepootjie. Hy het ’n verklaring uitgereik waarin hy beleggers gereed gemaak het vir swak uitslae.

Van die handelsname wat onder die groep val, sluit in tashas, Mugg & Bean, Wimpy, Steers en Fishaways.

Famous Brands sê hy verwag dat sy wins vir die boekjaar tot Februarie met ’n vyfde kan val.

In Brittanje, waar hy Gourmet Burger Kitchen aangeskaf het, het die groep steeds gesukkel. Die kettingwinkelgroep is in 2016 bekom en sy verlies in pond sterling was 7%.

Die groep het bygevoeg dat ekonomiese en politieke onsekerheid in Suid-Afrika al sy kettingwinkels negatief geraak het. Boonop sê hy onbestendige kragtoevoer het verbruikersvertroue geknou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.