Fris dividende vir Kumba se aandeelhouers

kumba-iron-ore-1

Kumba Iron Ore Kathu (Sishen-myn) Foto: Kumba Iron Ore

Die ysterertsmyngroep Kumba Iron Ore het bykans R10 miljard aan sy aandeelhouers in dividende vir die boekjaar tot Desember 2018 uitgekeer. Die groep is deel van die diverse mynreus Anglo American.

Die dividend wat 100% van Kumba se verdienste vir die jaar verteenwoordig, kom ondanks die myngroep se wesensverdienste, wat met 22% van R16 miljard in die vorige jaar tot R1,7 miljard verswak het.

Kumba se beleid is om tussen 50% en 75% van sy verdienste as dividend uit te keer. Verlede jaar het hy 100% van sy verdienste uitgekeer.

Kumba se bedryfsuitgawes het van R29,4 miljard tot R25 miljard verswak. Omset het met 1% tot R45,7 miljard gekrimp.

Die groep sê dit was te wyte aan logistiese uitdaging, onder meer, sewe ontsporings op die Sishen-Saldana spoorlyn waarop die ystererts vervoer word.

Weens die tragiese damineenstorting in Brasilië wat operasies by die Vale-myn belemmer het, verwag Kumba dat die ysterertsprys vanjaar gemiddeld $75 kan beloop. Die gemiddeld vir die afgelope jaar was $72.

Vale, die wêreld se grootste ysterertsmyngroep, sal na verwagting weens die ongeluk nie 40 miljoen ton ystererts kan uitvoer nie. Dit het ʼn tekort op die mark veroorsaak terwyl Kumba se mededingers nie genoegsame kapasiteit het om meer van die metaal uit te voer nie.

Kumba sê hy beoog om vanjaar sowat 44 miljoen ton ystererts te produseer. Dit gaan ook tussen R2 en R3 miljard spandeer op nuwe tegnologie by sy smeltingsaanleg.

Boonop lyk dit of Kumba se weg vir 2019 goed gebaan is. Een van sy mededingers, die globale mynreus BHP Billiton, wat in Johannesburg, Londen en Sydney genoteer is, het aangekondig dat hy nie die kapasiteit of vermoë het om meer ystererts aan die mark te verskaf nie, ná die tragedie by die Vale-myn.

Die Vale-tragedie het die ysterertsmark ontwrig deurdat vraag skerp gestyg het. Myngroepe soos Kumba en BHP moes produksie verhoog om vir die tekort wat deur die Vale-tragedie veroorsaak is, op te maak.

Nog ʼn myngroep, Rio Tinto, is in dieselfde bootjie as BHP Billiton. Ontleders sê dit is danksy die twee groepe se strategie die afgelope paar jaar om liefs op wins op verhoogde volumes te konsentreer.

BHP sê sy Australiese ysterertsmyn is volstoom aan die gang, maar hy verwag nie veranderinge in produksie nie. Sy bestuurshoof Andrew MacKenzie sê hy verwag nie dat die groep addisionele kapasiteit op die mark sal sit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Verwonderd ·

Hoe het hulle die grootskaalse stropery misgeloop? Wat hulle ookal doen werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.