Gaan Mboweni kredietagentskappe gelukkig hou?

Direkteur-generaal van die tesourie, Dondo Mogajane (links) saam met Tito Mboweni, die minister van finansies (Foto: Phando Jikelo/African News Agency/ANA)

Woensdag se begroting gaan nie net bepalend vir Suid-Afrika wees nie; dit gaan ’n moeilike vuurdoop vir die minister van finansies, Tito Mboweni, wees.

Ontleders meen dat met die huidige vlaag van ekonomiese en politieke druk, gaan Mboweni waarskynlik ’n netjiese eierdans moet doen om die land se kop bo water te hou en sy kredietgraderingstatus te behou.

Kenners meen dat kwessies wat Mboweni se aandag op die ekonomiese front gaan verg, die land se trae ekonomiese groeikoers, hoë werkloosheidsyfer en ’n afplatting in die wêreldekonomie is.

Daarby kom sy grootste kopseer – die stand van die land se staatsbeheerde ondernemings, te wete Eskom, SAL en die SAUK.

Ontleders meen juis die politieke druk van vakbonde en sommige politieke partye Mboweni se taak bemoeilik omdat hulle vasskop teen afleggings en stappe wat deur privatisering gerugsteun kan word.

Maarten Ackerman, die hoofekonoom by Citadel, sê nog ’n probleem is dat die land waarskynlik ’n tekort op sy belastinginkomste sal hê juis omdat die ekonomie pap is en die land in die eerste helfte van 2018 in ’n tegniese resessie verkeer het.

Hy voorsien dat daar ’n begrotingstekort sal wees omdat die regering nie genoeg kostes besnoei het nie.

“Die fiskus gaan onder enorme druk wees,” het hy gesê.

Ackerman wys daarop dat Mboweni onder groot druk gaan wees om ’n begrotingstekort van onder 3% te bereik, wat kredietgraderingsmaatskappye na streef.

“Wat dit moeilik maak, is dat dit ’n verkiesingsjaar is en hy sal nie net belastings kan opstoot of drastiese aksie neem om die staatsdiens se loonrekening te sny nie.”

Ackerman sê steun vir SBO’s sonder enige beduidende en duidelike herstruktureringsplanne kan as krediet negatief beskou word.

President Cyril Ramaphosa het wel in sy staatsrede aangekondig dat Eskom in drie afsonderlike entiteite verdeel gaan word, maar daar is meer vrae – veral oor hoe die skuld aangepak gaan word. Eskom se skuld wat soos ’n meulsteen om die land se nek hang, beloop R420 miljard.

Eskom het juis verlede week vir vier dae beurtkrag toegepas weens sy finansiële verknorsing.

Ackerman wys daarop dat die land in die knyp is en geen fiskale stimulasie sal kan help nie.

Gaan Mboweni daarin slag om Moody’s Investor Services gelukkig te hou? Moody’s is die enigste kredietagentskap wat die land nog op ’n positiewe beleggingstatus het. Fitch en Standard & Poor’s Global het die land reeds vroeg verlede jaar afgegradeer.

Elize Kruger, ’n senior ekonoom by NKC Research, dink egter nie so nie.

“Moody’s kan ons op ’n negatiewe waak sit wat die weg kan baan vir ’n potensiële kredietafgradering later vanjaar.”

Sy sê wat die deurslag sal gee, is hoeveel steun daar aan Eskom gebied sal word. Moody’s sal op 29 Maart sy besluit oor Suid-Afrika bekend maak.

Kruger sê dat Eskom waarskynlik die spilpunt sal wees waarom die begroting sal draai.

“Mboweni sal waarskynlik die besonderhede en finansieringsmodel vir Eskom bekendmaak. Daar is ook die moontlikheid van ’n verdere reddingsboei om die sukkelende maatskappy te red,” het sy gesê.

Kruger wys daarop dat ander knelpunte die afwaartse aanpassing van BBP-projeksies sal wees, ’n moeilike wêreldekonomie en volgehoue onderprestasie met inkomstebelastingverhaling.

Sy voorspel ’n begrotingstekort van 4,4% vir 2019/20 teenoor die 4% vir 2018/19.

“Ekonomiese gegewens wat vir Desember uitgereik is, toon dat die ekonomie teen ’n slakkepas gegroei het. Ons voorspel dat die ekonomie in die vierde kwartaal teen 1,2% gegroei het teenoor die derde kwartaal se 2,2%,” het sy bygevoeg.

Volgens Kruger gaan dit ’n deurslaggewende week vir die ekonomie wees. En sy sê dit kan dalk net slegter gaan met kredietgraderingsmaatskappye wat die land met arendsoë dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.