Geen einde in sig vir goudmyn en vakbond se stryd

Foto ter illustrasie. (Foto: Sibanye-Stillwater)

Een van die min oorblywende Suid-Afrikaanse goudmyngroepe, Sibanye Stillwater, is in ʼn taai stryd met die Vereniging van Myn- en Konstruksiewerkersunie (AMCU) gewikkel.

Die land se grootste goudmyngroep, Anglogold Ashanti, oorweeg ook sterk om sy Suid-Afrikaanse bates te verkoop en sy notering na Londen of Montreal in Kanada te verskuif.

Die stryd gaan oor Sibanye se loonskikking met Solidariteit en die Nasionale Mynwerkersunie (NUM). Volgens arbeidswetgewing sou die meerderheid vakbonde ʼn loonskikking aanvaar, en moet die unies in die minderheid, ongeag hul ledetal, by die besluit inval.

Die houding van AMCU het hom tydens die Marikana-staking uitgespeel en sy botsings met die NUM het tot die slagting by Wonderkoppie gelei.

AMCU het minder as 50% lede by Sibanye se goudmyne. Die staking het in November begin en sy kerneis is ʼn verhoging van R1 000 per jaar oor die volgende drie jaar of ʼn minimumloon van R12 500 ʼn maand. Die staking is nou in sy 13de week.

In ʼn nuusvrystelling om aandeelhouers oor die staking in te lig, het Sibanye aangekondig dat die staking nie sy wins sal benadeel nie.

Volgens Sibanye, wat verlede jaar van Lonmin se platinumbates bekom het, het die platinumbates sterk tot die myngroep se wins bygedra. Daar word geraam dat die platinumbates sowat 80% van die groep se wins bydra.

AMCU het juis met sy staking by die Marikana-myn in 2013 tot Lonmin se finansiële ellendes bygedra. Dit het ook die land in ʼn tegniese resessie gedompel met sy vyf maande lange staking wat 44 lewens geëis het.

In sy verklaring het Sibanye bygevoeg dat hy weens die bydraes van sy platinumbates in Suid-Afrika en Amerika daarin kon slaag om die negatiewe effek van die staking by sy goudmyne af te skud.

AMCU meen egter dat die nuusvrystelling wat deur Sibanye uitgereik is, leuens is en het die maatskappy van arrogansie beskuldig.

Volgens Joseph Mathunjwa, AMCU se president, spog Sibanye met sy winste terwyl dit nie aan die vakbond se eise kan voldoen nie.

Mynkenners wys daarop dat AMCU nie ʼn saak het nie omdat die wins grootliks deur Sibanye se platinumbates aangehelp word. Die goudafdeling, ondanks die staking, slaan munt uit die stewiger goudprys en bestendige rand, maar ʼn wins in dié afdeling is nie moontlik nie.

Die vakbond het hom ook op ʼn ou taktiek beroep deur Neal Froneman, Sibanye se bestuurshoof, ook van uitbuiting te beskuldig. Gedurende die eerste helfte van verlede jaar het Sibanye met verskeie veiligheidskwessies gespook.

AMCU beskuldig Froneman dat hy kortpaadjies met veiligheid neem.

Sibanye het in sy verklaring aangekondig dat sy goudproduksie in Suid-Afrika ʼn aks laer sal wees as sy doelwit wat hy vroeër in die boekjaar uitgereik het.

Sibanye het verskeie stappe gedoen om verliese in die goudafdeling te beperk. Dit sluit, onder meer, die herontplooiing van werkers na gebiede waar aktief gemyn word en dienste soos verkoeling wat afgeskaal word, in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.