Gesoek: Nuwe baas vir Jan Taks

Argieffoto

Die land is ’n tree nader aan wanneer die nuwe hoof van die SA Inkomstediens (SAID) aangestel word. Die posisie het verlede jaar vakant geraak toe pres. Cyril Ramaphosa die destydse hoof Tom Moyane in die pad gesteek het.

Ondanks hofuitsprake, onder meer dié van die Grondwethof, is Monyane steeds in ’n stryd gewikkel om sy pos terug te kry. Sy naam het, behalwe by die Nugent-kommissie wat die verval by SAID ondersoek het, ook by die Zondo-kommissie na staatskaping opgeduik.

Dit was op aanbeveling van die Nugent-kommissie, wat verskeie ongerymdhede by die inkomstediens ondersoek het, dat Ramaphosa dringend by die organisasie ingegryp het.

Nugent het nog ander verreikende aanbevelings gemaak om die verval by SAID hok te slaan.

Onderhoude is die naweek met verskeie kandidate gevoer. Dit volg op die nasionale tesourie se aankondiging verlede Woensdag dat ’n paneel onder leiding van Trevor Manuel, oudminister van finansies, ’n aanbeveling oor ’n geskikte kandidaat sal maak.

Ander lede van die paneel sluit in, onder meer, regter Dennis Davis wat voorsitter van die belastingpaneel is wat knelpunte rakende belasting ondersoek en aanbevelinge daaroor maak.

Die ander lede van die paneel is Ismail Momoniat, die nasionale tesourie se adjunk- direkteur-generaal. Die sakevroue Angela Bester en Sindi Mabaso-Koyana was ook deel van die paneel tesame met advokaat Thandi Orleyn.

Volgens bespiegelinge het die kandidatelys vir Mark Kingon ingesluit. Kingon het die leisels by Moyane oorgeneem en is nou in sy derde termyn van drie maande waar hy as kommissaris waarneem.

Nog ’n sterk kandidaat is die ouditeur-generaal Terence Nombembe.

Ander kandidate sluit in lede van SAR se uitvoerende komitee te wete Hlengani Mathebula en Randall Carolissen.

Edward Kieswetter, ’n vorige SAID-hoë en vorige bestuurshoof van Alexander Forbes, is ook op die lys. Twee buiteperde kom ook uit SAID – Gene Ravele, ’n vorige hoof van wetstoepassing en Nathaniel Mabetwa.

Kingon, Carolissen en Mathebula het op SAID se uitvoerende komitee onder Moyane gedien. Ravele is egter deur Moyane uitgewerk nadat hy by die belastinggaarder die leisels oorgeneem het.

Die paneel sal ’n aanbeveling aan Ramaphosa maak. Gedurende sy staatsrede verlede week het Ramaphosa onderneem om die Nugent-kommissie se aanbevelings oor SAID in werking te stel.

Een van Nugent se aanbevelings was dat daar ’n inspekteur-generaal met ondersoekmagte by SAID aangestel moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LOL ·

As beroepswedder dink ek Kingon se kans is 100-1. Te wit, te slim en te eerlik.

Justice ·

Maak net vooraf seker dat hy nie `n spoed of parkeerkaartjie die afgelope 10 jaar gekry het nie en dat sy tolgelde op datum is voordat die aanstelling gedoen word. Die Publieke Beskermer het belangriker sake om na om te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.