Gideon Galloway gesels oor sy King Price-suksesse

Gideon Galloway.

Stigter het ’n eksklusiewe onderhoud met Gideon Galloway, stigter en uitvoerende hoof van King Price, gevoer om uit te vind wat die geheim agter King Price se sukses is.

Toe hy in 2012, met sy eie geld asook die hulp van vriende en familie R100 miljoen bymekaargeskraap het om die besigheid van die grond af te bring, het niemand in die industrie gedink dit gaan langer as drie maande hou nie. Agt jaar later is die maatskappy R5,2 miljard werd en groei meer as 35% jaar op jaar.

Met die intrapslag het King Price reeds oë laat rek toe Gideon dit duidelik gemaak het hy wil nie net nog ’n versekeringsmaatskappy op die been bring nie, sy droom met King Price is om ’n verskil te maak. King Price is die enigste versekeraar ter wêreld wat sy kliënte se motorpremies maandeliks verlaag soos die motor se waarde maandeliks verminder. Hoekom moet jy meer betaal wanneer jou kar se waarde elke maand verminder?

Na die aanvanklike befondsing, het Gideon na 42 verskillende instansies toe gegaan en vir verdere befondsing gevra. Uiteindelik het sy pad met dié van die Mergon-groep gekruis.

Die dae voor King Price

Kom ons gaan terug na waar alles begin het. Gideon is in Benoni gebore, het aan die Hoërskool Nelspruit gematrikuleer en daarna by die Universiteit van Pretoria sy graad in BSc: Rekenaarwetenskap aangepak. Nadat hy in sy eerste jaar slegs een vak deurgekom het, het hy besluit om van studierigting te verander.

“Ek het elke jaar my studierigting verander net sodat ek langer in die koshuis kon bly. Ek was meer lus om ’n besigheid te begin as om klas te loop,” sê Gideon. Vir ’n ekstra inkomste het Gideon webwerwe in sy koshuiskamer in Taaibos begin bou.

Die laaste studierigting wat hy aangepak het voor hy uiteindelik opgeskop het, was BIS: Multimedia en dis ook waar sy passie vir die advertensiewêreld ontwikkel het.

Om die pot aan die kook te hou het Gideon as ’n kelner begin werk en later by ’n ouditeursfirma vir ’n salaris van R1 700 per maand. Gedurende hierdie tyd het hy in sy vrye tyd die webwerf vir Douw Steyn se luukse Saxon Hotel gebou. Met die Saxon op sy CV het hy by die versekeringsmaatskappy Auto & General, wat deel is van die Telesure-groep, werk as ‘n programmeerder gekry.

Na die bywoning van ’n kerkkamp, het Gideon se lewe perspektief gekry en sy toekomsplanne het handomkeer verander.

“In my twintigs het ek my hart vir die Here op ’n kerkkamp gegee. Daarna het ek geweet ek wil besigheid doen en geld in die Koninkryk gooi,” vertel Gideon.

Eerste suksesse

Gideon Galloway.

Gideon het toe die soekenjin, funnel.co.za begin. “Die tegnologie was soortgelyk aan die van Google s’n, ek het dit in Letland gaan koop vir R1 miljoen. Ek het die geld maar geleen by mense wat ek geken het, asook by my pa en broer. Ek het Funnel twee jaar later aan Ananzi verkoop vir R2,3 miljoen,” sê Gideon.

Dit is toe dat die entrepreneursgogga byt en Gideon besluit om sy volgende maatskappy te begin, gebaseer op sy kennis in soekenjins. SA Best help maatskappye om eerste op Google se soekblaaie te verskyn. Die maatskappy is op die been gebring met ses werknemers en ’n inkomste van R8 000 per maand. Binne twee jaar het die maatskappy se inkomste tot R8 miljoen ‘n maand gegroei.

“Ek het besluit ek moet nog baie van die besigheidswêreld leer. Dit het alles baie vinnig gebeur. Ek was op 23-jarige ouderdom nog ’n kelner, toe op 27 is ek as bemarkingbestuurder by Telesure aangestel. Tussenin het ek ’n paar besighede besit en teen 28 het ek op Telesure se raad gedien. Ek is baie geseën.”

By Telesure was Gideon ook deel van die groep wat die finansiëledienstesoekenjin Hippo begin het.

Die begin van King Price

“By Telesure het my loopbaan goed gegroei en hulle het vir my aandele aangebied, maar ek het besluit om dit van die hand te wys en King Price te begin. Ek het gaan sit en begin bid. Ek het gevoel ek moet aanhou hardloop tot ek gevaartekens sien,” sê Gideon.

Twee groot keerpunte vir King Price was die versekeringslisensie wat hulle gekry het, asook die Mergon-groep se belegging in Gideon se droom.

Die Mergon-groep het ’n 51%-aandeel in King Price gekoop. Nie lank daarna nie het die wêreld se grootste herversekeraar, Munich RE, ook ‘n 15%-aandeel gekoop.

Tegnologie en terugslae

King Price se begindae was nie sonder drama nie. Met die bedieners wat sy motorhuis vol staan en sy beperkte rekenaarkennis, het Gideon en ’n paar vriende self die rekenaarstelsel gebou.

Dié stelsel is vir twee jaar gebruik maar was 20% van die tyd van lyn af. “Toe ons besluit om ’n nuwe sisteem te implementeer, het ons seker R80 miljoen se premies nie ingevorder nie. Ons het reeds R200 miljoen belê in die nuwe sisteem en moes weer soveel kapitaal instoot. Ons het 20 000 kliënte in drie maande verloor met die oorgang van die stelsel en het baie aande opsygesit om net op sigblaaie hersiening te doen,” vertel Gideon.

Die nuwe stelsel is daarna geïmplementeer, maar dis nie sommer net ’n gewone stelsel nie. King Price se rekenaarstelsel funksioneer soos geen ander in die versekeringsbedryf nie en is vandag een van die maatskappy se mees kompeterende voordele.

Die stelsel laat hulle toe om regstreekse data te ontvang. Die data is akkuraat tot op die minuut in terme van polisse of premies wat geskryf word, of selfs waarmee agente besig is. “Die probleem is, besluitneming het te lank gevat, as daar nou nie genoeg ouens is wat die fone antwoord nie, kan ek dit sien en regmaak,” sê Gideon.

King Price se stelsel laat die maatskappy toe om baie buigbaar te wees. Toe kliënte tydens die inperking gevra het of hulle minder vir hul versekering kan betaal omdat hulle soveel minder bestuur, het Gideon en sy span dadelik aan die werk gespring en die betaal-per-kilometer-produk, chilli, binne ses weke bekend gestel. Met chilli kan kliënte tot en met 70% op hul motorversekering spaar.

Die maatskappy se analitiese vermoë is onoortreflik danksy die AI-bot wat deur King Price self gebou is. Die robot stel King Price in staat om kliënte binne sekondes te laat weet of hul selfooneis goedgekeur is. Die robot stel hulle ook in staat om binne minute besluite te neem met betrekking tot motoreise.

Groei en toekomsplanne

Gideon Galloway.

King Price wou nog altyd hul vlerke na ander lande versprei. Hul doelwit is om binne die volgende vyf jaar in 10 lande gevestig te wees. Volgens Gideon doen hulle versigtig besigheid en hul houding is beslis nie dat hulle alles weet van versekering nie, daarom dat hulle met vennote in die buiteland werk.

Deel van hierdie strategie is King Price se minderheidsbelegging in Basileia Holdings wat onlangs ‘n aanlyn versekeringsmaatskappy in Denemarke bekom het. Die plan is om Europa van daar af te loods.

King Price Namibië het vyf jaar gelede sy deure oopgemaak. Tot dusver is daar reeds meer as 10 000 gelukkige kliënte wat baat vind by King Price se poging om ’n verskil te maak in mense se lewens.

King Price bied ’n hele reeks opwindende produkte vir klein besighede aan, onder andere kuberversekering om besighede te beskerm teen kuberaanvalle.

Oesversekering vir boere is ook iets waarin King Price nou spesialiseer, wat histories te duur was vir versekeringsmaatskappye om vol te hou. Kyk uit vir die bekendstelling van die agriversekeringsproduk ‘pay as you farm’ wat boere se premies aansienlik gaan verlaag gedurende die maande wat hul masjinerie nie gebruik word nie.

King Price gaan ook binnekort die lewensversekeringsveld betree en Gideon meen dat dié industrie op sy kop gedraai gaan word. Die plan? Om lewensversekering maklik te maak om te verstaan en te koop.

Toekoms van Suid-Afrika en emigrasie

Gideon is van mening dat ’n mens positief realisties moet wees. “Ek is positief en bekommerd oor Suid-Afrika. Ek sal nie emigreer nie, maar ek dink jy moet ’n plan B hê. Waar risiko is, is beloning. Daar is baie geleenthede en genoeg kapitaal, vertrou my, as jy ’n goeie plan het en die koek reg opdeel, is daar geld.”

Aanhalings van Gideon wat entrepreneurs kan help

“As jy ’n besigheid begin, prop jy die drukker ook in, maar jy moet ook droom van die toekoms om seker te maak daar is groei.”

“Mense kies die goedkoopste prys vir die handelsnaam wat hulle vertrou.”

“Ek doen beplanning op Sondagaande en berei dan al my voorleggings voor. Ek hou daarvan om rustig te wees oor wat die week voorlê.”

Al werk Gideon baie en slaap hy min, maak hy steeds tyd vir vriende en familie. “Ek rig my lewe in om spontane besluite te kan neem”.

“As jy ’n entrepreneur is maak jy vrede daarmee dat jy heeltyd werk, maar ek beplan my vakansies lank vooruit en het nie e-pos op my selfoon nie.”

“As ek beplan, beplan ek minstens vyf na tien jaar vooruit.”

“Een van my vennote het vyf boeke binne ’n week gelees, en ek het slegs gelees wat hy voorgestel het.” Boeke wat Gideon voorstel is Dale Carnegie se boeke, How To Win Friends And Influence People en How To Stop Worrying And Start Living. Verder stel hy ook Tim Ferriss se boek, 4-Hour Workweek, voor.

“Ek staan nog altyd 4:30 op, gaan oefen, hou stiltetyd en begin 6:00 werk. Ek het die eerste paar jaar net twee ure ’n aand geslaap, maar toe King Price dit begin maak, het ek meer begin slaap. Vyf ure se slaap is nou vir my genoeg.”

“Entrepreneurs wat beleggings soek, wil altyd te veel hou, hulle voel geregtig daarop omdat dit hulle idee is. Maar dit is baie beter om vennote te hê. As jy dit op jou eie wil doen, kry dan jou eie geld.”

  • Stigter is ’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ‘n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter e-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ralph

Knap gedaan. Respek bo alles anders

Chantel

Ons is ook by King Price het nog net goeie flikke diens ontvang. Enigste versekeraar wat ons fietse kon verseker vir wat hulle waarde is.

Eden

Altyd lekker om regte entrepreneurs se stories te lees.