Glencore bereid om te getuig voor Zondo-kommissie

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, hoof van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (20 Augustus 2018). Foto: Karen Sandison/ANA

Suid-Afrikaners kan hulle daarop voorberei dat Eskom in 2019 steeds in die nuus gaan wees – nie net in verband met die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek nie, maar ook in die raadsale.

Die hulpbrongroep Glencore het aangedui dat hy bereid is om voor die Zondo-kommissie te getuig oor sy ondervinding oor hoe die omstrede Optimum-steenkoolmyn in die Guptas se beheer beland het.

Sy bestuurshoof, Ivan Glasenberg, het te kenne gegee dat die maatskappy sy samewerking aan die Zondo-kommissie sal gee.

Volgens die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, wat die verslag oor staatskaping saamgestel het, is daar baie toutjies in die agtergrond getrek om die Optimum-myn aan die Guptas te besorg. Boonop het die verslag regeringsbetrokkenheid uitgewys as ʼn poging om die Guptas te help.

Dit blyk ook dat volgens die verslag die Optimum-steenkoolmyn ʼn sleutelkwessie was vir die Guptas om hul staatskapingprojek voort te sit. Jacob Zuma, die voormalige president, het die Guptas as sy vriende beskryf.

Dit is juis Madonsela se bevindings rondom die Optimum-steenkoolmyn wat tot die Zondo-kommissie gelei het. Die verslag het bevind dat die vorige minister van minerale hulpbronne, Mosebenzi Zwane, ook aktief ʼn rol gespeel het sodat die Guptas die myn kon verkry.

Zuma is ook in die verslag as ʼn party tot staatskaping genoem. Dit is juis waarom Madonsela in haar aanbevelings gevra het dat hoofregter Mogoeng Mogoeng die kommissie moes aanstel en nie Zuma nie, soos deur die Grondwet voorgeskryf word.

Argieffoto: GCIS

Die Suid-Afrikaans gebore Glasenberg het verlede week aangedui Glencore, een van die wêreld se grootse hulpbronmaatskappye, is bereid om voor die kommissie te getuig juis oor sy ervaring oor wat met die Optimum-myn gebeur het.

Glasenberg het bygevoeg dat die maatskappy nou op die kommissie wag om hom te nooi sodat hy getuienis kan lewer.

Die voorsitter van die kommissie, Raymond Zondo, het gevra dat mense wat wil getuig oor staatskaping na vore moet kom en die kommissie nader.

Zwane se voorganger, adv. Ngaoko Ramathlodi, het juis verlede week voor die kommissie getuig hoe hy uit die portefeulje verwyder is omdat die destydse Eskom-voorsitter, dr. Ben Ngubane, daarop aangedring het. Madonsela se verslag het ook vingers na Ngubane gewys.

Intussen beoog Eskom om die regering te versoek om R100 miljard van die skuld op sy balansstaat op te neem.

Dit is deel van die elektrisiteitsvoorsiener se planne om die maatskappy om te draai. Volgens kenners kan dit verligting aan Eskom bied, maar sal dit die regering se skuldlas met nog ʼn verdere 2% van skuld-tot-BBP verhoog. Dit kan graderingsmaatskappye laat frons. Dit kan ook as krediet-negatief beskou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.