Goedkoop sementinvoere kniehalter plaaslike bedryf

Morag Evans van Databuild het haar kommer oor die plaaslike sementbedryf uitgespreek. Foto: Verskaf.

Goedkoop sementprodukte van lande soos China, Viëtnam en Pakistan is besig om plaaslike sementvervaardigers te ondermyn. Die regering se versuim om die toestroming van hierdie produkte te stuit, kan ʼn ernstige en nadelige uitwerking op ʼn reeds sukkelende bedryf hê.

Dit is die mening van Morag Evans, uitvoerende hoof van Databuild. Databuild is ʼn kennissentrum vir die konstruksie- en verwante bedrywe.

“In ʼn bedryf wat reeds met die afname in infrastruktuurontwikkeling stoei, beïnvloed hierdie invoere nie net die mededingendheid van ons plaaslike vervaardigers nie, maar studies het ook getoon die gehalte van hierdie internasionale produkte is minderwaardig.”

Evans verwys na ʼn onlangse ondersoek wat PPC Sement gedoen het, waarin die vervaardiger verskeie oortredings van regulasies vir sementgehalte aan die lig gebring het.

“Volgens die verslag is 14 produkte van tien verskillende produsente getoets. Die meeste van hierdie produkte was óf onder- óf oorgewig en boonop was die gehalte nie deurgaans konstant nie. Dit is onaanvaarbaar dat minderwaardige produkte in die mark verkoop word omdat die langtermyngevolge vir gesondheid, veiligheid en die omgewing ernstig kan wees.

“Die regering moet dit dringend oorweeg om strenger sementstandaarde op te stel, terwyl sementprodusente moet aanhou om gebruikers op te voed oor die belangrikheid daarvan om sement te gebruik wat gesertifiseerd is en aan alle tegniese regulasies voldoen.”

Databuild meen ‘n invoertarief kan help om die Suid-Afrikaanse sementbedryf te beskerm. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Evans meen ook die Betoninstituut se versoek dat die regering ʼn invoertarief van 45% op sementinvoere instel, kan klaar help om plaaslike vervaardigers teen goedkoop invoere te beskerm.

“Tariefbeperkings het in die verlede gewerk. Die invoere van Pakistan het in 2016 gedaal na die implementering van ʼn invoerbelasting van tussen 17% en 70% in 2015.”

Sy gee toe dat die risiko verbonde aan so ʼn stap is dat dit kan lei tot ʼn styging in die prys van sement wat uiteindelik inflasie kan verhoog en nie die ekonomiese groei van die land sal help nie.

“Suid-Afrika het talle sementproduserende aanlegte wat met die plaaslike aanvraag kan tred hou en selfs meer as dit kan voorsien. Die regering moet daarom werk om hierdie bates te beskerm deur die vervaardigers te help om hul uitvoersyfer te verhoog, maar met 158 van die 195 lande in die wêreld wat sement vervaardig, kan dit ʼn uitdaging wees.

Sy meen egter dit is belangrik om minstens ʼn poging aan te wend omdat Suid-Afrika se werkloosheidsyfer hoog is. “Die land kan nie die ondergang van ʼn bedryf bekostig wat onontbeerlik vir ons ekonomiese ontwikkeling is nie en boonop vir duisende Suid-Afrikaners kan werk bied.

“Die regering moet die speelveld vir ons plaaslike sementprodusente gelyk maak sodat hulle op uitbreiding kan fokus, eerder as om te sukkel om te oorleef,” het Evans gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

johan ·

Wat is fout met kompetisie dit wys mos dat ons te veel betaal by huidige vervaardigers ,die redes is seker maar debatteer baar maar ek as verbruiker sien niks fout om appels met appels te vergelyk en dan die goedkoopste produk te kies nie.

Wielspore ·

Die wins marge op plaaslike produkte is net te hoog, daar is net te veel skakels in die ketting voor die produk by die verbruiker uitkom en elke skakel verhoog die prys.
Dit kos byvoorbeeld R50 om die produk te vervaardig en te verpak (die vervaardiger het klaar sy wins gemaak), teen die tyd dat die produk by die kleinhandelaar uitkom is sy kosprys R100, dan word die produk se prys aangepas vir die verbruiker en die prys word met 200% gelaai. Die verbruiker betaal dan R300 vir ‘n produk wat R50 gekos het om te vervaardig. Watse waarde aan die produk het die bykomende R250 toegevoeg, niks, absoluut niks. Daardie geld gaan net so na die tussengangers toe wat niks waarde aan die produk toegevoeg het. Ek suig nie die inligting uit my duim, familie lid werk by ‘n bekende kleinhandel klere winkel en hoofkantoor bepaal die prys van die produk. Met ‘n wins van 30 miljoen per jaar by sy tak, kry die bestuurder ‘n salaris van R12 000 pm. Waar gaan die gross van die geld heen.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Oud Rhodie

Dankie, die berrig is nou gewysig.

Groetnis,
Esté Meyer Jansen namens Maroela Media

Martin ·

Dieselfde ou probleem soos by alle groot maatskappye, A. A. en BEEE. Groot sallarisse vir bestuur en onder die tafel tenders sodat groot geld betaal word vir vriende en familie. Dan raak die produkte te duur. Dus die akternatief, goedkoper invoer. Buiteland en top bestuur raak ryk.

Zettie ·

As ek dit goedkoper kan kry en die kwaliteit is goed, gee ek glad nie om om die “made in china” produkte te gebruik nie. Daar word gesê “buy local” en “koop plaaslik”, maar hel……plaaslik is net té duur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.