Goeie nuus vir Anglo American se aandeelhouers

anglo-american-platinum

Foto: ANA.

Die diverse myngroep Anglo American het aangekondig dat hy vir die boekjaar tot einde Desember ’n wins voor belasting van $4,37 miljard behaal het. Dit was stewiger as die $4,06 miljard van die vorige jaar.

Onder Anglo se Suid-Afrikaanse bates sluit in Anglo Platinum, Kumba Iron Ore en sy steenkoolmyne.

Anglo was vir jare ’n staatmaker vir die Suid-Afrikaanse ekonomie voordat hy hom in Londen noteer het om sy vlerke wêreldwyd te versprei. Sy prima notering is in Londen. Sy sekondêre notering in Johannesburg.

Een van die maatskappy se prestasies is dat hy ’n skuldlas van $10 miljard die afgelope drie jaar kon verminder. Dit was in reaksie op ’n uitvoerende raadsbesluit om met kleiner, maar produktiewe bates te werk wat koper, diamante, platinum en ystererts insluit.

Die maatskappy maak hom ook gereed om geld op sy Quellaveco-koperprojek in Peru te bestee. Anglo het $500 miljoen bestee om die projek van die Japanse maatskappy Mitsubishi te bekom.

Anglo voorsien dat hy nagenoeg $1,5 miljard op die projek in die huidige boekjaar sal spandeer.

Vir aandeelhouers was daar positiewe nuus deurdat sy netto skuld met 37% tot $2,8 miljard gedaal het.

Anglo het ’n dividend van 51 Amerikaanse sent verklaar. Saam met sy tussentydse dividend het die uitkering per aandeel een dollar beloop.

Tiger Brands steeds op koers

Die voedselmaatskappy Tiger Brands sê hy is op koers om in die huidige boekjaar weer winsgewend te wees. Die maatskappy het ’n opgawe gegee van hoe hy in die vier maande tot einde Januarie gevaar het.

Die maatskappy se uitslae is ’n jaar gelede deur die listeriosekrisis by sy Enterprise-vleisafdeling in Polokwane en Germiston gestrem.

Tiger Brands sê dat hy, net soos ander rolspelers in die kosbedryf, nie hoër insetkostes na verbruikers kon deurgee nie. Volgens die maatskappy was handelstoestande nog steeds bedruk. Hy voorspel dat dié handeltoestande nog vir ’n wyle sal heers.

Die handelsname wat onder Tiger Brands val, sluit in Purity-babakos, Albany-brood, Tastic, Koo, All Gold en Jelly Tots.

Die maatskappy wys daarop dat behalwe sy sorghumprodukte, rys, meel en pasta, het al sy kategorieë prysinflasie reflekteer.

“Prysstygings was nie beduidend om kostes ten volle te verhaal nie,” het die maatskappy bygevoeg.

Die maatskappy sê hy verwag ook nie dat verbruikersbesteding binnekort sal herstel nie.

Die groep se omset van voortgesete operasies het gedurende die periode met een persent gestyg.

Behalwe die vleisverwerking wat ná die listeriosekrisis in herstel is, sê die maatskappy dat die groep se omset met 8% gestyg het indien die vleisproduksie uitgesluit is. Dit was danksy die prysinflasie.

Tiger Brands sê die herstel van die vleisproduksiegeriewe ná die listeriosekrisis was tydsaam en het hul eie uitdagings gebied.

Die maatskappy sê ofskoon toestemming vir ’n klasaksiehofsaak teen hom goedgekeur is, het hy nog nie enige dagvaardings ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.