Die reaksie is eenstemmig dat Suid-Afrika ’n blaaskans gekry het nadat Standard & Poor’s (S&P) Global sy kredietgradering vir die land onveranderd gelaat het. Die graderingsagentskap het die land se vooruitsig as stabiel beskryf.
Die graderingsmaatskappy het sy besluit Vrydag bekendgemaak. Dit het ook gestrook met markverwagtinge.
S&P tesame met Fitch, het die land op rommelstatus. Indien S&P die land verder afgradeer het, sou die land se rentelas op sy buitelandse skuld verder gestyg het.
Die maatskappy het die rand-gedomineerde skuldgradering op BB+ behou, terwyl die buitelandse valutagradering op BB is, wat twee vlakke laer as beleggingsgradering is.
Dit het bygevoeg dat die land se trae ekonomiese groeikoers steeds ’n probleem bly en het sy kommer uitgespreek oor die hoë voorsiening vir skuld wat die land se fiskale vooruitsigte kan kou.
Die skuldvoorsiening hou verband met die waarborge wat die regering aan staatsbeheerde ondernemings voorsien om hulle aan die gang te hou. Voor in die tou is Eskom, SAL, SA Express, die SAUK en Denel.
S&P het bygevoeg dat die regering tans besig is om maatreëls in te stel wat die ekonomie vanaf volgende jaar kan rugsteun. Maar hy het kommer uitgespreek oor strukturele struikelblokke, ’n kroniese tekort aan geskoolde arbeid en kundigheid en ook hoë werkloosheid.
Die maatskappy het voorts gesê die regering het ná die mediumtermynbegrotingsraamwerk die regte seine begin uitstuur, maar risiko’s was nog steeds tasbaar.
S&P het voorts daarop gewys dat die beleggings- en die werkskeppingsberade ’n stap in die regte rigting was. Dit het egter kommer uitgespreek oor die uitstel van die fiskale konsolidasie en ’n gebrek aan duidelikheid oor die onteiening van grond.
Oor die grondkwessie sê S&P dat dit nie ’n beduidende invloed op buitelandse belegging sal hê nie, ofskoon daar maatskappye sal wees wat dit met kommer sal bejeën en hul beleggings hier sal heroorweeg.
Beide Fitch en Moody’s moet nog hul jongste graderings vir Suid-Afrika bekendmaak.
Moody’s moes in Oktober sy gradering uitreik. Dit is egter uitgestel. Die maatskappy het egter ’n negatiewe verklaring oor die land uitgereik.
Intussen sê Elize Kruger, ’n senior ekonoom by NKC Research, dat S&P vir Suid-Afrika voordeel bo die twyfel gegee het met sy graderingsbesluit. Sy wys daarop dat dit veral die programme wat van stapel gestuur is, soos die beleggings- en werkskeppingberade, wat die graderingsagentskap oortuig het al sal dit eers ʼn periode neem voor dit dividende uitkeer.
Die Nasionale Tesourie sê die besluit sal die land die geleentheid gee om verdere maatreëls In te stel om die ekonomie reg te ruk. Dit sluit in die aanwend van openbare besteding en die skep van die infrastruktuurfonds om die ekonomie op ’n groeipad te plaas.
Kruger wys daarop dat die land ’n reeks maatreëls gaan instel, insluitend ekonomiese, maatskaplike en fiskale hervorming wat daarop gemik is om die land se ekonomiese groeikoers op ’n groeiende trajek te plaas.
Ons gaan bloei met die grond kwesie.