Grand Parade wil op Burger King fokus

Argieffoto.

Die genoteerde maatskappy Grand Parade Investments sê dat sy paadjies met Dunkin Donuts en die roomysverkoper Baskin-Robbins binne die volgende drie weke gaan skei.

Grand Parade het Vrydag kennis aan aandeelhouers gegee dat hy voorts net op sy belegging in Burger King en sy dobbelbelange gaan fokus. Soos Burger King, is Dunkin Donuts en Baskin-Robbins Amerikaanse maatskappye.

Volgens die reëls van die Johannesburgse Effektebeurs (JE) het Grand Parade aangekondig dat hy sy franchise-ooreenkoms met die twee maatskappye gaan beëindig.

Die ooreenkoms is in 2016 onderteken. Ontleders sê plaaslike verbruikers is veral verlede jaar hard geslaan en verbruiksbesteding het gekrimp.

Die vraag na die uitsoekhandelsname het egter ook nie stukrag gekry nie.

Grand Parade was verlede jaar in ’n twis oor sy strategie wat ’n opstand van minderheidsaandeelhouers verseker het. Dit blyk dat minderhede die ronde gewen het sodat Grand Parade hom kan toespits op bedryfsoperasies wat winsgewend is.

Dunkin Donuts het elf winkels gehad wat gedurende die jaar tot einde Junie 2018 ’n verlies van R24,9 miljoen bereik het. Baskin-Robbins se verlies vir dieselfde tydperk het R18,6 miljoen beloop.

Comair wen veld

Aandele in die genoteerde lugredery Comair het Vrydag sterk veld gewen nadat die maatskappy R1 miljard toegeken is ná sy stryd van 15 jaar teen SAL oor onmededingende praktyke. Die aandeelprys het teen R6,25 gesluit.

Die R1 miljard is bykans die helfte van Comair se markkapitalisasie. Die markkapitalisasie is die aantal uitgereikte aandele en die waarde waarteen dit verhandel.

Comair bedryf British Airways in Suid-Afrika en kulula.com.

Die hofstryd wat Comair aanhangig gemaak het, spruit uit SAL se onmededingende praktyke tussen 1999 en 2005. SAL het ’n finale ooreenkoms met Comair bekragtig. Die regsgeding is in 2006 aanhangig gemaak.

Ontleders sê juis omdat SAL nie winsgewend is nie, dit waarskynlik die belastingbetaler sal wees wat die kostes sal moet opdok.

Staking raak Dischem

’n Staking deur die National Union of Public Service and Allied Workers (Nupsaw) het bygedra dat die skoonheids- en aptekerskleinhandelgroep Dis-Chem vir die 22 weke tot 2 Februarie ʼn omset van R9,4 miljard behaal het. Die groei was 10,7%, maar Dis-Chem sê die staking wat in November begin het, reeds R50 miljoen gekos het.

Die groep sê 2 500 uit sy arbeidsmag van 15 000 steun die staking. Dit is veral sy vier verspreidingsentrums wat deur die staking geraak is. Dis-Chem sê die effek van die staking was veel erger as wat hulle aanvanklik gedink het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JH ·

Burger King se werkers kan darm n burger bou, Wimpy kan mos nie die bun, patty, bun doen nie

GM ·

Ek het nog nie ‘n slegte burger daar geëet nie. Met McD’s en KFC is dit altyd ‘n gamble. Dis net jammer Burger King se roomysmasjien werk nooit nie, en hul belowe die kinders gratis roomyse as hul kiddie meals bestel.

Wanda ·

Burger King se hamburgers is die lekkerste ooit.En hulle strawberry milkshake,niemand kan dit beter maak nie mmmm

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.