Groot prysverlaging vir brandstof is moontlik

Foto: Brett_Hondow/Pixabay.com

Boere kan die wenners in volgende maande se brandstofprysverlagings wees, terwyl beide verbruikers- en produksie-inflasie kan krimp. Dit is die mening van twee van die land se voorste ekonome.

Ekonome verwag ’n groter prysverlaging as wat daar tot nou gespekuleer is en dat dit inflasie laer kan dwing. Dit is juis ’n voorwaarde wat die Internasionale Monetêre Fonds in sy jongste oorsig gestel het.

Dit is ’n gemiddelde verbruikersinflasiekoers van 4,5%.

Mike Schüssler, die hoofekonoom by economists.co.za, reken die weg is gebaan sodat Suid-Afrika sy grootste verlaging ooit in brandstofpryse sal kry. Die verwagte verlaging word op die eerste Woensdag in Desember verwag.

Schüssler skryf dit toe aan die stewiger randwisselkoers wat deur die R13,90-vlak teenoor die Amerikaanse dollar gebreek het en die steeds tuimelende ruoliepryse.

Hy sê alle 95 graad-oktaan kan met R1,70 per liter daal, terwyl diesel met R1,33 per liter kan verswak. Hy sê sou die rand voortgaan met sy daling, kan ’n prysverlaging van R1,80 op petrol in sig wees.

Hy het voorts gesê teen dieselfde trant kan diesel dan teen ongeveer R1,50 per liter daal.

Schüssler meen ook dat die brandstofprysverlagings genoeg is om motoriste se sowat R2 miljard skuld by die sentrale energiefonds uit te wis nadat dié fonds sommige brandstofprysverhogings vroeër die jaar geabsorbeer het. Hy het die hoop uitgespreek dat daar nie verdere politieke inmenging sal wees met die brandstofprys nie.

Intussen sê Dawie Maree, ’n ekonoom by First National Bank (FNB), dat ’n groot daling in Desember te wagte is. Hy wys daarop dat die wisselkoers en ruoliepryse in gunstige rigtings beweeg het om tot die daling te lei.

Maree het opgemerk dat dié rand verbruikersvertroue ’n hupstoot kan gee en mense sal toelaat om meer en verder dié vakansie te reis.

Hy het bygevoeg dat die laer ruoliepryse en stewiger rand verder as laer brandstofpryse gaan strek.

Volgens Maree gaan ander produkte, soos kunsmis en chemikalieë, wat neweprodukte van die vervaardiging van die brandstofproses is, ook geraak word.

“Die verandering in pryse van ruolie het dus ’n direkte impak op hierdie produkte. En die stewiger rand help om pryse af te bring,” het hy gesê.

Volgens Maree kan boere dit dus twee keer gelukkig slaan met ’n daling in brandstofpryse en in neweproduktepryse.

“Ek voorsien dat dit ’n positiewe impak op inflasie sal hê. Dit kan tot ’n laer gemiddelde inflasiekoes vir die jaar lei,” het Maree gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nadia ·

Mooi man… niemand sal kwaad wees as julle dit afrond tot R2 nie hehe…

koos ·

Petrol af, rentekoers op. Gee met een hand, vat met die ander!

Andre ·

Dit kan werk vir my ,laer brandstof prys en geen rente skuld by my nie

Mario ·

Kan iemand verduidelik hoe diesel pryse werk? As die olieprys styg, lyk dit asof diesel meer as petrol styg. As olie daal, daal petrol meer as diesel.

Peter Holmes ·

Moenie te gou bly word nie. Saudi Arabia geen Desember 1 miljoen vate olie minder produseer.

H.A. ·

Ai, alweer goedkoop petrol, is moeg dat my kar op ‘cheapies’ moet ry…

Hennie ·

Die olie prys verlaag/val met 35% plus die rand verhandel sterker maar ons kan dalk net R1.70 (10%) goedkoper betaal?

Martin ·

Dit is gewoonlik n slenter die tyd van die jaar. Brandstof pryse af oor die feestyd net om in die nuwe jaar te hoor daar was n onderverhaling en dit weer aan te pas om die verbruiker verder in die knou te plaas. Ai tog!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.