Grootste logistieke sentrum in Afrika geopen

Bouwerk aan DSV Park Gauteng het in 2019 afgeskop. (Foto: DSV)

Die wêreldwye vervoer-en-logistiekgroep DSV het onlangs die kontinent se grootste geïntegreerde logistieke sentrum op die drumpel van die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park geopen.

Keith Pienaar, uitvoerende hoof van DSV Afrika, het tydens die virtuele inhuldiging gesê DSV Park Gauteng beklemtoon die groep se verbintenis tot Suid-Afrika en die strewe om as sleutelspeler sake in die streek ’n stewige hupstoot te gee.

DSV, wat as ’n klein onderneming in 1976 in Denemarke op die been gebring is toe tien vragmotoreienaars besluit het om hande te vat, doen vandag sake in meer as 90 lande, beskik oor 1 300 kantore en logistieke geriewe, en het sowat 75 000 werknemers in diens.

“Met DSV Park Gauteng het DSV ’n moderne logistieke sentrum, die grootste in Afrika, ontwikkel wat die wese van ons konsolidasiestrategie bevestig om groter en doeltreffender geriewe te skep,” het Brian Almind Winther, uitvoerende visepresident en eiendomsgroephoof, gesê.

Die uitgestrekte DSV-sentrum, geleë langs die R21 naby die Serengeti-gholflandgoed, huisves ’n logistieke pakhuis van 79 000 m², ’n kruisaanleg van 41 000 m² en kantoorruimte van 10 000 m². Die meer as 2 000 werknemers en innoverende sorteeroplossings verseker dat 13 000 pakkies per uur hanteer kan word.

DSV Park Gauteng is die grootste geïntegreerde logistieke sentrum in Afrika en beslaan sowat 390 286 m2, oftewel dieselfde grootte as 38 rugbyvelde. (Foto: DSV)

Volgens die groep is innovering, volhoubaarheid en werknemerveiligheid die goue draad wat deur die geboue strek. Die inwerkingstelling van biometrie, sonkrag, deurskynende dakpanele, herwinningstasies, LED-bewegingsbeligting, boorgate en waterfiltreringstelsels verseker dat die kompleks in lyn is met DSV se strategie vir volhoubare sake, wat die uitwerking op die omgewing drasties verminder.

Hernieubare energie van altesaam 1 000 kW word deur ’n sonkragstelsel opgewek, wat voldoen aan die basiese elektrisiteitsbehoeftes van DSV Park Gauteng, wat sowat twee jaar geneem het om te voltooi.

DSV Park Gauteng beslaan ’n grondoppervlakte van 390 286 m2, oftewel dieselfde grootte as 38 rugbyvelde. Meer as 3 800 ton staal en 60 000 m3 se beton is in die konstruksie gebruik, en die omheining rondom die reusekompleks strek oor 6,3 km. Meer as 300 swembaddens van Olimpiese grootte kan in die enorme pakhuis pas en sowat 700 000 m3 grond is gedurende die bouproses verskuif.

DSV Park Cape Town, die nuutste toevoeging tot die groep se pakhuisportefeulje, sal aansienlik kleiner as sy Gautengse eweknie wees. Dié sentrum, wat 750 werknemers sal huisves, word tussen die Kaapstad Internasionale Lughawe en die N2 opgerig.

Kyk die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.