Growthpoint se SA portefeulje sal nie beduidend groei

Die stand van Suid-Afrika se trae ekonomie het weer eens in die soeklig gekom nadat die eiendomsreus Growthpoint sy uitslae vir die tussentydse periode tot einde Desember uitgereik het.

Die groep het ook gewaarsku dat sy eiendomme in sy Suid-Afrikaanse portefeulje in die 2019-boekjaar nie beduidend sal groei nie. Dit sê die eiendomsmark se onderliggende toestande bly swak.

Growthpoint sê sy wins voor belasting was R4,3 miljard rand. Die vorige jare is dit tot R6,6 miljard aangepas. Binne die eiendomsgroep se Suid-Afrikaanse portefeulje is die V&A Waterfront in Kaapstad waarin hy ’n 50%-belang het.

Wesensverdienste het 81,77 sent per aandeel beloop teenoor die 101,04 die vorige jaar. Die groep sê sy buitelandse beleggings wat in Australië en Oos-Europa is, asook die belegging in die V&A Waterfront, sal sy verdienste vir die volle boekjaar onderskraag.

Volgens die maatskappy het hy 447 eiendomme in Suid-Afrika wat hy direk besit. Dit word op R77,2 miljard geraam. Growthpoint besit 59 eiendomme in Australië wat op R38,3 miljard waardeer word.

Dobbeldryf toon groei ondanks plaaslike ekonomie

Die hotel en casino-groep Sun International sê hy het groei in die dobbelbedryf behaal in die jaar tot Desember ondanks die styging in belasting op toegevoede waarde (BTW) en die swakheid van die plaaslike ekonomie.

Die groep het ’n handelsoorsig uitgereik ter voorbereiding van die uitreiking van sy uitslae. Hy sê Sun Slots het goed vertoon. Time Square in Pretoria wat in April verlede jaar in bedryf geneem is, het sy markaandeel in die Gautengse dobbelbedryf vergroot.

Die groep sê sy Sun City-oord in Noordwes – wat lank die land se voorste casino-oord was – se uitslae was swakker as wat verwag is. Sun International skryf dit toe aan die huidige ekonomiese klimaat en die kansellasie van ’n verskeidenheid groot konferensies.

Die groep is egter positief oor Sun City se vooruitsigte en verwag dat sake sal verbeter. Hy skryf dit toe aan ’n verbetering in vooruitbesprekings.

Die groep het ook gedurende die periode daarin geslaag om sy skuldlas te verminder. Dit het van R15 miljard tot R14,7 miljard gedaal.

Hy sê sy operasies in Suid-Amerika met Monticello in Chili, het sterk herstel.

Sun International sê hy verwag dat sy wesensverdienste per aandeel vir die boekjaar tot Desember tussen R1,90 en R2,25 sal beloop. In die vorige jaar het hy ’n verlies van R1 per aandeel aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.