Hoër mieliepryse kan inflasie opstoot

landbou-mielies-pexels

Foto: Pexels/Pixabay.com

Vooruitsigte vir Suid-Afrika se mielie-oes is deur die hittetoestande van die afgelope maand geknou. En dit kan mieliepryse opjaag, wat inflasie kan aanblaas.

Dit is die mening van Dawie Maree, ’n landbou-ekonoom by FNB, wat reken die komende mielie-oes sal verseker kleiner wees as verlede seisoen.

“Ek dink die mielie-oes gaan minder as 12 miljoen ton wees. Sonneblom en sojabone kan dalk effens meer wees. Veral sonneblom omdat die westelike produserende gebiede tot laat nog sonneblom kon plant, maar nie mielies nie, het hy gesê.

“Ons is tans in ’n weermark, dus gaan enige droë tyd of reën die mielieprys beïnvloed. Indien ons goeie reën in Februarie kry, soos wat voorspel word, kan dit pryse stabiliseer en moontlik afdruk. Andersins sal dit styg.

“Dit sal wel inflasie stook, maar nie tot dieselfde mate soos tydens die vorige droogte nie. Onthou ons het nog genoeg oordragvoorraad,” het Maree bygevoeg.

Volgens Maree sal die nasionale oesskattingskomitee volgende week die laaste plantvoornemens en tweede oesskatting bekendmaak.

Hy sê dan sal kenners meer sekerheid kry oor die stand van sake.

Maree is egter versigtig oor die oesvooruitsigte.

Hy sê:” Nuus wat ek op grondvlak ontvang, is dat boere in die westelike gebiede 70% of minder van hul beplande hektaar kon beplant as gevolg van die droogtetoestande.”

Hy is egter optimisties dat die land genoeg voorraad mielies het en dat invoere nie noodsaaklik sal wees nie.

Maree wys daarop dat die land genoeg oordragvoorraad van die vorige seisoen het.

Kwessies soos invoere en die rand/dollar-wisselkoers het hy in konteks geplaas.

“Wat baie keer gebeur, is as die prys styg, dan sal invoerders aan die kus moontlik goedkoper graan kan invoer as wat dit plaaslik gekoop kan word. Dit sal egter alles afhang van die wisselkoers en ander faktore,” het hy bygevoeg.

Boonop sê Maree dat die uitbreek van bek-en-klouseer in Limpopo nie goeie nuus vir boere is nie.

Volgens hom plaas die nuus oor die siekte, saam met die droogtetoestand, boere onder druk omdat vleispryse daal as gevolg van ’n ooraanbod.

“Verbruik in Desember was ook nie so goed soos wat ons gehoop het nie, en dus is daar steeds voorraad in die mark ook. Dit wil sê, ooraanbod en laer vraag druk pryse af. Boonop styg voerkoste en dit is dus meer as ’n dubbele dosis slegte nuus vir boere… dit is ’n perfekte storm wat hulle in die gesig staar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.