Hoër rentekoerse geen oplossing

Fanie Brink is ‘n onafhanklike landbou-ekonoom. (Foto: Facebook)

  • Deur Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom

Die Reserwebank sal in die komende weke, net soos die Amerikaanse Federale Reserweraad, die Europese Sentrale Bank en ander sentrale banke in die wêreld, weereens die werking van die markkragte van vraag en aanbod totaal ignoreer wanneer hulle hul rentekoerse verder verhoog.

Hulle sal die internasionale ekonomie in ʼn ernstige resessie dwing.

Die sentrale banke glo dat rentekoerse ʼn baie sterker markkrag in die ekonomie is as die markkragte van vraag en aanbod, wat nooit reg of waar kan wees nie.

Kan die Reserwebank vir ons sê wat die invloed van die stygings in rentekoerse op die vraag in die ekonomie is? In ag geneem dat die rentekoste wat verbruikers betaal nie meer as twee persent van hul totale private verbruiksbesteding beloop nie, of dat dit so ʼn klein gewig het dat dit nie eers op die lys van verbruikersitems verskyn wat Statistiek Suid-Afrika gebruik om die verbruikersprysindeks saam te stel nie?

Dit is op die beste weglaatbaar klein.

Kan dié bank ook vir ons sê wat die invloed van hoër rentekoerse op die onlangse ernstige aanbodkantskokke in die ekonomie is, gegewe die hoër brandstof-, voedsel- en kunsmispryse weens die oorlog in Oekraïne?

Die antwoord is presies niks nie, want die banke het absoluut geen beheer oor die aanbodkant van die ekonomie nie, wat die enkele grootste rede is vir die huidige hoër inflasiekoers in die wêreld.

Die banke is van mening dat as hulle die verbruikers aan die vraagkant van die ekonomie met hoër rentekoerse straf vir prysstygings, waarvoor hulle nie verantwoordelik is nie, sal dit ook die ernstige aanbodkantprobleme oplos.

Het die banke dalk enige wetenskaplike bewyse dat die veranderings in die inflasiekoers deur die veranderings in rentekoerse verklaar kan word? Dit bestaan eenvoudig ​​nie.

Die banke is in die proses om die ekonomie in ʼn ernstige wêreldwye resessie te dompel deur hul rentekoerse verder te verhoog. Die voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad het ook reeds gesê dat hulle nie bang is om die ekonomie in ʼn resessie te druk om inflasie te stop nie. Dit is heeltemal belaglik!

Die inflasiekoers word bepaal deur al die plaaslike en internasionale politieke en ekonomiese faktore wat ʼn invloed op die vraag en aanbod van goedere en dienste het, sowel as op die waarde van die geldeenheid en ekonomiese groei.

Die inflasie in die wêreld sal weer daal wanneer die oorlog tot ʼn einde kom en die voedsel-, brandstof- en kunsmispryse weer na normaliteit terugkeer, terwyl die banke dan, soos in die verlede, weer op ʼn lang “ego-trip” sal gaan oor hoe hul goeie rentekoersbeleid die inflasiekoers aan bande gelê het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Ek stem Fanie. Die middelklas melkkoei word statuter verarm

Harley Davidson ·

Die banke moet hulle leen tydperk verkort in Australië kan jy jou huis maksimum oor 5 jaar afbetaal in SA kan jy ‘n miljoen rand kar oor 4 jaar afbetaal maar ‘n huis oor 20 jaar waar gaan al daardie rente heen,hersien die banke en die wins wat hulle maak.

Wynie ·

Onthou net, almal het nie skuld nie en baie is afhanklik van rente-inkomste.

Paul ·

Is waar. Moenie skuld maak nie maar bele^ jou geld. Spaar, investeer spandeer.

Paul ·

Is uiters suksesvol. Verhoogde rentekoers verhoog inkomste van ons pensioenarisse. Verhoog asseblief met te minste 2%

Deon ·

Skuld maak gewone mense arm en arm mense brandarm. Ons land is vrot van die skuld. Hoe op aarde beperk jy armoede as jy dit maklik maak vir mense om skuld te maak wat hulle nie kan bekostig nie. Dit is net die mense wat ‘n miljoen rand se kar op skuld kan koop wat kla oor die verhoging van rentekoerse. Ek stem saam, verhoog die rentekoerse om mense te dwing om binne hul vermoëns te leef. Wanneer mense minder koop sal pryse afwaarts gedwing word om meeste produkte te kan verkoop. As besighede hulself uit die mark wil prys is dit hul saak. Dit het tyd geraak dat gewone mense, wat sonder skuld probeer leef, ook beskerm word teen uitbuitery.

Oom ·

Baie word gesê oor hoe hoër rentekoerse nie inflasie sal verminder nie. Die “oorlog” verskonng word ook die kapstok gemaak waaraan inflasie opgehang word. Ek lees nie veel van wat die oplossing is nie. Inflasie word veroorsaak soos die ekonome sê wanneer teveel geld te min produkte jaag. So die oplossing meneer die ekonoom is hoër produksie (d.w.s almal moet harder werk) en meer spaar (koop slegs waarsonder jy nie kan klaarkom nie). En hoe spaar ‘n mens? Spaar eers voordat jy begin bestee. Die huidige inflasie 7.4% is niks nie. In die 1980’s was inflasie 16% en bankrente 24%. Ek weet, ek het dit as jongmens beleef. Weet nie hoekom almal so bang is om te sê dat harde werk die oplossing is nie.

melaney ·

En Oom se siening is heeltemal reg. Ek kom ook uit daardie era uit.
Tannie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.