Hoogste weeklikse volume by Kaapse hawe hanteer

Groot opgraderingswerk sal oor die volgende paar jaar by die Kaapstadse hawe gedoen word. (Foto: Transnet)

Die Kaapstadse vraghouerterminaal het sy hoogste weeklikse volume eenhede verlede week behaal, ten spyte van probleme met toerusting en gure weer sedert Mei vanjaar.

Transnet sê altesame agt uitvoerskepe is met minimum vertragings hanteer en ʼn volume van 19 500 twintigvoet-ekwivalente eenhede (TEU, of die eenheid waarin vragkapasiteit gemeet word) is aangeteken.

Andiswa Dlanga, bestuurshoof van die Wes-Kaapse terminale, sê hulle kon die afgelope ruk kapitaliseer op mooiweerstoestande om by skedules te hou. “Die omkeertyd vir herstelwerk wanneer toerusting gebreek het, was ook goed,” sê Dlanga.

Oproepe uit die bedryf vir nuwe toerusting by die terminaal is in Transnet se driejaar- kapitaalbeleggingsplan wat in die 2023‑’24-boekjaar begin, ingesluit.

Die terminaal verwag ook die aflewering van ʼn skip-na-land-hyskraan in September vanjaar. Daar is ook reeds goedkeuring gegee vir vier buidelwaens, twee stapelmasjiene en twee stukke toerusting om leë vraghouers te skuif. Die items sal na verwagting in die nuwe boekjaar afgelewer word.

Benewens die aankoop van die nuwe toerusting, konsentreer die terminaal veral daarop om basiese kwessies reg te kry.

“Ons het sleutelprestasieaanwysers wat ons help om doeltreffend te werk deur onder andere skeepswerksure en bruto hyskraanbewegings per uur te meet.

“Ons fokus daarop om hierdie teikens te behaal en die gevolg is verhoogde volumes,” sê Dlanga.

Die Kaapstadse vraghouerterminaal, asook die Durbanse hawe en die Oos-Kaap word gebruik om produkte na meer as 100 lande in hoofsaaklik die Europese Unie, Rusland, die VSA en lande in die Middellandse See uit te voer.

Die Transnet-haweowerheid beoog om R16,1 miljard oor die volgende sewe jaar te bestee om hawens in die Wes-Kaap op te knap. Kaapstad sal ook twee nuwe sleepbote, ʼn helikopter, ʼn groter vraghouerterminaal en 10 droogdokhyskrane as deel van die opgraderingswerk ontvang.

Die grootste deel van die kapitale belegging – sowat R8,4 miljard – is toegewys aan Saldanha, van waar ystererts en ruolie veral hanteer word. Die hawe, met sy doelgemaakte spoorlyn wat direk verbind is aan ʼn aanlêkaai-grootmaatvragfasiliteit, sal onder meer ʼn nuwe sleepboot en omheining ontvang. Opgraderingswerk sluit ook in die vergroting van sommige van die aanlêplekke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.