Huispryse daal ondanks toename in aanvraag

(Foto: pixabay)

Dalende huispryse, gekombineerd met ʼn lae rentekoers, het een van die beste geleenthede in 50 jaar geskep vir kopers wie se finansies nie deur die pandemie geraak is nie en wat nou die eiendomsmark wil betree.

MultiNET-huislenings wat sowat 50% van alle huislenings in die Suid-Afrikaanse mark verteenwoordig, het gesê hulle het ʼn ongekende aantal aansoeke vir nuwe huislenings ontvang sedert die afsonderingsmaatreëls verslap is.

Dié maatskappy het gesê voorleggings vir nuwe lenings het in Junie met 36,57% gestyg in vergelyking met dieselfde tydperk in 2019. Huispryse het egter met sowat 12% in dieselfde tydperk gedaal, en dit sluit inflasievoorspellings in.

“Die mark het beslis vinniger herstel as wat verwag is, maar dit is steeds belangrik vir huiseienaars wat hulle eiendomme wil verkoop om die beste advies te kry oor wat hulle kan verwag in hierdie tye met eiendomspryse,” het Shaun Rademeyer, uitvoerende hoof van MultiNET, gesê. Rademeyer meen ook die boeke vir residensiële huisverbande by Suid-Afrikaanse banke kan ook steeds beter vaar as wat aanvanklik verwag is.

MultiNET het gesê die daling in huispryse is ook ʼn aanduiding dat baie verbruikers gedwing is om van hulle beleggingseiendomme afstand te doen of om hul huise te verkoop omdat hul inkomste weens die Covid-19-pandemie verminder het.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag gewaarsku dat Suid-Afrika se ekonomie ʼn moeilike tyd met die wêreldwye gesondheidkrisis betree. Ramaphosa het bygevoeg dat die voorspellings oor sakeondernemings wat hul deure moet sluit en mense wat hul werk verloor, nou besig is om te realiseer. Hy het egter optimisme uitgespreek dat Suid-Afrika weer vinnig ná dié ekonomiese terugslag sal herstel.

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer Woensdag (24 Junie) ʼn aanvullende begrotingsrede wat ʼn verdere invloed op verbruikers se bestedingspatrone kan beteken.

(Grafika: MultiNET/ANA.)

(Grafika: MultiNET/ANA.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

BoerSonderRoer ·

As jy swart is in SA sal jy baie hoop en vertroue he in SA. Dit maak sin dat so baie mense nou wil eiendom koop, hulle eiendom is nie in die spervuur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.