Inflasie breek 13 jaar-rekord

(Foto: Maroela Media)

Die jaarlikse verbruikersprysindeks (VPI) in Junie het tot 7,4% toegeneem – van 6,5% in Mei, het Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) Woensdag bekendgemaak.

Dit is die hoogste sedert Mei 2009 (8%) toe die land se ekonomie die druk van die wêreldwye finansiële krisis gevoel het.

Volgens StatsSA word die hoë inflasie hoofsaaklik aangedryf deur stygende vervoer- en voedselpryse.

Die jaarlikse VPI het in Junie met 0,9% toegeneem nadat dit reeds in Mei met 0,6% toegeneem het.

Die pryse van voedsel en nie-alkoholiese drank het in Junie met 8,6% opgeskiet. Brood, graan, vleis, olie en vette het hoofsaaklik tot die hoër persentasie bygedra.

(StatsSA)

Brood- en graanprodukte het ʼn jaarlikse koers van 11,2% in Junie aangeteken, teenoor 8,4% in Mei. Van die kossoorte wat die grootste styging getoon het, is mieliemeel (5,2%), bruinbrood (3,2%) en macaroni (3,0%).

Vleispryse het in Junie met 9,5% gestyg, effens hoër as die styging van 9,4% wat in Mei aangeteken is. Die prys van polonie toon die hoogste styging (19%).

In Junie het die prys van olie en vette met 32,5% gestyg, in vergelyking met 26,9% in Mei. Hierdie produkgroep het volgehoue vlakke van hoë inflasie gesien, met jaarlikse stygings van bo 20% sedert Mei verlede jaar.

Vervoergoedere en -dienste het ʼn gemiddelde jaarlikse prysstyging van 20% en ʼn maandelikse styging van 4,2% getoon. Brandstofpryse het in Junie met ʼn astronomiese 45,3% gestyg, vergelyke met dieselfde tydperk verlede jaar. Dit verteenwoordig ook die grootste jaarlikse styging sedert 2009.

Terwyl Suid-Afrikaanse verbruikers onder stygende voedsel- en vervoerpryse gebuk gaan, hou hulle asem op vir die Reserwebank se jongste besluit oor die repokoers.

Die bank se Monetêre Beleidskomitee (MBK) sal na verwagting sy besluit om die repokoers te verhoog, te verlaag of dieselfde te hou Donderdag bekend maak.

Prof. Waldo Krugell, ʼn ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se sakeskool, verwag dat die MBK die repokoers gaan verhoog, maar kan nie aandui met hoeveel nie.

Hy sê die koers waarteen inflasie verhoog, het reeds ondernemings en huishoudings in ’n wurggreep.

Krugell wys op navorsing deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group wat aantoon dat die koste van die voedselmandjie vir arm huishoudings jaar op jaar met 10,2% toegeneem het.
Dié groep waarsku teen verhoogde die moontlikheid van hongersnood en verswakking van gesondheid in arm huishoudings, sê Krugell.

Krugell sê hoewel daar tekens is dat kommer oor ʼn wêreldwye resessie die pryse van olie en voedselkommoditeite in termynmarkte demp, sal pryse wat verbruikers hiervoor betaal, waarskynlik verder styg voordat dit daal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MrMagic ·

Kan jy glo, en as die regering aangaan soos nou is daar nog baie rekords wat gebreek gaan word.

Erik ·

Snaaks genoeg, inflasie was dubbeld wat dit nou is gedurende die 1980’s. Die goeie ou dae…

Manie ·

As ‘n groot rooivleiseter hou ek veral die vleispryse goed dop en koop meestal by 1 slaghuis. Lam het sedert Januarie vanjaar ongeveer 22% gestyg en beesvleis ongeveer 26%. Selfs vis wat voorheen relatief goedkoop was, is deesdae meer as R100.00 per kg met hoender wat al hoe nader kruip.

Gustav ·

Hartseer als gaan op. boere betaal meer vir als inset kostes is hoor maar kry nie meer vir produk nie inteendeel het prys geval maandag.

isabelle ·

en so hou die mense aan stem vir die wat nie n plan van aksie het vir SA?

E ·

Jammer om vir die ou te se, maar pryse wat opgaan het ek nog nooit gesien weer daal nie.

Bart-Man ·

Daar is niks meer gevaarlik in politiek as mense onder druk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.