Invloed van kragonderbrekings op die ekonomie

Deur dr. Sandra Adendorff

(Argieffoto: Unsplash)

As daar iets is wat almal in die land moedeloos maak, is dit kragonderbrekings; veral die onbeplande kragonderbrekings wat aan die toeneem is. Dit het nie slegs negatiewe gevolge vir die produktiwiteit van ’n ieder en elk in die land tot gevolg nie, maar het ook ʼn negatiewe invloed op ekonomiese groei.

ʼn Ontwikkelende land soos Suid-Afrika benodig uiteraard alle insette wat nodig is om ʼn ekonomie te stimuleer. Ongelukkig het Eskom nie genoeg kapasiteit om aan die land se energiebehoeftes te voorsien nie en is beurtkrag aan die orde van die dag.

Die Covid-19-pandemie en gepaardgaande grendelmaatreëls het almal onkant betrap en die ekonomiese situasie vererger steeds. Eskom se onvermoë om genoegsame krag op te wek, is een van die groot strukturele beperkings op ekonomiese groei. Daarbenewens verkeer die staatskas onder druk en plaas dit meer druk op staatsondernemings soos Eskom om te presteer sonder om van hierdie staatskas afhanklik te wees. Alhoewel daar verskeie projekte op die tafel is, ontbreek die deurvoering daarvan en byt elke individuele verbruiker die spit af.

Kragonderbrekings het ʼn ernstige impak op die ekonomie aangesien dit groei negatief beïnvloed. Verder verhinder dit besighede om te investeer en uit te brei. Aspekte van die ekonomie wat negatief beïnvloed word, is verlies aan ekonomiese aktiwiteit, afname in ekonomiese groei en verlies aan investering in die land. Volgens prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand het beurtkrag ongeveer 1% se afname in ekonomiese groei tot gevolg gehad. Daarvolgens kon die ekonomie ongeveer 13% groter gewees het as wat dit tans is as gevolg van kragonderbrekings. Indien die verlies aan investering dieselfde impak het, beteken dit dat die ekonomie 25% groter kon wees as dit nie vir beurtkrag was nie, en gevolglik het die land R1,2 biljoen (Engelse trillion) verloor as gevolg van beurtkrag. Om dit in konteks te plaas: nominale bruto binnelandse produk (BBP) was in 2019 R5,1 biljoen (Engelse trillion).

Die WNNR het bevind dat 2020 die ergste jaar vir beurtkrag nóg was. Onlangse navorsing deur die WNNR toon dat beurtkrag vir 859 uur van die jaar plaasgevind het (9,8%) ten spyte van ’n verlaging in die vraag tydens die nasionale Covid-19-inperking. Hierdie voortgesette toename van beurtkrag word hoofsaaklik aan onbeplande onderbrekings, ineenstortings en gebrek aan instandhouding toegeskryf.

Bron: WNNR, 2020.

Strategies maak dit sin om ou kragstasies met groenkragaanlegte te vervang deur onafhanklike kragprodusente wat gedeeltelik deur die privaat sektor gefinansier word. Die regering het wel sulke planne, maar dit gaan moeilik wees om in die huidige omgewing van korrupsie en wanbestuur beleggers te oorreed om in hierdie projekte te belê.

Intussen is veral myne moedeloos met Eskom se beurtkrag en het hul onlangs versoek om eie kragopwekking na 50 megawatt (MW) te verhoog, waar hulle tans tot 10 MW beperk is.

Daarbenewens is daar ook private maatskappye en munisipaliteite wat self krag wil opwek.

Probleme wat ons in Suid-Afrika ervaar, het die vraag na alternatiewe energie wat omgewingsvriendelik is, verhoog. Dit is belangrik om op die verskillende soorte te let – biomassa-, son-, wind-, gety- en geotermiese krag – en dat elkeen sy eie voordele en nadele het. Daarby mag munisipaliteite en ander kragverbruikers nou in beginsel elektrisiteit goedkoper by onafhanklike kragprodusente koop.

Die staat het hom tot die ondersteuning van hernubare energiebronne verbind om die tekort aan energie te ondersteun en firmas kan nou vir die voorsiening van hernubare energie tender. Ongelukkig is daar ook addisionele risiko’s soos klimaatsveranderinge en strukturele ekonomiese hervormings nodig om volhoubare energie te verseker.

Alhoewel Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, inligting met die oog op ʼn kernboukragprogram van 2 500 MW gepubliseer het, is daar hoop dat die tenders vir alternatiewe energiebronne suksesvol bestuur sal word. Die aankondiging van president Cyril Ramaphosa dat die drempel vir selfopwekking sonder ʼn lisensie van 1 MW na 100 MW verhoog word, is baie positief en ons hoop dat dit vinnig amptelik in werking sal tree.

  • Sandra Adendorff is ’n dosent in ekonomie en internasionale bestuur aan Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eend Bessinger ·

Ek glo twee dinge: 1. Die nuwe wet op onafhanklike krag-opwekking is baie laat, maar uiters welkom. 2. Tot tyd en wyl hierdie onafhanklike opwekkers volledig in plek is en Eskom net die krag “vervoer”, moet munisipaliteite Estcourt se voorbeeld volg: bondel-beurtkrag. Fabrieke moet hul werk doen wanneer dit stiller is en dan hul krag gee vir die besiger tye aan die huise. Die winkels kan rye ligte afskakel na aanleiding van die fase, gas gebruik vir kookwerk en minder kassiere gebruik. Estcourt doen dit al jare en sal eers beurtkrag fase 1 sien as die res van die land fase 8 beleef. Effektief het hulle dus nog nooit beurtkrag gehad nie, net amptelike kragonderbrekings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.