Kanse op ʼn rentekoers­verhoging lyk al sterker

finansies-geld-sente-rand-beleggings

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Statistiek Suid-Afrika sê die land se VPI-inflasiekoers is bestendig. Dit het in September op ’n jaargrondslag 4,9% beloop en was onveranderd teenoor Augustus se syfer. Die syfer het ook met markverwagtinge gestrook.

Die verbruikersprysindeks-koers (VPI-koers) het egter op ’n maandgrondslag met 0,5% geklim.

Die statistiek-owerheid het aangekondig dat die uitstel van die brandstofprysverhoging in September die vervoerindeks effens laat verlangsaam het. Die indeks is egter op ’n opwaartse kurwe weens die styging in openbare vervoerkostes.

Die Wes-Kaap het weer die hoogste VPI-koers aangemeld met 5,6%, terwyl kostes in Limpopo met  3,9% gestyg het.

Ekonome meen egter, ondanks die gunstige syfer, die Reserwebank hom gereedmaak om rentekoerse te verhoog. Twee adjunkpresidente, Francois Groepe en Daniel Mminele, het oor die afgelope paar weke gewaarsku dat ’n rentekoersverhoging nou in die bank se radar is.

Ekonome het voorheen voorspel dat die sentrale bank rentekoerse sal wil opstoot om die rand te ondersteun. Hoër rentekoerse lok buitelandse kapitaal, maar dit kan ’n verdere demper op ekonomiese groei plaas.

Suid-Afrika is tans in ’n tegniese resessie en die regering, met president Cyril Ramaphosa, is tans besig met stappe om die ekonomie aan die gang te kry.

Op ’n jaargrondslag het die VPI-koers vir die 18de agtereenvolgende maand onder die boonste inflasieteiken van 6% beloop.

Die ekonomiese navorsingsmaatskappy NKC Research sê ofskoon die inflasiesyfer bestendig is, daar  wel tekens was dat ’n tweede ronde inflasie-effekte van brandstofprysverhogings en die swakker rand tot inflasie deurgesypel  het.

Dit waarsku dat dit niks goeds vir verbruikers voorspel nie.

NKC waarsku dat dit ’n teken is dat die Reserwebank in die voorsienbare toekoms rentekoerse kan verhoog. Dit voeg by dat November se monetêre beleidskomitee deurslaggewend kan wees. Om dié rede beskou die maatskappy die uitreiking van Oktober se inflasiegegewens op 22 November as uiters belangrik omdat dit die weg kan baan vir ’n rentekoersverhoging.

In dié stadium glo die maatskappy  ʼn kans op  ’n rentekoesverhoging in November is 50/50.

Die statistieke owerheid wys daarop dat voedselinflasie 3,9% beloop het. Die prys van vrugte het met 4,9% gedaal.

Groentepryse het egter met 9% gestyg. Vis was 5,3% hoër en vleis het met 4,7% verstewig.

Op ’n jaargrondslag het brandstofinflasie 18,5% beloop. In September het die kostes van veral openbare vervoer die sektor ’n stewige hupstoot gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Landi ·

En so klim die petrol met 18,9 present, groente met oor die 9% en vleis amper 5%. My salaris en ek glo hope ander sin net met 5%. Sekeres het nie eers salaris verhoging gekry. Hoe moet die meeste van die populasie is SA daagliks ‘n bestaan maak met die belaglikheid.

Krummel ·

Na 10 jaar diens in Sept 18 – nie ‘n sent aanpassing gekry nie. Dit is die lot van baie blanke mense. Ons moet noodgedwonge werk vir klein eenmansake, omdat teen ons gediskrimineer word by die formele besighede en staatsdiens. Die eienaars van hierdie soort besighede misbruik ons want hulle weet ons kan niks beters kry nie. Dit is hartverskeurend, pleks ons saamwerk en mekaar ophef. Die een gun die ander niks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.