Kenners waarsku oor moontlike draai in rentekoerse

Carmen Nel, ekonoom en makro-strateeg by Matrix-fondsbestuurders (Foto verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se monetêre beleidskomitee het vandeesweek die repokoers onveranderd gelaat op 3,5%, maar ekonome meen daar is ʼn styging in die vooruitsig.

Carmen Nel, ekonoom en makro-strateeg by Matrix-fondsbestuurders, sê die besluit van die komitee was in lyn met verwagtinge en markpryse. Daar was dus ʼn minimale impak op effekteopbrengste, die rand en aandele.

“Die vooruitkoersooreenkoms (VKO) se kurwe het effens gestyg weens die Reserwebank se repokoers-model wat ʼn effense hoër profiel oor die langer termyn aandui. Die model toon ʼn 25 basispunte-styging in die vierde kwartaal van die jaar. Dit beteken ʼn moontlike styging in die rentekoers by die monitêre beleidskomitee se vergadering in November. Die VKO-mark beskou dit egter steeds as ʼn 50/50-uitslag.”

Nel sê die verklaring se bewoording was nie so aggressief soos wat hulle verwag het nie, maar aggressief genoeg om die deur oop te laat indien die Reserwebank vinnig moet optree.

Die SARB het sy groei-vooruitsig skerp aangepas vir 2021 na 5,3%, maar die bank is nie so optimisties vir 2022 nie en verwag slegs ʼn beskeie 1,7%. Die onlangse afname in kommoditeitspryse is waarskynlik in ag geneem, meen Nel. Die risiko’s vir die groei-vooruitsig word as gebalanseerd beskou.

“Die inflasie-vooruitsig van 4,4% vir 2021 is effens hoër en ook in lyn met ons verwagtinge.”

Prof. Raymond Parsons, ekonoom by die Noordwes-Universiteit-sakeskool, sê ook die feit dat die repokoers onveranderd gebly het, was in lyn met verwagtinge.

“Die monetêre beleidskomitee het dit nodig geag om ekonomiese stabiliteit te bevorder. Verbandlenings het veral die afgelope paar maande toegeneem danksy rentekoerse wat in byna 50 jaar op die laagste vlakke ooit is. Die aanvraag na huislenings bly styg.”

Alhoewel die lae koers oor die algemeen die ekonomie ondersteun, is daar egter ʼn gebrek aan gretigheid onder beleggers om hulself tot sterker beleggings te verbind. Verhoogde vastekapitaalvorming is die fondasie van volgehoue groei wat werkskepping sal bevorder, meen Parsons.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek vertel vir die mense wat so gretig is om NOU ‘n huis te koop dat die normale rentekoers om en by 12% is, nie 7% nie. Hulle moet daai 12% sommetjie ook doen. Dit gaan ‘n ekstra R3500/maand per R1m kos as die verband-rentekoers weer tot by 12 gaan.

annie ·

So, die gewone werkende burgers sal binnekort weer kwaai moet opdok om beleggers te lok en banke se koffers te vul sodat die ANC kan ontspan ná sakkerollers miljarde verduister het en die buiteland swaar byt aan die gereelde Cyril-pledge-smekinge. Die volk kan baat by laer rentekoerse, maar nee nie in Suid-Afrika nie. Die prez sien blykbaar eerder kans vir nog ‘n Kwa-ai-tog wat besighede rot-en-kaal laat en die privaatsektor die spit afbyt, as om blink beleggers en banke te ontstig.

Hardekwas ·

Die repokoers behoort ten minste 5% meer te wees as huidiglik. Maar nee , our people kan dit nie bekostig nie. Boo-hoo-hoo. Shame.

Dirk Mostert ·

Dis hoog tyd dat rentekoerse tot meer realistiese vlakke styg. Dis tans onder die amptelike inflasiekoers (vir wat daai syfer werd is). Lae rentekoers maak mense wat op krediet lewe meer spandabelrig. Dit moedig nie spaarsamigheid aan nie. Diegene wat ‘n leeftyd gespaar het om vir hul oudag te sorg word beroof van hul rente-inkomste. Huispryse saL styg weens lae rentekoerse, want mense koop op die top van wat hulle eintlik nie kan bekostig nie.

Jack ·

Heeltemal korrek. Ons lae ekonomiese groei is nie te wyte aan te hoë nie maar aan te veel regeringsinmenging in die ekonomie en gebrek aan vertroue by beleggers. Nou probeer die SARB die swak regeringsbeleid regstel met lae rentekoerse wat eintlik net spaarders straf en leners dieper in die skuld dompel. Intussen daal die waarde van ons geld eenheid. ‘n R1m is vandag omtrent dieselfde werd as wat R10k in 1970 werd was. Ek betaal vandag meer om my motor se tenk vol te maak as die prys wat ek vir my eerste splinternuwe motor in 1962 betaal het. Wat het die waardevermindering veroorsaak? Swak regering, swak ekonomiese beleid, korrupsie, diefstal, te hoë staatsbesteding, te groot staatsdiens. Onproduktiewe mense word beloon en hardwerkendes word gestraf. Dis ONVOLHOUDBAAR!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.