Kleinhandel kry hupstoot uit Swart Vrydag se verkope

swart-vrydag-blackfriday

Foto: Basimmiller/Pixabay.com

Swart Vrydag het, soos daar verwag is, kleinhandelverkope in November ’n groot hupstoot gegee. Dit was desondanks die 1%-verhoging in belasting in toegevoegde waarde (BTW) vroeër in die jaar en volgehoue brandstofprysverhogings tot op rekordvlakke.

In November 2018 het kleinhandelverkope vir die 21ste agtereenvolgende maand gestyg. Ekonome voorspel dat die gunstige syfer ’n positiewe bydrae tot 2018 se groeisyferkan lewer.

Dit was ook die sterkste maandelikse groei in kleinhandel-gegewens sedert Januarie 2012.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het die kleinhandelsektor sy grootste styging van verlede jaar in November getoon. Swart Vrydag en Kuber Maandag het bygedra dat November se syfer met 3,1% gestyg het.

Dit was beter as die 2,1% wat in Oktober bereik is en ekonome se konsesusopname op Bloomberg wat 2% voorspel het.

Die groei in die kleinhandelverkope is grootliks aangedryf deur meubel-, toebehore- en toerustingverkope wat met 10,5% verstewig het, asook tekstiel, klere en skoeisel wat 4,2% gegroei het. Algemene kleinhandelaars, die grootte subsektor, het met 3,7% gestyg.

Volgens Statistiek Suid-Afrika se syfers het die totale kleinhandelverkope in November R99,4 miljard beloop. Indien inflasie uit die syfer geneem word, sou die verkope R87,8 miljard beloop het, het die statistieke liggaam bygevoeg.

Daar was positiewe groei in sewe subsektore gewees. Twee sektore wat dit nie so gelukkig getref het nie, was hardeware, verf en glas wat -2,4% was en kos, spyseniering en drank wat -1,9% laer was.

NKC Research sê dat indien ’n seisoenaanpassing gedoen is, het kleinhandelverkope in November met 3,3% gestyg.

Volgens NKC het November se positiewe syfer voortgebou op die verbetering in die derde kwartaal. Maar die ekonomiese agentskap wys daarop dat Swart Vrydag die uitstaande gebeurtenis gedurende November was.

Boonop voorspel die maatskappy dat verbruikersbesteding die kop kan lig weens die groot brandstofprysverlagings in Desember en Januarie.

“Die verlagings in brandstofpryse sal ’n positiewe effek op verbruikersinflasie hê en dit sal verbruikers se besteebare inkomste verhoog. Gevolglik kan ons ’n opswaai in kleinhandelaankope in die volgende paar maande verwag,” het NKC  bygevoeg.

Ekonome verwag dat die sektor groei sal toon. Die groei sal egter beperk word weens die hoë werkloosheidsyfer en trae ekonomiese groei.

Boonop meen ontleders dat kleinhandelaars onder druk sal bly om hul marges te sny omdat die ekonomie nog in ’n swak toestand is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

IK ·

Terwyl 40% van skuldenaars nie hul koopooreenkomste kan nakom. Maar koop sal hulle koop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.