Kleinhandelverkope bo markverwagtinge

ekonomie-stockfoto-02

Foto: Pexels/Pixabay.com

Die plaaslike ekonomie het ’n dosis goeie nuus ontvang nadat Augustus se kleinhandelverkope-gegewens bo markverwagtinge presteer het. Konsensus onder markontleders was dat verwagte groei 0,3% sou beloop.

Statistiek Suid-Afrika se kleinhandelverkope het in Augustus op ’n jaargrondslag met 2,5% gestyg. Dit was ook beter as die vorige maand se 1,4% wat van 1,3% hersien is. Die Statistiek SA sê op ’n maand-tot-maand grondslag het kleinhandelverkope met 0,6% gegroei.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het ses van die sewe sektore wat gemeet word, positiewe groei getoon.

Huishoudelike goedere en toestelle was 1,04% beter daaraan toe. Tekstiele, klerasie en skoeisel het met 6% gestyg, terwyl farmaseutiese en skoonheidsmiddels met 3,1% gegroei het. Alle ander kleinhandelaars het met 2,3% geklim en algemene handelaars het met 1,7% verstewig. Kos en tabak het 0,3% bygevoeg. Die enigste sektor wat verswak het, was hardeware, verf en glas wat met -2% verswak het.

Die ekonomiese agentskap NKC Research sê dat die kleinhandelverkope onverwags verbeter het. Dit waarsku egter dat daar nog steil opdraandes die sektor in die gesig staar wat ’n negatiewe impak op verbruiksbesteding in die komende maande kan hê.

NKC skryf dit toe aan die skerp styging in brandstofpryse, die verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) en inflasie wat opwaarts neig.

Dit voeg by dat die sektor wat in die tweede kwartaal in ’n tegniese resessie was, mooi herstel het.  Die maatskappy verwag dat, indien die herstel voortduur, dit ook die ekonomiese groeikoers vir die derde kwartaal ’n hupstoot kan gee en dit uit sy huidige tegniese resessie kan lig. Dit voorspel ook dat huishoudelike besteding vanjaar 0,6% en volgende jaar 1,7% kan beloop.

Intussen het die land se tweede grootste kleinhandelaar, Pick n Pay, vandeesweek aangekondig dat die groep se verkope goed presteer het ondanks swakker marktoestande. Richard Brasher, bestuurshoof van Pick n Pay, sê hy het sy beste verkope in vyf jaar getoon.

Die groep se wesensverdienste vir die ses maande tot einde Augustus het met 80,5% gestyg. Nadat die koste van vrywillige besnoeiingsmaatreëls in ag geneem is, het hooflynverdienste per aandeel met 17% verstewig.

Brasher sê Pick n Pay beoog om 70 nuwe winkels in die tweede helfte te open.

Volgens sy finansiële state het omset met 6,7% geklim. Weens promosies en dergelike programme om kliënte te lok, het die winkelgroep se pryse gemiddeld met 0,3% verbeter. Kosinflasie is tans op 3,5%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.