Kliëntediens in ’n aanlyn handelsonderneming

Deur Danielle Kleyn

(Argieffoto: Pixabay)

Kliëntediens is die diens wat verskaf word voor, tydens en ná kliënte die besigheid se produkte of dienste gebruik het. Kliëntediens begin dus sodra iemand van die besigheid bewus raak en eindig weke of selfs maande nadat die produk gekoop is. ’n Besigheid se produkte kan fantasties wees, maar indien kliëntediens ontbreek, sal die besigheid nie volhoubare sukses kan behaal nie.

Indien jou besigheid goeie kliëntediens lewer, sal bestaande kliënte graag die besigheid by hul vriende en familie aanbeveel, maar die omgekeerde is ewe waar. Hier is ’n paar wenke om seker te maak jy lewer uitstekende diens.

Doeltreffende kommunikasie

Hou jou kliënte op hoogte van die vordering van hul bestelling. Indien die grootte van jou kliëntebasis dit onmoontlik maak om persoonlik of onmiddellik met kliënte te kommunikeer, kan jy altyd ’n outomatiese boodskap opstel wat vir kliënte e-posse stuur soos wat hul bestelling na die volgende fase vorder. Verseker egter dat die outomatiese kommunikasie nie te onpersoonlik is nie.

Dit is ook belangrik dat besighede so vinnig as moontlik op kliënte se navrae reageer. E-pos- en sosialemedianavrae moet binne 24 uur beantwoord word. Dis is ook noodsaaklik dat die persoon wat verantwoordelik is om navrae te beantwoord, die besigheid se produkte, dienste, prosesse en waardes goed moet ken sodat hulle doeltreffend terugvoer aan kliënte kan gee.

Indien die besigheid ’n selfoon of telefoon het waarop kliënte die besigheid kan kontak, moet die werknemers wat die navrae hanteer goeie kommunikasievaardighede hê en oproepe en boodskappe daadwerklik beantwoord. Verseker altyd dat die selfoon gelaai is, of dat die telefoon in ʼn werkende toestand is.

Vra vir – en oorweeg – terugvoer

Volg op of jou kliënte tevrede is met die diens en produk wat aan hulle gelewer is. ’n Eenvoudige e-pos wat hulle bedank vir die aankope en vra of hulle enige terugvoer het, is goed genoeg. Oorweeg alle terugvoer en kyk hoe jy kan verbeter, of hoe jy sterkpunte selfs verder kan versterk. Indien jy slegte terugvoer of klagtes ontvang, identifiseer moontlike maniere om te voorkom dat dieselfde probleem weer kop uitsteek.

Neem stappe om ongelukkige kliënte te behou deur om verskoning te vra en selfs vir hulle ’n geskenkbewys of gratis aflewering met hul volgende aankoop aan te bied. Dit sal wys wees om reeds ’n plan te hê van hoe ongelukkige kliënte hanteer moet word sodat alle werknemers soortgelyke situasies korrek kan hanteer.

Maak dit maklik vir kliënte om antwoorde te kry

Maak seker dat al die algemene vrae iewers op jou webwerf beantwoord word. Dit sluit in betaalopsies, besigheidsure, en hoe die omruil of versending van goedere werk. Maak ook seker daar is meer as een wyse vir die kliënt om jou te kontak indien hulle steeds onseker is. Daar is niks so frustrerend soos om vir ure lank sonder enige oplossing van een persoon na ’n volgende gestuur te word nie.

Stap die ekstra myl en oortref verwagtinge

Stel jou voor dat ’n kliënt jou kontak omdat hulle op soek is na ’n spesifieke produk wat jy nie aanhou nie. In plaas daarvan om bloot te noem dat julle nie die produk aanhou nie, kan jy ’n voorstel maak oor waar hulle moontlik die bepaalde produk in die hande kán kry. Dít wys dat jy nie bloot verkoopsgedrewe is nie, en kan waarskynlik daartoe lei dat die persoon in die toekoms met jou sal wil besigheid doen.

Nog ’n manier om kliënte se verwagtinge te oortref, is deur bloot aandagtig te luister. Indien ’n kliënt noem dat hulle ’n sekere produk as ’n geskenk vir iemand koop, kan jy aanbied om die geskenk gratis vir hulle toe te draai of om ’n spesiale kaartjie in te sluit. Selfs al wys die kliënt die aanbod van die hand, wys dit daarop dat jy vir jou kliënte omgee en bereid is om die ekstra myl te stap.

Interessante feite:

  1. Goeie kliëntediens word deur 64% van verbruikers belangriker geag as die prys van die produk.
  2. Indien die aanlyn koopproses te ingewikkeld is, sal 74% van verbruikers van handelsmerk verander.
  3. Kliënte wat handgeskrewe notas met hul name op saam met hul bestellings ontvang, is 60% meer geneig om weer by dieselfde besigheid te koop.
  4. Slegs een uit vyf kliënte sal weer met ’n besigheid sake doen nadat hulle ’n slegte ervaring gehad het.
  5. Vroue vertel vir ongeveer tien ander mense wanneer sy ’n onaangename kliëntedienservaring gehad het.
  • Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.