Kommer oor Aspen se groeiende skuldlas

Die vooruitsig van twee KwaZulu-Natalse maatskappye het sedert Vrydag op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) onder die vergrootglas gekom, grootliks oor hul swaar skuldlas. Teen Maandag het die farmaseutiese maatskappy Aspen met ʼn hanetreetjie herstel nadat dit in een stadium met tot 50% van sy markwaarde Vrydag geval het.

Die eens liefling van beleggers en beursswaargewig het gedurende sy kruin tot rondom R325 gestyg. Maandag het dit teen R102,49 gesluit.

Die daling in sy aandeelprys Vrydag was die ergste in nege jaar. Sy markwaarde is nou rondom R32 miljard. Die daling volg op die uitreiking van swakker as verwagte tussentydse syfers vir die periode tot einde Desember.

Aspen het aangekondig dat sy hooflynverdienste met 9% tot R3,6 miljard verswak het. Sy omset het met 1% tot R19,7 miljard verbeter.

Volgens markkenners is beleggers bekommerd oor Aspen se skuldlas wat met R6,7 miljard tot R53,5 miljard gestyg het. Dit was grootliks danksy die swakker randwisselkoers. ʼn Groot gedeelte van Aspen se skuld is in euro.

Betalings wat uitgestel is om aankope te maak, het R4,9 miljard beloop en kapitaalbesteding se voorsiening was R1,5 miljard.

Gus Attridge, Aspen se adjunkbestuurshoof, sê dat die babaformulabesigheid waarvan die verkoop reeds verlede jaar aangekondig is, sowat R104 miljard sal oplewer wat sal help om sy skuld te delg.

Stephen Saad, sy bestuurshoof, sê die groep kan ook verdere steun kry deur van ander bates ontslae te raak.

Ontleders sê probleme rakende sy balansstaat het beleggers bekommerd. Maar op die mark is daar sterk bespiegelinge dat Aspen ʼn goeie winskopie is.

tongaat-hulett

Foto: Tongaat.co.za

Tongaat Hulett se finansiële state hersien

Die ander maatskappy wat die wind van voor gekry het, is die suikerprodusent Tongaat Hulett. Tongaat was lank ʼn keuraandeel op die beurs en een van die uitblinkers. Die maatskappy se aandeelprys is sedert Vrydag onder druk nadat dit met 30% geval het.

Tongaat het aangekondig dat sy finansiële state hersien word en dat sekere praktyke wat in vorige finansiële state opgeteken is, ʼn materiële effek op sy stand van sy boeke kan hê.

Die maatskappy sê dat hy PricewaterhouseCoopers genader het om sy finansiële state indringend te ondersoek. Die maatskappy is in die proses van ʼn strategiese en finansiële hersiening van sy finansiële state.

Hy het aangekondig dat dit kan lei tot remediërende aksie sou dit nodig wees.

Vrydag was die groep se derde daaglikse daling van 20% of meer die afgelope drie weke. Daar is ook kommer dat die groep se skuldlas te groot is en dat dit die balansstaat in ʼn swak posisie gelaat het.

Tongaat se markwaarde het sedert verlede maand met ʼn vyfde gedaal. Kenners sê die daling in die aandeelprys dui daarop dat aandeelhouers regsuitgifte of bateverkoping verwag.

Probleme het veral met sy grondverkope opgeduik wat op krediet verkoop is. Ontleders verwag dat sy wins waarskynlik tot einde Maart met 250% kan daal. Daar is ook kommer omdat sy bestuurshoof en finansiële hoof verlede jaar bedank het.

Boonop is die suikerbelasting wat in die begroting aangekondig is nóg ʼn hindernis vir die groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theoman ·

Nog al n kopseer vir die ouens by Aspen, wat van n paar Aspros!

alida ·

Flou grappie hoor. Mense met gesinne is hier betrokke en jy dink dit is snaaks.

Aspros ·

Kalmeer alida (!!!!!!) …… niemand is dood nie van Aspros

thelsa ·

Dalk bietjie minder Sales Conferences hou op eksotiese en uitheemse plekke met duur verblyf en kos en honderde mense daarheen neem is dalk ‘n begin om uitgawes te besnoei.

LOL ·

Steinhoff no. 2 en 3? Onskuldige, hardwerkende personeel weereens uitgebuit weens swak besluite van “elite’ .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.