Kragkrisis kan werkloosheid in mynboubedryf vererger

mynboubedryf-02

Foto: Wilhei/Pixabay.com

Die Mineraleraad van Suid-Afrika het sy teleurstelling uitgespreek oor die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) wat nuwe verhogings oor drie jaar aan Eskom gaan toestaan.

Die raad beraam dat sowat 90 000 werkgeleenthede in die goud- en platinumsektore in die slag kan bly weens dié besluit. Die “bloedbad” kan die land se werkloosheidstol net vererger.

Verskeie van Suid-Afrika se goud- en platinummyne is marginaal en die kostes om erts te ontgin, raak duurder.

Nersa het wel aan Eskom ’n laer verhoging toegestaan as wat versoek is. Henk Langenhoven, ekonoom van die Mineraleraad meen egter dit is steeds bo inflasie en dat dit ’n impak op die kostes van myne sal hê.

“Ons is teleurgesteld dat Nersa die verhogings aan Eskom toegestaan het. Dit is bykans twee derdes waarvoor Eskom aansoek gedoen het. Die tariefverhogings sal beslis ’n nadelige uitwerking op myne se kostestrukture hê,” het Langenhoven bygevoeg.

Hy wys daarop dat die besluit veral marginale myne en dié wat teen ’n verlies bedryf word, sal strem.

Volgens Langenhoven gaan dit werkverliese in die mynsektor bespoedig. Die mynsektor was lank een van die staatmakers van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Omdat mynmaatskappye al dieper moes werk om erts te ontgin, het dit die winsgewendheid van die sektor geraak.

Dit, te same met radikale vakbondaksies soos by Marikana, het die sektor gestrem. Ofskoon die land steeds die wêreld se voorste platinumprodusent is, het sy goudreserwes getaan.

Langenhoven het bygevoeg dat Nersa se besluit daarop gemik is om Eskom te steun.

Hy wys daarop dat die mynsektor sowat 30% van Eskom se kragvoorsiening gebruik en dat die sektor reëlings met Eskom getref het om sy vraag na krag in buitespitstye te handhaaf. Die sektor se gebruik is vir beide mynoperasies en smelters.

Langenhoven sê die mynsektor steun die finansiële welstand van Eskom, maar dat die nuwe tariewe, wat die week (LW. vanaf 1 April) in werking tree, myne sal verplig om minder krag te gebruik.

Van die land se voorste myngroepe het juis voor die Nersa-besluit reeds aangekondig dat hulle ’n afskaling van poste oorweeg juis omdat dit by niewinsgewende skagte gaan geskied. Die kwessie is polities sensitief, maar die myngroepe wys daarop dat hulle nie die skagte teen ’n verlies kan bedryf nie.

By Sibanye Gold is 6 000 werkgeleenthede in gedrang. Gold Fields beoog om 1 100 poste af te skaal en Impala Platinum wil ’n derde van sy arbeidsmag laat gaan.

Nersa het aan Eskom toestemming verleen om ’n bykomende 9,41% tariefverhoging vir vanjaar te hef. Dit beloop 8,10% in 2020 en 5,2% in 2021.

Kenners sê ofskoon werkverliese ’n politieke sensitiewe saak is omdat bykans ’n kwart van die arbeidsmag werkloos is, sal die verhogings wat aan Eskom toegestaan is, net myne se bedryfskostes opjaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Steven ·

Die speletjie deur die staat se houvas op die ekonomie gaan erger word, want die leiers het geen benul hoe ekonomie werk nie. Hierdie Eskom verhoging is n druppel in die emmer. Die verliese wat Eskom gemaak het tyens die beurtkrag episodes en die beurtkrag wat nog kom die komende winter, sal hulle terug eis. Ook die diesel uitgawes wat miljarde kan wees in 2019/2020. Daarom kan die sake sektor maar gereed maak vir groot pyn en n finale inkrimping van die ekonomie. N Vooruitsig van 50% Eskom tariefverhoging in volgende jaar is n realiteit. Watter myn, plaas of besigheid kan hiermee nog winsgewend wees? Dis tyd om baie baie ernstig n eie plan te moet maak. Donker Afrika kan ongenaakbaar wees.

Harry ·

Hier kom dit nou – dit voel soos Brooklax wat ek kou;
Dan kom die pyn op my maag wat my na die lavvy toe jaag;
Dis die deur wat my keer dat my broek amper skeur,
Dis die spinnekop aan die dak wat my vinniger laat “ak;
Drink maar jou laaste bier, want ons ekonomiese ellende is hier…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.