Kredietagentskap sal dan oor gradering sê

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer die 2019-begrotingsrede [20 Februarie 2019]. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Op 29 Maart sal Suid-Afrikaners weet of Moody’s Investor Service volle vertroue in Tito Mboweni, die minister van finansies, se begroting het of nie. Mboweni het Woensdag sy eerste begrotingstoespraak gelewer.

Op dié dag sal die een kredietgraderingsagentskap wat die land nog op beleggingsvlak gradeer, sy beslissing oor die land se gradering gee.

Sou Moody’s die land afgradeer, sal dit strook met die aksie wat reeds deur Fitch en Standard & Poor’s Global geneem is. Beide agentskappe het die land reeds in 2017 afgradeer.

Die twee probleme wat Mboweni nie in sy begroting kon oorbrug het nie, was finansiële bystand vir die elektrisiteitsmaatskappy Eskom. Mboweni het aangekondig dat Eskom R69 miljard rand oor die volgende drie jaar sal ontvang om sy sake in orde te kry.

Die ander kwesbaarheid is die begrotingstekort. Mboweni het voorspel dat die tekort oor die volgende tien jaar sal styg en dit word as negatief deur kredietgraderingsmaatskappye beskou. Beamptes by die Nasionale Tesourie voorspel dat die bedrag tot R150 miljard oor die volgende tien jaar kan styg.

Intussen het Mboweni laat deurskemer dat hy hom staal vir ’n moontlike kredietafgradering. Hy sal die graderingsmaatskappye oor die volgende paar weke ontmoet. Die Nasionale Tesourie beoog om met sy jaarlikse beleggingspromosie die positiewe kant van die begroting aan beleggers en kredietagentskappe voor te lê.

Die president van die SA Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê egter plaaslike banke kan ’n afgradering suksesvol weerstaan omdat hulle goed gekapitaliseer is, konserwatiewe leierskap het en die sentrale bank se weerstandstoetse geslaag het.

Intussen het die rand vanoggend verder veld gewen nadat dit gister tydens die begroting vasgehaak het. Die geldeenheid verhandel teen R13,98 teenoor die Amerikaanse dollar Tydens die begrotingstoespraak het die rand tot R14,37 teenoor die dollar verswak.

Die geldeenheid is R15,86 teenoor die Euro en die Britse pond is R18,23 werd.

Andre Botha, ’n senior handelaar by TreasuryONE, sê dat beleggers deur die begroting gesif het en baie van die slegte nuus wat voorspel is, nie gebeur het nie.

Botha sê die rand het ’n goeie kans om te stabiliseer en kan verder verstewig noudat die risiko’s wat in die mark was, besig is om af te neem.

Hy meen dat die rand verder asem kan skep nadat die Amerikaanse Federale Reserweraad se jongste notules beaam het dat die sentrale bank vir eers ’n wag-en-sien-houding jeens rentekoerse gaan inneem.

TreasuryONE wys daarop dat heelwat negatiewe faktore rondom die rand uit die weg geruim is en  die geldeenheid veel beter kan vertoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jacques ·

Die graderingsmaatskappye is net nog ‘n NWO klug. Was dit nie vir die feit dat ons ons mineraalregte vir die kween gegee het nie, sou ons ook soos Vervoerd vir die wereld kon se, You need us, we dont need you.

Fryingfrog ·

Die enigste negatiewe faktore rondom die rand, is die voortgesette regering van die anc.

Eye of the Tiger ·

Ja Nêh! Van muishond status na Rubbish! Mooi man!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.