Landbou hou asem op vir begrotingsbeleidstelling

Boere se ekonomiese aktiwiteite sal ernstig beïnvloed word deur die regering se landboubegrotingsbeleid. (Foto: Maroela Media)

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, sal Donderdag sy eerste mediumtermyn-begrotingsbeleidstelling (MTBPS) lewer. Dié beleidstelling het ten doel om ʼn aanduiding te gee van die voorgenome fiskale beleidsrigting vir die medium termyn, oor die volgende drie jaar.

Agri Wes-Kaap en Agri SA het gesê daar is ʼn handvol belangrike dinge wat hulle hoop gesê gaan word.

“Agri Wes-Kaap is dankbaar vir die besonderse jaar wat die landbousektor beleef het. Daar is egter steeds bedrywe wat die nagevolge van die Covid-19-pandemie ervaar en finansiële ondersteuning van die staat benodig om weer op die been te kom,” sê Jannie Strydom, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap.

“Ons sien uit om te hoor watter steun die regering aan die landbousektor gaan gee wanneer Godongwana Donderdag sy mediumtermynbegrotingsraamwerk lewer.”

Dié organisasie voel sterk dat die posisie waarin die Landbank hom bevind nou dringend aandag moet kry, en nie net deur aan te hou om belastingbetalers se geld in ʼn bodemlose put te stort nie. Die bestuur en die struktuur van die instelling moet drasties reggeruk word indien daar hoop is om die Landbank enigsins weer doeltreffend op dreef te kry.

Volgens Strydom het die Wes-Kaap se uitvoere van landbouprodukte in 2020 uitstekend gevaar, terwyl die mediumtermynvooruitsig belowend lyk. Hy hoop daarom dat voldoende en dringende aandag aan die nodige infrastruktuur geskenk sal word.

“Verder het die nasionale rampbestuursentrum in Julie vanjaar die droogte wat tans steeds in dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap heers tot nasionale ramp verklaar. Dit is egter steeds onduidelik wat die omvang en formaat van ondersteuning aan die droogtegeteisterde gebiede gaan wees.

“Agri Wes-Kaap vertrou ook dat die begrotingsraamwerk meer lig sal werp op die tesourie se ingryping by Eskom. Die nutsmaatskappy se finansiële resultate vir 2020-’21, wat op 31 Augustus 2021 gepubliseer is, wys daarop dat die groep ʼn nabelaste verlies van R18,9 miljard gely het. Dít terwyl die enorme styging in kragtariewe en voortslepende beurtkrag besig is om die landbousektor uiters nadelig te beïnvloed. Dit hou ʼn geweldig hoë risiko vir die land se ekonomiese herstel én werkskepping in.

“Agri Wes-Kaap hoop dat die minister van finansies kennis neem van die bogenoemde dringende kwessies vir die landbousektor en dat dit in sy komende begrotingsraamwerk aandag sal kry.”

Agri SA sê hy verwag dat die beleidstelling twee hooftemas sal bevat. Kulani Siweya, landbou-ekonoom van Agri SA, sê die eerste is dat die minister die aansienlike afname in die tempo van fiskale agteruitgang weens ʼn kommoditeitsprys-meevaller wat inkomste opstoot, moet bespreek, asook die positiewe uitwerking daarvan op die fiskale verhoudings van hoër nominale BBP, wat ná afloop van Statistieke SA se vergelykingstudie en herbaseringsoefening aan die lig gekom het.

Die tweede tema is na verwagting die onsekere skuldvooruitsig, hoewel vanaf ʼn meer gunstige aanvangsposisie.

“Terwyl hierdie positiewe aspekte van ʼn korttermyn-aard is, moet ons let op die langtermynvooruitsig,” maan Siweya, “veral in ag genome die menige strukturele uitdagings wat die land steeds in die gesig staar.”

Hy sê sommige van die dinge waarna Agri SA sal kyk, sluit in sentimente rakende staatsondernemings en moontlike reddingsboeie waarvoor daar nie begroot is nie, asook die nasionale tesourie se onderneming om besteding in te kort. “Ons glo dat dit ons óf op die pad na algehele herstel sal plaas, óf dat ons meer van dieselfde van die nuwe minister en sy span kan verwag.”

Siweya sê, hoe dit ook al sy, die mediumtermynstelling behoort vertroue op verskeie terreine te skep. “Dit is iets wat ons broodnodig het, gegewe die afname in belegging in infrastruktuur, asook die behoefte aan inklusiewe groei wat tans nie onderhandelbaar is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.