Maak jou onderneming toekomsbestand met ʼn ESG-verslag

Foto ter illustrasie (Foto: Steve Buissinne, Pixabay)

Deur Leoné de Lange en Omri van Zyl van Agri Enterprises

Hoekom presteer sommige beleggings beter as ander? Hoekom presteer sommige nuwe ondernemings beter as hul mededingers? Die antwoord bestaan uit drie letters: ESG.

Die E in ESG, verwys na die omgewing (environment) se maatstawwe. Elke onderneming beïnvloed die omgewing en word beïnvloed deur die omgewing.

Leoné de Lange is Agri Enterprises se personeelbestuurder. (Foto: Agri Enterprises)

Omgewingsmaatstawwe is die hoeveelheid energie wat ʼn onderneming gebruik, die afval wat gegenereer word en die hulpbronne wat nodig is, oftewel die nagevolge wat dit op die samelewing het.

Die S staan vir sosiale maatstawwe, wat behels hoe sakeverhoudings met klante, werknemers, verskaffers, asook die gemeenskap as geheel bestuur word. Dit sluit ook arbeidsverhoudinge, verskeidenheid en inklusiwiteit in.

Die G staan vir bestuur (governance). Dit handel oor die interne stelsel waarmee ’n maatskappy bestuur word, onder andere die praktyke, beheermaatreëls en prosedures wat ʼn maatskappy instel.

Of jy nou ʼn groot of klein onderneming het, of ʼn belegger is, jy het ʼn raamwerk nodig as jy met die mark wil tred hou. Dit is waar ESG-verslagdoening inkom. ESG-verslagdoening het die potensiaal om inligting rakende die bestuur en veerkragtigheid van maatskappye te ontsluit, indien hulle waarde op lang termyn wil skep.

Omri van Zyl is Agri Enterprises se hoofuitvoerendebeampte. (Foto: LinkedIn)

Daar was onlangs ʼn merkbare toename in ESG-gesentreerde beleggings.

Volhoubare beleggings op die wêreldtoneel is nou sowat $30 triljoen werd en het sedert 2014 met 68% toegeneem.

ESG-verslae beskerm ʼn maatskappy se bates, help met besluite oor risiko’s en kan volhoubare opbrengste op lang termyn verseker. Dit kan ook help om klante, beleggers en regeringsowerhede te laat besef watter impak hul werksaamhede op die omgewing en op die samelewing het.

Daar is vyf maniere hoe ESG-verslagdoening waarde skep (Witold Henisz, 2019).

Groei op die boonste lyn

Navorsing deur McKinsey het gewys dat klante bereid is om te betaal om “groen te gaan”. ʼn Voorbeeld hiervan is Unilever wat Sunlight Liquid ontwikkel het, wat minder water as hul mededingers gebruik. Verkope van Sunlight en Unilever se ander produkte wat water bespaar, het ontsaglik gestyg en 20% vinniger as ander afdelings gegroei.

Indien ʼn maatskappy ʼn goed gedefinieerde ESG-verslag het, sal dit hulle in staat stel om toegang tot nuwe markte te verkry.

Kostebesparing en volhoubaarheid

Sowat 60% kan bespaar word indien jou ESG-verslag jou in staat stel om weerstand te bied teen die styging in rou materiale se koste soos waterverbruik, of aan die anderkant, uitgawes aan koolstofboetes.

Minder wetlike inmenging

Regulatoriese druk en administrasie is vir die meeste maatskappye ʼn kopseer. In plaas van nadelige inmenging, kan ʼn ESG-verslag as’t ware ondersteuning by die regering ontlok.

Sowat ʼn derde van ʼn onderneming se wins kan weens regeringsinmenging in gedrang kom. Die impak van regulasies verskil egter van bedryf tot bedryf. In die gesondheidsektor is 25% tot 30% van winste op die spel en in die bankbedryf kan dit tot soveel as 50% tot 60% wees.

Werknemerproduktiwiteit

ʼn ESG-verslag gee aan ʼn werknemer die gevoel dat hy of sy deel is van ʼn groter doel en begeester hulle om beter te presteer. ʼn Swak ESG-verslag kan egter ʼn remskoen wees en byvoorbeeld tot stakings en ander arbeidsoptrede lei. ʼn Mens kan dus redeneer dat die geluk van die werknemer ʼn regstreekse impak op die aandeelhouer se dividende het.

‘n Raamwerk vir ‘n sterk ESG-Verslag. (Diagram: PriceWaterhouseCoopers)

Optimalisering van beleggings en bates

Langtermynomgewingskwessies wat beleggings raak, kan maklik met behulp van ʼn ESG-verslag uitgewys word. Dit kan egter ook help om opbrengste te verhoog deur uit te wys wanneer kapitaal aan meer belowende en volhoubare geleenthede toegeken moet word.

In onlangse tye het die mensdom duidelik bewus geword van die uitwerking van omgewing-, sosiale en bestuursfaktore op ondernemings. Die belangrikste onlangse voorbeeld is die Covid-19-pandemie. Dit moet ons dwing om ons ESG-verslaggewing aan te pas. Dit is nie net vir ons ondernemings se welstand nie, maar ook vir wêreldwye welvaart.

Covid-19 en die klimaatskrisis het ons laat besef dat ons nie die meesters van die planeet is nie, maar eerder rentmeesters van die natuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.