Maatskappynuus bewys SA ekonomie is onder druk

rhodes-food-groep

Die voedselprodusent Rhodes Food sukkel met voorgesette probleme by Ma Baker. Foto: Rhodesquality.com

Die jongste maatskappy-uitslae wat verlede week uitgereik is, het een kernfeit onderstreep. Dit is dat die Suid-Afrikaanse ekonomie onder groot druk is. En dit is veral verbruikers wat aan die kortste ent trek.

Die voedselprodusent Rhodes Food het aangekondig dat sy wins vir die boekjaar tot September met 34,3% tot R154,3 miljoen getuimel het. Die groep se bedryfswins het met 8,9% tot 6,1% verswak.

Rhodes Food skryf die treurmare toe aan voorgesette probleme by Ma Baker – die Pietermaritzburg-gebaseerde pasteivervaardiger wat hy twee jaar gelede bekom het. Die transaksie het R212 miljoen beloop. Ma Baker is verkry om Rhodes Food se stem in die pasteimark dik te maak.

Volgens die maatskappy het hoër insetkostes nie tred gehou met prysverhogings in die mark nie. Rhodes sê ook die herstrukturering van Ma Baker gaan langer neem as wat beplan is.

Die maatskappy het ’n dividend van 20,3 sent uitbetaal. Dit was 34,7% laer as die vergelykende periode ’n jaar gelede.

Ma Baker is in 1987 gestig en verskaf grootliks sy produkte aan kleinhandelaars. Onder Rhodes Food se handelsmerke is Rhodes, Magpie, Bisto, Bull Brand en Hinds.

In die afgelope boekjaar het sy omset met 11,2% tot R5,1 miljard gestyg.

Intussen het Lewis, die meubelkleinhandelaar, aangekondig dat sy inkomste 55% vir die tussentydse periode tot September verstewig het weens beter verkope. Dit toon ’n skerp verbetering van sowat tien jaar gelede toe meer as die helfte van sy inkomste uit rente, versekering en ander tariewe gelewer is.

Sy omset het in die periode met 9% tot R2,9 miljard geklim, terwyl die verkoop van meubels met 26% tot R1,6 miljard getyg het.

Die maatskappy het ook sy dividendbetaling met ’n aks verhoog. Die afgelope twee jaar het dit R1 beloop. Dit is nou tot R1,05 verhoog.

Onder Lewis se handelsname is Lewis, Beares en Best Home & Electric.

Die kitskos- en koffiegroep Taste Holdings het ’n handelsverklaring uitgereik waarin hy waarsku dat hy nie ’n wins nie, maar wel ’n verlies vir die jaar tot Augustus gaan ly.

Taste sê sy verliese kan agt sent per aandeel beloop. Dit sal ongever die helfte minder wees as ’n jaar gelede.

Die groep sê hy sukkel steeds om dividend van sy belegging in die handelsmerke Starbucks en Domino’s Pizza te kry.

Die hotel en dobbelgroep Tsogo Sun is ook deur die koue ekonomiese windjie gevang. Die groep sê dat sy toeskryfbare wins per aandeel in die tussentydse periode tot September 78,8 sent per aandeel beloop het. Dit was bykans onveranderd teenoor ’n jaar gelede.

Tsogo sê sy klante was onder ekonomiese druk en verdienste per aandeel is ook gestriem deur die aankoop van Vukani Slots en Galaxy Bingo.

Tsogo bedryf die Southern Sun en Garden Court hotelle. Sy bedryf is in, onder meer, Suid-Afrika, Nigerië en Mosambiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Naas Vermaak ·

Nee wat….klink nie so sleg nie..,

Rhodes nog steeds aanvaarbare wins, Lewis is op , Taste sit met duur handelsmerke, so dis te verstane, Tsogo is vir die dobbelaars….maar selfde as laas jaar….
Opskrif….wat ek terloops glo…pas nie by berig nie…sal toepaslike voorbeelde moet gee asb

Theresa B ·

Ek love Rhodes se produkte. Maar ja – ons moet die liewe Regering bedank vir al hierdie dinge in ons land. Ons gaan nog soos volstruise met ons koppe in die grond sit. Hierdie mense het geen idee hoe om ‘n land te regeer nie. Elkeen sorg net vir homself. Dit lees en sien jy elke liewe dag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.