Maatskappynuus: Kumba, Transnet, SAL en die regering se pensioenfonds

Argieffoto

Die Anglo American-beheerde Kumba Iron Ore sê hy gaan laer volumes ystererts in die huidige boekjaar uitvoer. Dit volg nadat ’n brug op die Sishen-Saldana-spoorlyn naby Vredendal beskadig is.

Volgens Transnet, wat die spoorlyn bedryf, het ’n vragtrok een van die brûe beskadig nadat sy vrag losgekom het terwyl dit onder die brug gery het.

Transnet sê hy verwag dat die brug, wat verlede week beskadig was, teen Sondag herstel sal wees en uitvoervrag op die spoorlyn hervat kan word.

Die Sishen-Saldanha-spoorlyn is spesifiek aangelê om ystererts by die Saldanha-hawe te kry vir uitvoer. Daar is geen ander alternatiewe spoorroete om ystererts by Saldanha te kry nie. Die ystererts is ook een van die land se grootste verdieners van buitelandse valuta.

In reaksie hierop het Kumba aangedui dat sy verwagte produksie vir uitvoer tussen 43 en 44 miljoen ton kan beloop ondanks die ontwrigtings wat die ongeluk meegebring het. Dit is aan die laer kant van sy verkoopsvooruitsig.

Die maatskappy beraam dat sy totale verkope tussen 42 en 44 miljoen ton kan beloop.

Transnet het bevestig dat die herstelwerk aan die spoorlyn op dreef is.

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Intussen het die Regeringwerknemers-pensioenfonds (Government Employees Pension Fund [GEPF]) aangekondig dat hy na maniere kyk om te diversifiseer na die Steinhoff-skandaal sy afhanklikheid aan plaaslike aandele blootgestel het.

Die fonds het aangedui dat hy maniere wil vind om die R1,8 triljoen wat hy onder bestuur het, in nuwe bates te belê. Hy kyk, onder meer, na beleggings op buitelandse markte.

Volgens Abel Sithole, sy bestuurshoof, is die pensioenfonds in samesprekinge met die Nasionale Tesourie om die nodige veranderinge aan te bring. Hy sê die stap kan ekonomiese groei  en ontwikkeling in die land ondersteun.

Die pensioenfonds, wat aan die Openbare Beleggingskorporasie ’n mandaat gee om sy geld te belê, het erken dat hy in Eskom geld belê het. Hy het egter geen geheim daarvan gemaak dat hy nie geld in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wil of gaan belê nie.

In die boekjaar tot einde Maart het die pensioenfonds die R4,3 miljard afgeskryf wat hy aan die Lancaster Group, wat Steinhoff se swart bemagtigingsvennoot was, afgeskryf.

Op 31 Maart 2017 het die pensioenfonds se aandeelhouding 10% van Steinhoff beloop. Dit het een persent van die pensioenfonds se bates verteenwoordig.

Die fonds moes ook R1 miljard afskryf wat hy in die Independent News & Media belê het. Die beleggings was in die vorm van lenings en voorkeuraandele.

Nog R375 miljoen wat in VBS Bank belê is, is afgeskryf. So ook die R492 miljoen wat sy weg na Agri-Poultry gevind het.

Ondanks die afskryf van die beleggings het die pensioenfonds se portefeulje met 8,3% tot R1,8 triljoen gestyg. Die opbrengs op sy belegging het 8,5% beloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Waneer daar n BEHOORLIKE ondersoek na die fonds en sy beleggings sedert ’94 gedoen word,sal State Capture onder Zuma na n piekniek lyk.Al wat gese moet word is soveel % groei Vir die jaar en almal is happy.Dis natuurlik danksy ou beleggings gedurende apartheid in blou aandele soos Sanlam,Sasol,Old Mutual,SAB,Absa, First Rand,Remgro,Anglo ens asook meestal in vaste bates,Malls wat ook daai tyd gedoen is.Dit sal wel een of ander tyd op die lappe kom….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.