Maatskappynuus: MTN, Famous Brands hof toe en Clicks styg uit

Argieffoto

Twee Suid-Afrikaanse maatskappye wat in die buiteland groener weivelde gaan soek het en wind van voor gekry het, gaan hul tot regsaksie wend om uit hul dilemma te kom.

Beide MTN en Famous Brands is swaargewigte op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) en hul aandeelpryse het vanjaar deurgeloop weens onderskeidelik regulerende probleme in Nigerië en die volgehoue sukkel-vertoning van Gourmet Burger Kitchen in Brittanje.

MTN is Afrika se grootste selfoongroep. Hy verdien een derde van sy toeskryfbare wins in Nigerië.

In MTN se geval wend die maatskappy hom na Nigerië se hoogste hof om sy dispuut met die land se sentrale bank van $8 miljard op te los. Die sentrale bank sê MTN het die geld onwettig uit die land geneem.

MTN ontken dat hy enigsins verkeerdelik opgetree het en die nodige toestemming vir die repatriasie van die geld gehad het. Boonop eis die land se prokureur-generaal ook $2 miljard vir uitstaande belasting.

Die Nigeriese regering sê egter dat hy optimisties is dat die probleem binnekort opgelos kan word. Dit blyk egter dat Nigerië se hardhandige optrede teenoor MTN die afgelope twee jaar sy tol begin eis het met buitelandse beleggers wat nou die land vermy.

’n Beleggingsontleder, Okechukwu Enelamah, sê die Nigeriese regering se optrede is daarop gemik om beleggersentiment te herstel. Hy het aan Reuters bevestig dat daar afsonderlike samesprekinge met die regering en MTN gehou is.

Die saak teen die sentrale bank is vir Dinsdag beplan, terwyl die belastingsaak op 8 November aangehoor word.

Intussen het Famous Brands – die kitskosgroep wat, onder meer, Wimpy, Steers en Debonairs besit – aangekondig dat hy van die sukkelende Gourmet Burger Kitchen se restaurante gaan sluit.

Die sluiting raak eetplekke in die Verenigde Koninkryk en in Suid-Afrika. Famous Brands beoog om ’n kwart van sy 80 eetplekke in die VK te sluit.

Die maatskappy het ook aansoek gedoen vir die vrywillige likwidasie van Gourmet Burger Kitchen in die VK. Die maatskappy sê dit sal hom help om die burgerketting weer in ʼn gesonde stand te kry.

ʼn Toename in mededinging en lae verbruikersvertroue het tot die sluiting van honderde restaurante in die VK gelei.

Gourmet Burger Kitchen het swaar op Famous Brands se aandeleprys geweeg. ʼn Week gelede het die maatskappy gewaarsku dat sy wesensverdienste vir die jaar tot Augustus tot R6,23 per aandeel gaan daal teenoor die wins van R1,71 per aandeel die vorige jaar.

Die groep sê dit is te wyte aan R847 miljoen wat hy by Gourmet Burger Kitchen, sal moet afskryf. Famous Brands het Gourmet Burger Kitchen in 2016 vir R2,1 miljard bekom.

clicks-groep

Foto: Clicksgroup.co.za

Die gesondheid- en skoonheidskleinhandelkettinggroep Clicks het David Kneale sy uittredende bestuurshoof ʼn blink afskeidsgeskenk gegee. Die groep het aangekondig dat sy netto wins vir die jaar tot einde Augustus met 15,5% gestyg het.

Onder Kneale se leiding het Clicks van ʼn sukkelende maatskappy in die laat 1990’s tot een van die JSE se Top 40 beste maatskappye gevorder. Dié maatskappy is in Junie in die Top 40-indeks van top-aandele ingesluit.

Sy netto wins het R1,5 miljard beloop. Sy omset was R31 miljard. Clicks het ʼn dividend van 380c, 18% hoër as ʼn jaar gelede verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.