Maatskappynuus: Shoprite en Imperial kry wind van voor, Ford het goeie nuus

shoprite

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse ekonomie se wurggreep is besig om ’n stewige houvas op twee van die land se voorste maatskappye uit te oefen. Ondanks die slegte nuus, was daar ook goeie nuus van ’n staatmaker-motorvervaardiger.

In die spervuur is Shoprite-Checkers en Imperial Holdings Group wat die wind van vooraf kry weens die land se striemende ekonomiese toestande.

Shoprite, Afrika se grootste kleinhandelgroep, het in sy jongste kwartaalverslag tot die einde September aangekondig dat sy bedryfswin in die periode bykans onveranderd was.

Die maatskappy se swak verbruikersentiment in SA het hom veral gekortwiek. Die Suid-Afrikaanse ekonomie is tans op die agtervoet nadat dit in ’n tegniese resessie verval het en werkskepping faal om stukrag te kry. Die twee faktore het uiteraard verbruiksbesteding en sentiment gekniehalter.

Shoprite se aandeelprys is sedert die uitreiking van die verslag onder konstante druk. Die maatskappy het bygevoeg dat verkope in sy Suid-Afrikaanse winkels met net 1,7% gedurende die periode gegroei het. Gedurende dieselfde periode, ’n jaar gelede, het verkopegroei 8,1% beloop.

Die groep se omset, wat al sy winkels in Afrika insluit, het net 0,4% beloop. Shoprite sê dat van die lande waar hy bedrywig is, gedurende dié periode, skerp devaluasies van hul valuta ervaar het wat ook sy syfers nadelig beïnvloed het.

Nog ’n duiwel wat Shoprite identifiseer, is die volgehoue daling in voedselinflasie binne die groep en ’n ses weke lange staking by sy verspreidingsentrum in Gauteng. Voedselinflasie het gedurende die kwartaal met -0,1% verswak.

Kenners wys egter daarop dat die papper verkoopsyfers gesien moet word in die lig van die volgehoue brandstofprysverhogings en die styging in belasting op toegevoegde waarde.

Die verkope in nie-Suid-Afrikaanse winkels in die groep het met 8,6% gedaal. Dit was grootliks te wyte aan die devaluasie van die Angolese kwanza en die Zambiese kwacha.

Op ’n optimistiese noot sê Shoprite dat die situasie nou stabiliseer en dat dit ’n positiewe effek op sy verkoopsvolumes het.

Shoprite sê sy OK-kettinggroep, MediRite-apteke en Computicket het ’n goeie bydrae oor die kwartaal gelewer. OK Furnishers se verkope het met 8,7% gestyg.

Volgens Shoprite het hy 15 nuwe OK-winkels gedurende die kwartaal geopen en beoog om ’n verdere vier voor die einde van Desember te open.

Intussen het die Imperial Holdings Group, wat tans die verdeling van die maatskappy finaliseer, gewaarsku dat sy vooruitsigte vir die huidige boekjaar effens vertroebel het.

Imperial sê kwessies wat sy operasies stonk, sluit in Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer, die negatiewe groeikoers, die BTW-verhogings en die brandstofstygings wat sy logistieke besighede kniehalter.

Die maatskappy sê gevolglik het volumes afgeneem en verbruikersvraag is pap.

Die maatskappy beoog om in twee te verdeel. Die logistieke afdeling aan die een kant en die motorverkope aan die ander kant.

ford1

Foto: AP Photo/Alan Diaz.

En die Ford Motor Company het goeie nuus gehad. Die maatskappy, een van SA se voorste motorvervaardigers, het aangekondig dat hy sedert 2009 R11 miljard in Suid-Afrika belê het.

Ford s die beleggings en uitbreidings het sy kapasiteit vir uitvoere verhoog. Hy voer tans 168 000 voertuie uit na die buiteland.

Boonop sê die maatskappy dat hy voorsiening gemaak het vir verdere groei en die skep van bykomende poste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henk ·

Wel na my ervaring met imperial toyota nelspruit verbaas dit my nie

Piet Pompies ·

Nogal toevallig, toe ek die berig lees is die eerste ding wat in my gedagte opkom die handelaar in Nelspruit. Ons wou nog besigheid doen toe flikker die rooi ligte klaar, soveel arrogansie teenoor kliente het ek nog nie ervaar. Gelukkig is die persoon nie meer in diens van die groep nadat sy vingers in die geldlaai vasgeslaan is. Dit is jammer dat Imperial bedrog binne sy besigheid nie bekend maak as deel van sy groei probleme

What a joke! ·

Los dit in die patetiese onbevoegde anc se hande hulle sal die hele land opdons sonder n gewete!!! Hul dink dis so maklik soos verhoog net die petrol prys, verhoog net elektrisiteit pryse looi hul die wets gehoorsame belasting betalers meer en meer met e-tol ens alles sodat hul net hul korrupte soustrein kan aanhou ry! iewers gaan die wiele afkom….iewers Langs die pad gaan mense se genoeg! Dinge begin nou inplof!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.