Markte katvoet vir moontlike aankondiging oor kredietgradering

kredietgradering-senp-standardenpoor

‘n Skermskoot van die kredietagentskap S&P se webwerf.

Suid-Afrikaanse finansiële markte sal waarskynlik vandag katvoet beweeg op Standard & Poor’s Global se verwagte aankondiging oor die land se kredietgradering.

Ekonome sê buiten beleggers, sal die regering ook senuagtig wees  in afwagting op die besluit. Die maatskappy, wat saam met Fitch vir Suid-Afrika op rommelstatus het, sal na verwagting nie aan sy huidige gradering torring nie.

Die rand het vandeesweek, en veral ná gister se rentekoersbesluit deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank tot onder die vlak van R14 teenoor die Amerikaanse dollar verstewig.

Op markte word daar juis gespekuleer dat die monetêre beleidskomitee se besluit juis pro-aktief was om aan graderingsmaatskappye te toon dat dit onafhanklik is en ongewilde besluite kan neem om inflasie hok te slaan. Daar is egter ’n mening dat die besluit die sukkelende ekonomie kan strem juis omdat dit nou duurder gaan wees om geld te leen.

Die ekonomiese agentskap NKC Research voorspel dat S&P die status quo oor Suid-Afrika se gradering sal behou.

Die land is tans op een kerf onder beleggingstatus. En sy gradering vir die land se buitelandse valuta-verantwoordelikhede is twee kerwe onder  beleggingstatus.

S&P het by ’n vorige hersiening van die land se gradering besluit om rand-gedomineerde skuld op BB+ te hou. Die buitelandse skuld is op BB-.

NKC sê ofskoon daar ietwat haakplekke in die mediumtermyn-begrotingsraamwerk was en ’n teleurstellende ekonomiese groeivooruitsig vir 2018 is, behoort dit S&P nie nou al tot ander insigte te dwing nie.

Volgens NKC is daar effens vordering gemaak ten opsigte van die uitroei van korrupsie en wanbestuur by staatsbeheerde ondernemings (SBO’s). Die SBO’s, waaronder Eskom, Transnet en Denel, is grootliks deur staatskaping lamgelê.

En dit is juis Eskom, Denel en die SAUK wat tans staatmaak op die staat om hulle uit hul finansiële verknorsings te red.

Die maatskappy sê daar is vordering gemaak met die SBO’s se bestuur en strukturele hervorming is onderweg. Dit voeg by dat hierdie faktore steun sal verleen sodat S&P nie nou aan sy gradering sal peuter nie.

Getuienis wat tot dusver by die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping gelewer het, het die feit onderstreep. Die vorige minister van minerale hulpbronne, Mosebenzi Zwane, is direk by name geïmpliseer. Transnet het sy vorige bestuurshoof, Siyabonga Gama, afgedank. Laasgenoemde het die hofsaak om sy pos terug te kry, juis dié week verloor.

Tot dusver het getuies getoon dat beide Zwane en Gama aksies geneem het wat die Gupta-broers geldelik bevoordeel het.

Intussen is daar ook die mening uitgespreek dat die gronddebat nie juis ’n groot invloed op S&P se graderingsbesluit sal het nie. Veranderinge by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) word ook as ’n positiewe skuif gesien. Daar is ’n mening dat S&P sal wag op die begroting in Februarie alvorens hy wel oor die land se kredietstatus sal besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.