Mediese uitkoms wyl POF sloer

Foto ter illustrasie. (Foto: Valomate)

’n Geskatte 1,9 miljoen slagoffers van padongelukke in Suid-Afrika is nie in staat om die mediese behandeling wat hulle benodig by privaat gesondheidsorgverskaffers te kry nie, ondanks ondernemings deur die omstrede Padongelukkefonds (POF) dat hul gesondheidsorguitgawes gedek sal word.

Artikel 17(4)-ondernemings wat deur die POF uitgereik word, maak voorsiening vir pasiënte om deur privaat gesondheidsorgverskaffers behandel te word, en dié koste word deur die POF betaal. Die meeste mense ontvang egter nie behandeling nie omdat hulle nie vooraf uit hul eie sak daarvoor kan betaal nie. Pasiënte word eers deur die POF vergoed nadat die koste aangegaan en die behandeling verskaf is.

Volgens Bianca van Zyl, uitvoerende hoof van Valomate Mediese Dienste, het een hospitaalgroep POF-skuld van meer as R300 miljoen opgehoop, terwyl verskeie mediese spesialiste in die media te kenne gegee het dat dié fonds hulle etlike miljoene rande skuld. “Privaat gesondheidsorgverskaffers kan eenvoudig nie bekostig om hierdie las vir lang tydperke te dra totdat die POF opdok nie.

“Privaat gesondheidsorgverskaffers is oor die algemeen nie bereid om hierdie sake aan te pak nie, aangesien baie eise deur die POF verwerp word. Boonop neem suksesvolle eise tussen 180 en 210 werkdae om afgehandel te word. Die proses is ingewikkeld en die POF gaan eers die noodsaaklikheid en redelikheid van die behandeling na vóór betaling, wat meer tyd by ’n reeds verlengde tydsraamwerk vir terugbetaling voeg.

“Valomate maak dit nou vir pasiënte moontlik om privaat mediese behandeling te kry wat verband hou met ’n aanvanklike POF-eis, mits ’n artikel 17(4)-onderneming deur ’n hofbevel verkry is. ’n Artikel 17(4)-onderneming verbind die POF om die slagoffer te vergoed vir toekomstige hospitaal- en mediese behandeling nadat die koste aangegaan en die behandeling verskaf is,” sê Van Zyl.

Danksy ’n vennootskap met Taurus Capital fasiliteer Valomate die nodige behandeling met mediese diensverskaffers, sonder enige koste vir die pasiënt, en administreer die POF-eise namens hulle.

Die POF maak voorts voorsiening vir slagoffers van padongelukke om in ’n noodgeval by ’n privaat hospitaal behandel te word. Die POF verwerk hierdie betalings soos wat artikel 17(5)-verskaffers eis. Valomate, wat saam met mediese nooddiensverskaffers werk en ’n streng keuringsproses volg, is in staat om eise teen die fonds namens verskaffers te bestuur.

“Valomate dra die volle risiko van die eis van privaat mediese diensverskaffers. Ons het ’n streng assesseringsproses, hanteer die spesialisadministrasie van artikel 17(4)-ondernemings deur die POF en artikel 17(5)-verskafferseise, en waarborg betaling aan die mediese diensverskaffer binne 60 dae.”

Die pasiëntkategorieë wat Valomate vooraf finansier en administreer, is dié waar lewensreddende behandeling onmiddellik benodig word, asook waar daar noemenswaardige beserings is wat nie lewensgevaarlik is nie, soos frakture of knievervangingsoperasies. Skakeling met verskeie partye, soos spesialiste en behandelingsgeriewe, is ook by hul diens ingesluit.

“Byna 200 000 artikel 17(4)-ondernemings word jaarliks deur die POF uitgereik, maar slegs 4,5% van hierdie ondernemings is aktief. Daar is dus (nog) duisende mense wat gehelp kan word om die mediese behandeling te ontvang wat hulle toekom,” sê Van Zyl.

In 2021 het Valomate se POF-pasiënte gemiddeld 12 dae in die hospitaal deurgebring teen ’n gemiddelde koste van sowat R270 000 per pasiënt. Die mees algemene beserings was veelvuldige frakture. Dié groep se netwerk bestaan ​​uit 26 gekontrakteerde hospitale, 84 gekontrakteerde spesialiste en agt gekontrakteerde ambulansverskaffers.

Taurus Capital bied op sy beurt via sy RAFPay-platform onmiddellike finansiering aan slagoffers van padongelukke wat ’n toekenning deur die howe ontvang het, maar soms jare lank op vergoeding moet wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wondermaarnet ·

Skuld het opgehoop omdat die koffer geplunder is deur die kaders en hul slinkse prokureurs.

VaalDonkie ·

Selfde met die covid-inenting fonds vir diegene wat beserings opdoen. En ek praat nou nie net van sterftes nie. Ek praat van mense wat siek raak en vir twee weke van die werk af moet bly en sulke goed. Daai fonds is veronderstel om hulle te vergoed. Maar niemand weet waar daai geld heen is nie.

Anel ·

Net soos met ‘n besering aan diens. As jy nie mediese fonds het nie en seer kry by die werk, moet jy maar na staats instansie gaan. Met mediese fonds, moet jou medies betaal. Jy sien ook nooit weer daardie geld nie.

Chantel ·

En dan wil hulle steeds NHI afdwing!!! Kan nie eers hierdie reg stuur en beheer nie. Lagwekkend.
Maar die maatskappy betaal hulle geldjies elke jaar om hulle lede te beskerm daarteen. Nee wat, daar is nie hoop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.