Meubels en linne nou ook deel van TFG-groep

Coricraft, Dial a bed, The Bed Store en Volpes is deel van die Tapestry-groep. (Foto: Verskaf)

The Foschini Groep (TFG) het aangekondig dat hy die Tapestry-groep, eienaar van die meubelwinkels Coricraft, Dial-a-Bed en The Bed Store, asook die linnehandelaar Volpes, vir R2,35 miljard gaan koop sonder om enige bykomende skuld aan te gaan.

TFG, wat ook Markham, Jet en @home besit, sal met dié transaksie sy vervaardigingsvermoë noemenswaardig uitbrei om die vervaardiging van meubels en matrasse in te sluit. Die groep hoop om sodoende ’n groter deel van die huiswaremarkkoek, waarvan die waarde op sowat R12 miljard gereken word, te bekom.

Tapestry, wat in 2005 op die been gebring is, het 175 winkels in Suid-Afrika, Namibië en Botswana en vervaardigingsgeriewe in Kaapstad, Johannesburg en Gqeberha. Sy plaaslik vervaardigde produkte is verantwoordelik vir bykans die helfte van sy netto verkope en die groep het sowat 2 500 werknemers in diens.

TFG het die kleinhandelreus Pepkor, wat verlede jaar belangstelling in Tapestry getoon het en Ackermans, Russells en Sleepmasters besit, uitgestof om die totale uitgereikte aandelekapitaal van Tapestry Home Brands van Westbrooke Investments te verkry.

Volgens TFG sal die transaksie, indien dit deur die mededingingsowerhede goedgekeur word, nuwe produkte, kategorieë en klante ontsluit, wat die huidige TFG-klantebasis uitstekend aanvul. “Tapestry se unieke sakemodel, met maklik skaalbare plaaslike vervaardigings- en verspreidingsvermoëns, is ’n skitterende strategiese pasmaat vir TFG.

“Die transaksie strook met TFG se strategie om sy plaaslike vervaardiging- en verkrygingsvermoë uit te brei. Dit gee stukrag aan ons planne om plaaslike verkryging uit te bou in ’n segment wat deur ingevoerde goedere oorheers word,” het TFG gesê.

Die groep het voorts gesê dat die verkryging van Tapestry sy huidige @home-bedrywighede sal aanvul wat gehalte linne, kombuisware, dekor en meubels in die middel tot boonste marksegmente bied, en verdere geleenthede ontsluit vir Jet Home, wat moderne huisware verkoop.

TFG het Jet in 2020 by die sukkelende Edcon opgeraap in ’n transaksie wat hom R480 miljoen gekos het. TFG het 425 Jet-winkels van Edcon verkry en later Jet Home-winkels binne 345 bestaande Jet-winkels geopen. Die groep het sy eerste alleenstaande Jet Home-winkel op 28 Oktober 2021 geopen en het sedertdien nog nege geopen. Die groep het vroeër gesê hy beplan om nog 100 Jet-winkels oor die volgende paar jaar te open.

Ná die verkryging van Tapestry sal TFG nege huiswarehandelsmerke hê, naamlik @home, @homelivingspace, Jet Home, Coricraft, Volpes, Dial-a-Bed, The Bed Store, Granny Goose en Biggie Best, asook vier vertikaal geïntegreerde fabrieke vir die vervaardiging van matrasse, gestoffeerde meubels, huishoudelike tekstiele, en duvets en kussings. TFG besit benewens die Jet- en Foschini-klerewinkels ook die juwelierswinkels American Swiss, Sterns en Galaxy & Co.

Massmart wil uitbrei

Intussen het Massmart, die eienaar van Builders Warehouse, Makro en Game, gesê hy beplan om ná ’n verlies van R2,2 miljard vir die boekjaar tot einde Desember sy winkelvoetspoor drasties oor die volgende vyf jaar uit te brei.

Die groep beoog om minstens 50 Builders- en vyf Makro-winkels oop te maak. Hy het reeds 118 Builders- en 22 Makro-winkels en hoop om sodoende die verkope by dié twee handelaars tot onderskeidelik R2,4 miljard en R7 miljard op te stoot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.