Miljoene belastingbetalers outomaties geassesseer

Argieffoto.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het verlede week afgeskop met ʼn outomatiese assesseringstelsel wat die belastingopgawes van sowat drie miljoen belastingbetalers namens hulle sal indien.

Meer as ʼn miljoen belastingbetalers het reeds SMS’e ontvang wat aandui dat die SAID hulle outomaties vir die afgelope belastingsjaar geassesseer het.

Volgens Edward Kieswetter, die SAID se kommissaris, word die stelsel ingestel om belastingbetalers te help om hulle belastingopgawes nog makliker in te dien. Die SAID sal die stelsel met die verbeterde MobiApp en eFiling-platforms bedryf.

Kieswetter het gesê die SAID het sy belegging in die gebruik van data, masjiengebaseerde leeralgoritmes en kunsmatige intelligensie verhoog om die akkuraatheid van die opgawe te verbeter.

Die inligting vir die outomatiese assesserings word van derde partye, soos finansiële instellings, aftreefondse, mediese skemas en werkgewers, getrek.

Belastingsbetalers kan steeds kies of hulle die outomatiese opgawe aanvaar, maar dit is nie verpligtend nie, veral as hulle dink daar is bykomende inligting wat nie ingedien is nie. Belastingbetalers sal ook moet seker maak dat hulle outomatiese opgawe al die regte inligting, wat hulle IRP5 insluit, bevat.

Kieswetter hoop dat die verbeteringe aan die SAID se digitale diens nie net eerlike belastingsbetalers sal help nie, maar ook belastingbedrog sal identifiseer sodat daar vinniger teen ontduikers opgetree kan word. Terselfdertyd wil die diens ook fisieke besoeke aan sy kantore in die Covid-19-pandemie beperk deur soveel as moontlike belastingbetalers aan te moedig om hulle opgawes aanlyn in te dien.

eNCA.com het berig dat ongeveer 62 000 belastingbetalers hul opgawes op een dag ingedien het nadat die nuwe outomatiese stelsel by Jan Taks ingestel is.

Die nuwe stelsel word ingestel in ʼn tyd wat die SAID stoei om belasting in te vorder. Volgens Kieswetter het belastinginkomste met sowat 23% afgeneem, terwyl berig word dat SAID ʼn tekort in die gesig staar wat gesamentlik meer as die lenings by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Afrika-ontwikkelingsbank (AfDB) aan Suid-Afrika beloop.

Na raming kan dit ʼn bedrag van R82 miljard wees, terwyl grense ook gesluit bly en inkomste uit die oord ook opdroog. Sowat R15 miljard se aksynsbelasting word tans ook nie ingevorder nie met die verbod op sigarette en alkohol.

Kieswetter het gesê voorlopige belastingbetalers sal tot einde Januarie 2021 hê om hulle uitstaande opgawes elektronies in te dien.

Kennisgewings van outomatiese assessering sal in Augustus per SMS aan die 3,1 miljoen individuele belastingbetalers gestuur word wat verkies om hul opgawes op die MobiApp of eFiling-platform in te dien.

Tussen 1 September en 16 November kan belastingbetalers wat hulp met hul opgawe benodig, die SAID-sentrums kontak om hul opgawe met die behulp van ʼn agent te voltooi.

Die sluitingsdatum vir belastingsbetaler wat hul belastingopgawe aanlyn met die MobiApp of e-Filing indien, is 16 November.

Die sluitingsdatum vir belastingbetalers wat verkies om hul opgawe by ʼn SAID-kantoor in te dien, is 22 Oktober.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wondermaarnet ·

Ek is regtig nie beïndruk dat hulle namens my ‘n assessment uitgereik het nie. Ek het nog mediese uitgawes om te eis en hulle maak soos hulle wil.

Johan Venter ·

Jy hoef dit nie te anvaar nie, as die bedrag nie reg lyk nie handig dit in soos normaal

Johan ·

Soos hierbo aangetoon word, hoef jy nie die outomatiese opgawe te aanvaar nie. Die bykomende mediese uitgawes kan dus steeds ingedien word vir verwerking.

Jack Russ1 ·

Dit wys jou maar net dat mense nie meer lees nie. Lees net die opskrif en dan spring hulle op hulle perdjie

JouPa ·

Hulle het dit darem nie so erg verkeerd gekry soos wat ek gedink het hulle sou nie. My net 5 min gevat om reg te maak. Nou net om te wag dat hulle eendag uitbetaal

Henk ·

Wees maar baie versigtig vir die ou ‘gunsie’ wat SARS vir jou doen. Deel van my vergoeding is ‘n vervoertoelaag omdat ek my privaat voertuig vir werksdoeleindes gebruik. Dit word uitdruklik so op die IRP5 aangedui. Tog het SARS ‘goedgunstelik’ my belasting geasseseer sonder dat ek ‘n reiskoste eis ingedien het, en raai wat was die resultaat? Ek skuld hulle geld! Ja, daar is wel die opsie om dit te aanvaar of nie, maar ek kan met redelike sekerheid voorspel dat daar mense gaan wees wat dit gaan mis en dan belasting gaan betaal wat hul nie verskuldig is nie. Nadat ek my reiskoste eis ingedien het moet ek geld terugkry, nie inbetaal nie.

Jack Russ1 ·

Soos jy tereg gesê het is daar ‘n opsie om dit te aanvaar of nie. Gaan dit nie makliker werk indien SARS ‘n hele klomp klein opgawes automaties kan assesseer en dan meer tyd het om te spandeer op opgawes waar mense moet geld terugkry en vir maanda daarvoor moet wag nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.