Moeilike jaar lê vir Mboweni voor

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Tito Mboweni, minister van finansies, se moeilikste jaar as politikus staar hom waarskynlik in die gesig. Dr. Adrian Saville, bestuurshoof van Cannon Asset Managers, sê ofskoon baie van die land se fiskale uitdagings op Mboweni se skouers sal val, sal van sy kabinetskollegas ook hul kant moet bring.

“Die land is by die kruispad.”

Hy waarsku dat die uitdagings wat Mboweni moet gaan aanpak, egter rondom die politieke stryd in aanloop tot die algemene verkiesing beduiwel kan word.

Saville sê dat een groot knelpunt waarskynlik die finansiële waarborge vir staatsbeheerde ondernemings gaan wees. Hy meen dat sou die regering enigeen van die sukkelende ondernemings vanjaar met lenings en waarborge ondersteun, dit negatief vir staatsskuld sal wees.

Hy is van mening dat vanjaar ʼn verkiesingsjaar is en juis om stemme te wen, sal die regering waarskynlik goedgunstiglik op versoeke vir bykomende geld reageer.

“Sulke lenings en waarborge sal egter met streng voorwaardes en vereistes kom,” het hy gesê.

Volgens Saville is die staatsbeheerde maatskappye in ʼn opdraande stryd om positiewe uitslae te lewer. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika nou weet dat die SAL nie ʼn lewensvatbare bate is nie, terwyl Eskom nog geld nodig het om dit om te draai.

Hy sê addisionele geld kan die staatsbeheerde ondernemings (SBO) op die kort termyn stabiliseer. Maar hy waarsku dat volgehoue waarborge en lenings op die lang termyn die gat waarin die SBO’s hul bevind, net dieper sal grawe.

Saville wys daarop dat sou die regering die SBO’s help, dit die regering se skuldvlak met 9% kan verhoog.

“Die entiteite is in ʼn stryd gewikkel om te oorleef en hulle toon geen positiewe uitkering op die beleggings wat hulle juis reeds ontvang het nie. Daar is egter meer as net finansiële uitdagings wat op die spel sal wees en dit moet ook oorweeg word”, het hy gesê.

Aan die positiewe kant meen Saville dat belastinginvordering gedurende 2018 goed verloop het. Volgens hom het persoonlike inkomstebelasting, maatskappybelasting en belasting op toegevoegde waarde (BTW) redelik sterk vertoon ondanks die trae ekonomiese groei.

“Dit baan die weg vir die nasionale tesourie om sy geteikende begrotingstekort te bereik.”

Boonop verwag hy dat die koers op BTW, wat verlede jaar deur Malusi Gigaba met 1% tot 15% verhoog is, ook belastinginkomste ʼn hupstoot sal gee.

“Ons sal nou, nadat al die vakansiedae verby is, kan sien hoeveel geld ingesamel is. Die BTW-inkomste behoort stewig te wees,” het hy gesê.

Saville waarsku egter dat trae ekonomiese groei en die inkrimping van groot ekonomieë soos die in Amerika, die EU en China ʼn demper op inkomsteverhaling kan plaas. Hy wys daarop dat die Suid-Afrikaanse ekonomie klein is en wat veral van kommoditeite afhanklik is.

Hy reken hierdie tendens en interne faktore kan Mboweni ʼn bekommerde man maak. Dit is veral die gedempte buitelandse faktore en binnelandse groei waaroor Mboweni bekommerd sal moet wees, het hy bygevoeg.

“Mboweni gaan nie juis veel ruimte hê om tydens die begroting te maneuver nie. Die begroting gaan neerkom om die meubels te verskuif, pleks van drastiese maatreëls aan te kondig wat broodnodig is,” het hy gesê.

Ondanks die tesourie se wens om nasionale skuld af te betaal, het Suid-Afrika die afgelope tien jaar na aan die rooilyn van sy begrotingstekort geboer, sê Saville en dit kan ook planne vir besteding hokslaan.

Oor die land se kredietgradering sê Saville dat Mboweni en die tesourie wel sommige aspekte kan beïnvloed, wat onder die vorige president, Jacob Zuma, se administrasie verval het. Die groot toets gaan kom om sterk strukturele ekonomiese groei te verseker om die kommer van kredietgraderingsmaatskappye te verminder.

Maar hy wys daarop dat die uitdaging nie net op Mboweni val nie, maar eerder die hele kabinet. Elke kabinetslid sal sy rol moet besef en speel.

“Kwessies wat indringende aandag verdien is, onder meer, ekonomiese groei, werkloosheid, en verbruikersinflasie,” het hy bygevoeg.

“Dan moet valutabestendigheid, ekonomiese ongelykheid die grondkwessie en die effektiewe bestuur van SBO’s geïmplementeer word.”

Saville sê die land se probleme is veelvuldig wat die begroting en fiskus se uitdagings verdwerg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.