Moody’s wil meer weet oor Eskom se reddingsplan

Moody's

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s. Foto: ANA

Suid-Afrika se positiewe kredietgradering deur Moody’s Investor Services, hang tans aan ’n dun draadjie. Eskom se skuldlas kan die land se behoud daarvan moontlik pootjie. Die elektrisiteitsvoorsiener se skuld beloop ongeveer R420 miljard.

Dit het aan die lig gekom dat Moody’s meer besonderhede oor die regering se hulppakket van R23 miljard per jaar oor die volgende drie jaar wil bekom. Volgens Moody’s is die volgehoue geldelike steun aan Eskom kredietnegatief en dui op ’n verswakking van die staatskas.

Moody’s het aangedui dat ’n openbare en geloofwaardige bekendstelling van die reddingsplan vir Eskom hom waarskynlik kan noop om die land se gradering op beleggingstatus te behou. Maar die moontlikheid bestaan dat hy ’n negatiewe waak kan uitreik.

Intussen sê die ekonomiese agentskap NKC Research dat, ofskoon Suid-Afrika sy kredietgradering vir nou kan behou, handelaars op die termynmark onseker is. Die maatskappy haal ’n berig van Bloomberg aan waarin daar gesê word dat Suid-Afrika se kans op ’n niebetaling van sy staatsskuld reeds hoër is as dié van Brasilië.

Brasilië is tans op rommelstatus. Op markte het Suid-Afrika se krediet bate ruil-instrumente reeds tot 182 basispunte gestyg. Brasilië s’n is 162 basispunte. Suid-Afrika se kredietstatus word tans deur Moody’s hersien en ’n besluit word op 29 Maart verwag.

NKC sê ofskoon Moody’s dalk die land op ’n negatiewe waak kan sit, is daar tekens dat hy die beleggingstatus sal behou. Suid-Afrika se kredietstatus is op Moody’s se laagste vlak.

Die maatskappy skryf dit toe aan Moody’s wat ’n wag-en-sien-houding kan inneem om te kyk hoe veranderinge wat in die begroting aangekondig is, geïmplementeer word. Die maatskappy voeg by dat die kredietagentskap ook wil kyk hoe sake ná die 8 Mei-verkiesing gaan verloop.

NKC voeg by dat die begroting self oor die algeheel nie positief was nie, maar dit sommige elemente bevat wat op vooruitgang gedui het.

Intussen het die direkteur-generaal van die Nasionale Tesourie, Dondo Mogajane, die druk wat Eskom op die staatskas het, betreur.

Hy het op ’n parlementêre staande komitee vergadering gesê die steun vir Eskom is die rede waarom die land se skuld as ’n persentasie van BBP styg.

Verlede jaar is daar in die begroting geprojekteer dat die skuld-tot-BBP-verhouding 59,6% in 2023 sal beloop. Tito Mboneni, minister van finansies, het egter met sy begrotingsrede onthul dat die syfer tot 60,2% in 2023 sal styg.

Ontleders wys daarop dat dit juis die syfer is wat ’n groot invloed op graderingsmaatskappy se vooruitsigte het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Die waarheid ·

Hallo moody’s daar is geen plan nie. So doen wat julle wil. Ons het nog baie geld in ons bankrekeninge.

Anoniem ·

Ek stem daar is geen plan. Hulle mors net geld met die een ondersoek na die ander. Hulle weet al reeds wat is die problem. Die mense het net nie die vaardigheid nie. Skelms moet uitgeroei word en dit is dit. Gee eerder n handeklap want hulle en die ANC het hierdie land in sy m#%r.

Judge Dredd ·

Het mos gewaarsku – julle kan Eskom tydelik red maar dit sal ten koste van SA se gradering wees.

SA het 2 paaie en beide loop na dieselfde slagpale.

1. Ondersteun nie Eskom – Eskom val uitmekaar – SA se ekonomie val uitmekaar.
2. Ondersteun Eskom – SA se staatskuld word te veel – SA se ekonomie val uitmekaar.

Opsie 2 se pad vat net ‘n bietjie langer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.