Mynbou en vervaardiging pootjie die ekonomie

Foto ter illustrasie. (Foto: ANA)

Ekonome is van mening dat die Suid-Afrikaanse ekonomie op pad is om vanjaar op dieselfde noot as 2018 te begin – met ’n verswakking van die ekonomiese groeikoers in die eerste kwartaal.

Gegewens van Statistiek Suid-Afrika toon dat die mynbousektor in Februarie – die tweede maand van die eerste kwartaal – weer vrotsig gevaar het. Die vervaardigingsektor het egter in dieselfde maand traag gegroei.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het die volume van mynproduksie met 1,5% in Februarie gedaal. Daar was geen verandering in Januarie se syfer nie.

Die ekonomiese agentskap NKC Research sê die Februariesyfer was erger as markverwagtinge. Agt uit die 12 subsektore in die mynbougegewens het swakker gevaar teenoor ’n jaar gelede.

Diamante, goud en ystererts het die grootste verliese getoon. Diamantproduksie het met 48,3% geval. Goud met 20,6% en ystererts het met 20,7% gedaal.

NKC sê dat die faktore wat op die sektor weeg, nie in die nabye toekoms opgelos sal word nie en dit kan die mynbousektor se vooruitsigte in die komende maande strem.

Die agentskap voorspel dat die sektor ’n dubbelsyferdaling vir die eerste kwartaal kan toon wat ekonomiese groei vir die tydperk kan pootjie. Dit voeg by dat vooruitsigte vir die sektor in komende maande droewig lyk.

Ontleders wys daarop dat faktore waarmee die sektor stoei, onder meer, beurtkrag en arbeidsonrus by die Sibanyane Gold se goudmyne is en die prys van kommoditeite.

Terselfdertyd het die vervaardigingsgegewens met 0,6% in Februarie verbeter. Dit het in Januarie met 0,9% geklim.

Februarie se syfer was ’n aks beter as markverwagtinge wat ’n verbetering van 0,5% voorspel het. Sewe uit die tien subsektore het op ’n jaargrondslag verswak, twee het verbeter en een was onveranderd.

Voedsel en drank, wat die grootste subsektor is met ’n gewig van 26%, het met 3,2% gegroei.

NKC waarsku egter dat daar taai struikelblokke vir die sektor voorlê wat, onder meer, lae sakevertrouevlakke is, trae binnelandse vraag, beurtkrag en die hoër elektrisiteitstariewe. Dit meen ook die nuwe nasionale minimumloon van R20 per uur (of R3 500 per maand) ’n rol sal speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Schalk ·

Eenvoudig los BBBEE en die ander snert en daar sal groot groei plaasvind!

Zulu ·

Ek stem saam met Schalk . Ongelukkig gee die regering nie n flenter om dat die land se ekonomie , sy eie kiessers ens, onder sy (ANC) , se flaters soos BBEEE , unies, wet op gelyke indiensneming ens ly nie .
Solank hulle in die stoel kan bly , gee hulle glad nie om dat alles in totale anargie verval nie.

Johanna Botha ·

Geen krag geen industrie …maklik anc ! Die bee het ook nie gewerk nie en steur ons nie meer an bee as ons navraag kry nie …dis n take or leave it situasie ! Gaan ook nie weer betaal om teen onsself te diskrimeneer nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.