’n Staatsrede van herhalings, nou vir die begrotingsrede

Pres. Cyril Ramaphosa kyk vir oulaas oor sy staatsredetoespraak by sy amptelike woning in Kaapstad. Hy het Donderdag die staatsrede in die parlement gelewer. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

’n Senior ekonoom het president Cyril Ramaphosa se staatsrede in die parlement as louwarm beskryf.

Elize Kruger, ’n senior ekonoom by NKC Research sê aspekte van die toespraak, veral oor die ekonomie, het positiewe seine uitgestuur. Sy was egter bedag daarop dat met die verkiesing wat eersdaags gehou word, die toespraak daarop gemik was om vir die ANC steun te werf, in plaas van om aandag aan die land se belange te gee.

“Ten opsigte van die ekonomie lyk dit asof daar wel iets gedoen word. Die ontbondeling van Eskom was wyd verwag. Maar daar is wel ’n positiewe vooruitsig vir ’n verbetering in die ekonomie,” het sy bygevoeg.

Kruger het egter kaalvuis gesê dat daar heelwat herhaling in die toespraak was. Dit sluit in die stryd teen korrupsie, die versterking van staatsbeheerde instellings en om strategiese vennootskappe te vorm met die privaat sektor om staatsbeheerde ondernemings van ondergang te red.

Een punt waaroor sy veral krities was, is dat, volgens die toespraak, Ramaphosa steeds ’n groot rol vir die staat in die ekonomie sien.

Sy voeg by dat die woord hervorming kunsmatig aangewend word sonder dat daar enige beduidende skuiwe deur hom aangekondig is wat die beginsel sal benodig.

“Hy het wel oor korrupsie, beter onderwys, meer beleggings en meer ekonomiese ontwikkelingsplanne gepraat, maar dit was ’n herhaling van sy staatsrede ’n jaar gelede,” het sy gesê.

Kruger wys daarop dat die aankondiging oor Eskom nie oorweldigend was nie omdat dit verwag was en dat Ramaphosa nie sy politieke teenstanders skietgoed voor die verkiesing wou gee nie.

Kruger sê egter dat die staatsrede getoon het dat die ANC goed is met woorde, maar die implementering van die woorde baie gebrekkig is.

Sy sê, gegewe die omstandighede waarin dit gelewer was, was dit beter as voriges en ’n kerf bo neutraal.

Intussen het Ramaphosa se plan om $100 miljard in beleggings na die land te lok, waarskynlik ’n hupstoot gekry nadat die Franse oliereus Total aangekondig het dat hy Suid-Afrika se eerste diepsee-oliebron, die Brulpadda-vonds, ontdek het.

Die Brulpadda-vonds sal na raming 1 miljard vate olie lewer. Dit kan genoeg wees om Suid-Afrikaanse raffinaderye vir vier jaar van olie te verskaf.

Total se bestuurshoof Patrick Pouyanné sê dat dit tot ’n vlaag van beleggings kan lei namate Suid-Afrika daarvan werk maak om olie-invoere te verminder.

Andrew Latham, ’n visepresident by die maatskappy Wood MacKenzie, sê die vonds kan Suid-Afrika se olie- en gasnywerheid ’n hupstoot gee namate die land na sy eie hulpbronne in die sektor soek.

Gwede Mantahe, minister van minerale hulpbronne, sê dat die vonds die land ’n groot ekonomiese inspuiting kan gee. Hy sê dat dit ook tot groter beleggings in die sektor kan lei.

Die rand het Vrydagoggend bykans onveranderd verhandel.

Andre Botha, ’n senior valutahandelaar by TreasuryONE, beaam Kruger se seining.

Hy wys daarop dat die groot kwessies wat in die staatsrede gedek was, is Eskom, ’n beter verhouding tussen die privaat sektor en die regering en grondhervorming.

Oor die rand sê hy dat die geldeenheid Vrydag grootliks op die agtervoet was. Dit was danksy die Amerikaanse dollar se verstewiging.

Ontleders sê dit was juis weens kommer oor ’n verswakking in die wêreldekonomie wat vraag na veral Suid-Afrikaanse kommoditeite kan laat krimp.

Botha sê ná die staatsrede het die fokus nou na die begroting verskuif wat op 20 Februarie gelewer word. Totdat die begroting afgehandel is, verwag hy dat dit ook tot groter onbestendigheid in die wisselkoers kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Schalla ·

Skuif BTW op! Dat meer mense belasting betaal. Dis tyd dat die mense wat alles so afbreek ook begin betaal vir alles wat hulle verniet wil hê asook alles wat so afgebreek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.