’n Tikkie goeie nuus vir platinummyngroep

Argieffoto.

Die wêreld se tweede grootste platinummyngroep, Impala Platinum (Implats), sê dat dit weer winsgewend was gedurende die eerste helfte van die huidige boekjaar. Dit, danksy ’n voorslagvertoning van die platinumgroepmetale. (PGM’e).

Die platinumsektor was onder druk die afgelope sewe jaar, veral weens arbeidsonrus en beplande afdankings.

Beleggers op die Johannesburgse Effektebeurs (JE) het die nuus verwelkom. Die myngroep se aandeelprys het vroeër vandeesweek tot sy hoogste vlak in 14 maande gestyg na die nuus. Die aandeel het nóg ondersteuning deur die week gekry.

Impala sal sy tussentydse periode se syfers op 28 Februarie uitreik.

Die maatskappy voorspel dat sy verdienste per aandeel R2,92 sal beloop. Die verdienste het in dieselfde periode ’n jaar gelede ’n verlies van 21 sent getoon.

Volgens Implats was sy wins grootliks aangehelp deur die sterk vertoning van die platinumgroepmetale, te wete palladium en rodium.

Ofskoon die maatskappy nou weer op die winspad is, het hy bygevoeg dat hy nie van sy planne gaan afwyk om vyf van sy elf myne te sluit en 13 000 werksgeleenthede af te skaal nie.

Implats sê dat produksie gedurende die eerste helfte van die boekjaar met 10% tot 800 000 onse van 727 000 onse gestyg het. In die vorige jaar is produksie gestrem deur probleme met sy smeltingsoonde.

Platinumverkope het met 19% tot 773 000 onse van die vorige  649 000 onse gestyg.

Die maatskappy maan egter dat, ondanks die hoër platinum- en rodiumpryse die vraag na platinum oor die volgende drie jaar kan afplat. Die vraag na palladium en rodium sal egter stewig bly.

Implats wys daarop dat sleutelmarkte waarnatoe hy uitvoer, tans besig is met maatreëls om die uitlaatgasse te verminder. Dit sal ’n effek op PGM’e het.

Nog goeie nuus is uit die platinumsektor gekry toe die wêreld se grootste produsent van dié edelmetaal, Anglo Platinum, ook vandeesweek aangekondig het dat hy vir die jaar tot einde Desember ’n styging van tussen 83% en 103% in sy hooflynverdienste per aandeel verwag.

Dit sal na verwagting tussen R27,15 en R30,10 beloop. In die vorige boekjaar was dit R14,82.

Die maatskappy het voorheen aangekondig dat sy verdienste per aandeel met ten minste 20% sou styg. Hy sal sy uitslae op 18 Februarie aankondig.

Volgens Anglo Platinum is die wins grootliks aangepor deur ’n 13%-styging in die platinumgroepmetale gedurende die periode.

Die myngroep het aangekondig dat na belasbare verdienstesyfer die verliese van R1,5 miljard sal insluit weens die afskryf van sy belang in die Bafokeng Rasimone-platinummyn, wat in samewerking met Royal Bafokeng Platinum gedoen is, en sy verliese op die verkoop van DIE Union-myn en MASA Chrome.

Volgens Bloomberg slaan Suid-Afrikaanse platinumprodusente soos Implats, Anglo Platinum en Sibanye Stilwater munt uit hoër pryse vir platinumgroepmetale en die swakker rand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.