ʼn Verlaging in rentekoerse moontlik

uurglas-geld-rande-rand

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Een ekonomiese kwessie wat vandeesweek ʼn groot rol op finansiële markte sal speel, is rentekoersbesluite plaaslik en in Amerika. Beide die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die VSA se Federale Reserweraad (Fed) sal die week oor rentekoerse besin.

Boonop was daar sterk aanduidings Dinsdag gewees dat beide sentrale banke waarskynlik verlagings in rentekoerse kan oorweeg.

Die Reserwebank kan genoop word om rentekoerse te sny in ʼn poging om ekonomiese groei ʼn hupstoot te gee. Die eerste kwartaal se ekonomiese groeisyfer het kenners teleurgestel nadat dit met meer as ʼn verwagte 3,2% verswak het.

Die Reserwebank se mandaat en laer rentekoerse het ook in die spervuur gekom nadat ANC-lede hieroor ʼn bekgeveg gehad het waarin sekere lede aangevoer het die bank moet, onder meer, genasionaliseer word.

Dinsdagoggend het Business Day berig dat die sentrale bank wel daaraan oorweging sal skenk om rentekoerse te sny. Volgens die berig het die bank aan ekonomiese redes oorweging gegee en sal liewer ʼn bydra tot die land se ekonomiese ommeswaai wil lewer.

ʼn Senior valutahandelaar by TreasuryONE, Andre Botha, sê valutamarkte het reeds twee rentekoersverlagings deur die Fed vir vanjaar geprys. Hy waarsku egter dat op die handelsfront sake egter baie onseker lyk.

Botha sê Indië se stap om tariewe op Amerikaanse goedere te verhoog, kan dalk tot vergeldingstappe lei. Hy meen egter dit lyk of daar ʼn groter eenstemmigheid onder G20-leiers is in afwagting op die groep se beraad later vandeesweek.

Botha is egter bekommerd dat die geopolitieke spanning in die wêreld, te wete die kwessies rakende die Midde-Ooste en Hongkong, ook markte ten opsigte van die goudprys, ruolie en valuta kan beïnvloed.

Hy verwag dat markte sywaarts kan verhandel totdat die Fed sy beslissing maak.

In die VSA het druk toegeneem dat die Fed rentekoerse moet sny. Dit omdat markte en ontleders verwag dat Amerika se ekonomiese groeikoers kan afneem. Daar is egter ook ʼn groep wat dink dat Trump sy hand oorspeel het en dat sy handelsoorloë tot groter isolasie van die VSA kan lei.

Plaaslik is die repokoers 6,75% en die primakoers 10,25%. ʼn Verlaging in rentekoerse kan sukkelende verbruikers dalk net ʼn broodnodige blaaskans gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.