Nog kleinhandelmaatskappye stel beleggers teleur

makro-centurion

Foto: Makro se Facebook-blad.

Daar was nog ’n erge bloedbad op die Johannesburgse Effektebeurs (JE) Dinsdag nadat nóg twee swaargewig-kleinhandelmaatskappye se jongste verkoopsyfers beleggers teleurgestel het.

Ontleders sê dit dui net op hoe swak ekonomiese toestande in die land tans is.

Massmart, wat onder meer as Makro, DionWired, Game en Builders Warehouse handeldryf, het een vyfde van sy markwaarde verloor. Die maatskappy word tans op R2 triljoen gewaardeer.

Die maatskappy het aangekondig dat sy verkope met 3% tot R90,9 miljard geval het in 2018 tot einde Desember. Dit het bygevoeg dat verkope by Game en DionWired sterk was.

Die verkoopsperiode sluit die spits-kleinhandeltye van Swart Vrydag en Kersfees in.

“Oor die algemeen het ons verkope in November en Desember traag verloop,” het di Massmart bygevoeg. In die vorige boekjaar het sy verkope met 2,9% gestyg.

Die maatskappy se aandeelprys het met 21% getuimel nadat sy verkope vir die jaar teleurgestel het en hy ʼn daling van bykans 44% in hooflynverdienste voorspel het. Hooflynverdienste is die sleutelaanwyser van wins vir Suid-Afrikaanse maatskappye.

Die meerderheidsbelang in Massmart word deur die Amerikaanse kleinhandelgroep Walmart besit.

Volgens die maatskappy was daar verskeie negatiewe faktore wat verbruikers se kooplus gedemp het.

Dit sluit in die styging in belasting op toegevoegde waarde van 14% tot 15%, die skerp styging in brandstofpryse wat op verbruikersbesteding geweeg het, die hoë werkloosheidsyfer en inflasievlakke, wat die land se ekonomiese vooruitsigte getrem het.

Massmart verkoop, onder meer, kruideniersware, huisverbeterings-toerusting en vars kosprodukte.

Intussen het Shoprite se aandeelprys ietwat herstel om ’n aks laer te sluit nadat dit ook vroeër in die dag onder druk gekom het.

Dié groep, wat Afrika se grootste kleinhandelaar is, het aangekondig dat sy verkope in die kwartaal tot Desember laer was. Verkope in Suid-Afrika het beter vertoon. In die res van Afrika het die resessie in Angola en die devaluering van valuta in ander lande ook sy winsmarge geknou.

Die aandeelprys het in ʼn stadium met 5,7% tot R175,32 verswak ná die waarskuwing aan sy aandeelhouers dat sy tussentydse verslag bykans onveranderd sal wees. Dit het net laer as 1% gesluit.

Die groep het gesê verkope het in die kwartaal met 0,3% verswak.

Die groep wat, onder meer, as Checkers, Shoprite, U-Save en die OK sake doen, se verkope was 0,42% beter daaraan toe in die Septemberkwartaal.

Pieter Engelbrecht, die groep se bestuurshoof, sê drankwinkels het uitstekend presteer gedurende die Desemberkwartaal. Verkope het daar met 20,69% gestyg.

Groei in sy Suid-Afrikaanse kernbedrywighede het met 2,58% verbeter. Verkope in die res van Afrika het met net meer as 17% gedaal.

Die groep se stakings en probleme by sy verspreidingsentrum in Gauteng het ook sy vertoning gestonk.

Engelbrecht wys daarop dat lae voedselinflasie van 0,2% vir die afgelope 18 maande pryse bykans onveranderd gelaat het. Omdat die groep ʼn groot aandeel in die marksegment het, het dit ook op sy winsmarges geweeg.

Volgens Engelbrecht bly die groep se kernmark, die middelklas, se inkomste onder druk.

“Dit was duidelik deurdat klante grootliks terug-skool-toe-produkte gedurende die Kersseisoen gekoop het. Dit het die besteebare inkomste vir speelgoed vir die eerste keer verbygesteek,” het hy gesê.

Shoprite sal op 26 Februarie sy tussentydse verslag uitreik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willie ·

En ook in Brasil doen wallmart uiters swak. Die probleem is die mega korporasies koop al die kleiner plekke in lande op en dan raak hulle pryse hoog, en gehalte swak. Mense raak moeg om na supermarkte te gaan. Ek ondersteun veel eerder die klein winkeltjies wat deur my eie mense besit word. Die vet katte van korporate greed maak die klein outjies dood, en dan sit heelwat mense werkloos. Boonop ook nog betaal hulle uiters skokwekend laag hulle mense wat daar werk. Dit alles net om die aandeel houers ryker te maak.

Dellie ·

Verbaas my nie, want die gewone man op straat is in 2018 so belas dat sy besteebare inkomste nie kon byhou nie. Wie het geld vir speelgoed en onnodige goed as jy skaars genoeg geld vir die noodsaaklikes het. Hoeveel fabrieke is nie gesluit agv ons swak ekonomie in 2018? Hoeveel mense sit sonder werk, en die wat werk watertrap vir ‘n vale elke maand…..nee wat, stem die vetkat aandeelhouers jaag die pryse die hoogtes in…..

Piet Pompies ·

Winsgrense is te hoog, swak diens…….. dit is lank al tyd dat verbruikers waarde vir geld kry!
Broek by factory shop in Jeffreysbaai – R250
Dieselfde broek by winkel in Nelspruit – R799.99
Makro sou met die samesmelting van Wallmart produkte goekoper aan verbruikers verkoop, dit het nooit gebeur.
Winsgrens tussen fabrieke en kleinhandel is net te groot, verbruikers kry nei meer waarde vir geld.
Ons koop nou heelwat meer by die Chines winkels as by Makro…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.