Nog ’n gerekende kritiseer populistiese beleidsrigting

roger-jardine

Roger Jardine is die voorsitter van die FirstRand-groep. Foto: Primedia.co.za

Terwyl president Cyril Ramaphosa hom gereed maak vir die week se konferensie om nuwe beleggings na Suid-Afrika te lok, het nog ’n gerekende ANC-lid die party se huidige populistiese beleidsrigting gekritiseer.

Kenners sê terwyl die koor in Suid-Afrika teen populisme opklink, gaan Ramaphosa dit moeilik vind om buitelandse beleggers te oortuig om geld in die land te belê.

Daar word 8 000 buitelandse beleggers en kenners by die konferensie verwag.

Dié keer het die voorsitter van die FirstRand groep, Roger Jardine, sy stem dik gemaak oor die regerende party se populistiese uitsprake.

Jardine is ’n vorige bestuurshoof van die konstruksiemaatskappy Aveng en die mediamaatskappy Primedia. Hy is die seun van die ANC-strydros Bill Jardine, wat ook op die Goue Leeus-rugbyunie se bestuur gedien het.

Jardine se uitsprake is in die jaarverslag van FirstRand vervat. Hy voeg sy stem by dié van Trevor Manuel, oudminister van finansies, wat een van vier gesante is wat opdrag van Ramaphosa gekry het om $100 miljard se beleggings na Suid-Afrika te lok.

Die geld word benodig om vaste direkte beleggings te lok, die ekonomie uit sy huidige moeras te kry en om werkskepping ’n hupstoot te gee.

Die ander ANC-swaargewig wat teen die populistiese uitsprake en beleidsonsekerheid oor die mynbousektor uitgevaar hert, is die sakeman Sipho Pityana.

Jardine sê die regering is besig om populistiese beleid na te jaag wat die land nie kan bekostig nie.

Hy sê dit sluit in hoër as verwagte staatsdienssalarisse. Hy bevraagteken ook die model vir befondsing van tersiêre onderrig en die staat se standpunt oor die Nasionale Gesondheidsversekering wat hy nou wil implementeer.

Jardine wys daarop dat die regering se grondbeleid om grond sonder kompensasie te neem, die risiko loop om eiendomregte in gedrang te bring. Hy meen dat dit aan risiko’s blootgestel sal wees, veral indien dit swak toegepas word.

In aanloop tot volgende jaar se verkiesing het Ramaphosa populistiese beleidsrigtings ingeslaan, insluitend die grondkwessie. Jardine meen egter dat dit die gewone Suid-Afrikaner se eiendomsregte kan ondermyn ondanks Ramaphosa se uitsprake dat die ANC die Grondwet hieroor wil verander.

Jardine wys egter daarop dat die proses deursigtig is en daarop gemik is om kommentaar van verskeie belangegroepe te kry.

Maar Jardine waarsku dat privaat eiendom, waarop verbande uitgeneem is, nie sonder kompensasie net geneem kan word nie. Hy wys daarop dat die regering ook nie kan verwag dat banke die verliese van só ’n aksie nie net kan afskryf nie.

“Dit is belaglik en ondeurdag,” het hy gesê.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) raam dat banke sowat R1,6 triljoen in verbande het.

Hy het ook bevraagteken of die land werklik die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nodig het – dit dreineer die tesourie jaarliks van miljarde rand. Jardine reken ook dat Ramaphosa se stimuluspakke nie oor die kort termyn sal werk nie.

Hy sê strukturele hervormings is noodsaaklik. Dit beteken dat daar daadwerklike aandag gegee moet word aan die finansiële gesondheid van staatsbeheerde ondernemings en die verwydering van beleide wat onsekerhede veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Spike ·

Ja, almal met rasionele denkwyses is in die privaat sektor. Die irasionele is in die regering.

Gemaskerde Sopbeen ·

Askhole: “A person who constantly asks for your advice, yet does the opposite of what you told them….” We have a cabinet full of those….

Geronimo ·

Ek leer nog Afrikaans – kan iemand asseblief vir my verduidelik wat vir ‘n ding ‘n “strydos” nou eintlik is. Moontlik ‘n neologisme?

Sune van Heerden ·

Dagsê Geronimo

Ons vra om verskoning, daar was ‘n tikfout in die berig – die woord is “strydros”.
Dit beteken bloot ‘n “veteraan”, ‘n ou “vegter” (in hierdie geval vir die ANC).

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.