Nou is die tyd om plaaslike ondernemings te steun

(Foto: Tim Mossholder/Unsplash)

Suid-Afrikaners hou daarvan om plaaslike sukses te vier, maar nou het Local is lekker! selfs ’n dieper betekenis. As verbruikers nie plaaslike produkte en sakeondernemings soos nog nooit te vore ondersteun nie, sal die plaaslike ekonomie, wat alreeds ’n groot knou weg het, binne etlike maande ineenstort. Volgens Statistieke SA het 73% van dié besighede aangedui dat hulle nie langer as drie maande van die grendeltydperk sal oorleef nie.

Dié sakeondernemings se noodkreet is intussen omskep in verskeie veldtogte. Die idee is om verbruikers aan te spoor om hul geld op plaaslike produkte en dienste te bestee en selfs hul gunstelingrestaurant gedurende die afsonderingstydperk te ondersteun.

Errol Naidoo, uitvoerende hoof van die Family Policy Institute sê aangesien die meerderheid van plaaslike besighede deur families besit word, sit die verbruiker se ondersteuning in werklikheid kos op die tafel van sulke families. Hy het onlangs ’n veldtog Revive SA van stapel gestuur.

“As verbruikers geld by plaaslike sakeondernemings bestee, in stede van internasionale handelsname, sal die geld in die plaaslike ekonomie sirkuleer, en nie na die buiteland vloei nie.”

Hy meen daar flikker reeds etlike jare gevaarligte vir menseregte in China, aangesien die Chinese regering hul burgers op verskeie maniere onderdruk.

“Die Chinese geniet nie dieselfde vryheid as Suid-Afrikaners nie. Deur hul produkte te koop ondersteun ons indirek die skending van menseregte.”

Naidoo meen Suid-Afrikaners kan hul eie mense eerder ondersteun deur plaaslike besighede, wat die hartklop van die plaaslike ekonomie is, aan die gang te hou.

Ontbytsake, ’n ontbytprogram op KykNET, spoor verbruikers reeds jare lank aan om plaaslike sakeondernemings te ondersteun en stel op naweke plaaslike besighede en dienste ten toon. Op die Ontbytsake-webwerf is daar verskeie artikels wat die voordele van plaaslike aankope uitlig. Volgens Ontbytsake is die voordele van plaaslike besteding legio, en lei na beter lone, meer werkgeleenthede en ’n gesonder ekonomie.  Nog ’n voordeel, volgens hulle, is dat ’n plaaslike besigheid makliker is om te benader, en dat verbruikers van aangesig tot aangesig met iemand in die besigheid kan praat wanneer daar ’n versoek of probleem is. Plaaslike sakeondernemings is ook beter ingesteld op die spesifieke behoeftes van die plaaslike mark met unieke produkte en dienste wat dié behoeftes vervul.

Een van die sektore wat die hardste getref word, is die toerismebedryf. Onsekerheid oor wanneer dié sektor weer kan oopmaak, maak dit moeilik vir gastehuise, hotelle en vakansieplekke om te begroot vir verliese. In 2018 het Suid-Afrikaners meer as R8 miljard spandeer aan internasionale reise. Sulke luukse toere is vir eers van die baan.

Ryan Enslin van die Roaming Giraffe meen dié geld kan na plaaslike besighede gekanaliseer word wanneer verbruikers weer plaaslik kan reis. Hy en sy vennoot, Di Brown, is skrywers met ’n passie vir die toerismebedryf. Hulle skryf reeds jare oor die bedryf en het menigte plekke in Suid-Afrika besoek.

“Daar is soveel potential,” meen Enslin. Volgens hom is daar talle mooi plaaslike plekke om te ontdek.

“Dit is soos ’n skattejag,” sê hy. “Min mense wil tans geld neersit op vakansieverblyf met die onsekerheid van die grendeltydperk.”

Hy het egter saam met sy vennoot ’n webwerf, The Virtual Bucket List, begin om plaaslike toerisme te ondersteun.

“Ons nooi verbruikers uit om van spesiale aanbiedinge op die webwerf gebruik te maak. Hulle hoef nie in hierdie stadium te betaal nie, maar kan solank ’n bespreking doen. Dit gee eienaars van dié sake’n aanduiding van hoeveel potensiële besigheid op hul wag wanneer die grendeltydperk uiteindelik gelig word.”

Nog ’n projek wat verbruikers kan ondersteun, is die Save Your Local-veldtog. ’n Groep plaaslike entrepreneurs, beleggers en kenners van kleinsakeondernemings het onlangs ’n webwerf ontwerp wat verbruikers die geleentheid bied om plaaslike besighede te ondersteun. Die platform bied aan verbruikers verskeie opsies, soos om nou koeponne te koop vir dienste wat gelewer kan word ná die grendeltydperk of om ’n skenking te maak aan hul gunsteling- plaaslike besigheid wat tans gesluit moet bly.

Hierdie projek wil kleinsakeondernemings help om hul kontantvloei aan die gang te hou.  In net ’n paar dae ná die webwerf aanlyn gekom het, het meer as 250 besighede aangeteken. Die doel van die projek is om in ’n tyd van hopeloosheid, ’n positiewe toekomsvooruitsig vir plaaslike gemeenskappe te skep.

Die stigters nooi verbruikers uit om saam te staan en duisende ondernemings asook honderde mense se inkomste, te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marius ·

Die serpe wat met die sokker wereldbeker uitgedeel is op tv was gemaak in sjina . Die punt is daar is bykans geen vervaardiging in die land oor is nie en dit le voor die deur van die departement van geen handel en nywerheid . Hulle sal nie ‘n vinger lig daaroor nie . Vra vir die suiker boere hoekom hul onderdeur is .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.