Nuwe logo, hope planne vir MTN

‘n Nuwe logo word vir MTN beplan (Grafika: Verskaf)

As deel van sy strategie om van ’n telekommunikasiemaatskappy na ’n tegnologiegroep te transformeer, spog Suid-Afrika se naasgrootste selfoonnetwerk binnekort met ’n splinternuwe handelsmerk.

MTN se ou blou, geel, wit en rooi logo, met die naam in skuinsdruk, sal einde Februarie plek maak vir ’n moderne, skoon baadjie in swart blokletters op geel. Die groep behou die sirkelmotief wat kenmerkend van die ou handelsmerk was.

Volgens Brand Factory word MTN se handelsmerkwaarde op R44,8 miljard geraam en beklee dié groep reeds vir ’n dekade die topposisie op Brand Factory se lys van die 50 tophandelsmerke in Suid-Afrika.

Volgens MTN, waarvan die klinkreël na verneem word van “Everywhere you go” na “Y’ello” verander, is die nuwe handelsmerk in ooreenstemming met sy strategie genaamd Ambition 2025, waarmee hy ’n leidende rol wil speel om vooruitgang in Afrika deur middel van digitale platforms aan te vuur.

“Ons is verbind daartoe om Afrika se vordering te versnel, en daarom sal MTN vanaf 27 Februarie ’n opgeknapte handelsmerkidentiteit en bemarkingsveldtog van stapel stuur. Die veldtog is geïnspireer deur die insig dat ‘doen’ ’n brug tussen ‘kan’ en ‘gedoen’ is. Vooruitgang is immers gewortel in aksie,” het die groep gesê.

MTN het teen einde September verlede jaar met bykans 272 miljoen gebruikers in 20 markte gespog. Altesaam 33,5 miljoen hiervan is deel van sy Suid-Afrikaanse bedrywighede. Vodacom het op sy beurt in dieselfde tydperk met 45,4 miljoen Suid-Afrikaners op sy netwerk gespog.

Digitale kundigheid gesoek

(Argieffoto)

Dat MTN ernstig is oor die verstewiging van sy digitale vastrapplek, is duidelik uit sy visier wat op die verkryging van nagenoeg 150 digitale kundiges gerig is.

Volgens Tebogo Maenetja, hoof van mensehulpbronne by MTN Suid-Afrika, wil die groep ’n leiersrol speel in die nuwe digitale wêreld deur sy spanne uit te brei ten einde “onsself uit te daag om dít wat ons doen altyd te probeer verbeter”.

“Namate ons herstel van die verwoesting wat Covid-19 meegebring het, ontsluit MTN opwindende werkgeleenthede vir jongmense en diegene met hoëvlak- digitale vaardighede. Dit is ’n bewys van die krag wat konnektiwiteit vir Suid-Afrikaners inhou.”

As deel van die uitbreidingsaksie om ’n volwaardige tegnologiedienstemaatskappy te word, wil die groep aansienlik uitbrei en diversifiseer. Die nuwe poste wat MTN vanjaar wil vul, sluit in UX- en UI-ontwerpers, produkeienaars, prestasiebemarkers, digitale inhoudspesialiste; e-handelkundiges en sakeontleders.

“Die manier waarop mense leef, speel en werk het vir goed verander en MTN omhels ’n nuwe wêreld van digitale tegnologie en diens in gebiede soos fintech (finansiële tegnologie), kunsmatige intelligensie, robotika en vele meer.”

Strategiese stappe, stewige styging

Die MTN-groep het vroeër vandeesmaand R4,3 miljard verkry uit die verkoop van 575 miljoen MTN Nigeria Communications-aandele, berig My Broadband.

Die aandeleaanbod was die eerste in ’n reeks wat die MTN-groep sal help om sy doelwit te bereik om sy belang in Nigerië tot 65% te verminder. Die jongste transaksie verminder die MTN-groep se belang in sy Nigeriese filiaal van 78,8% tot 75,6%. MTN Nigeria, die groep se kroonjuweel, het einde Desember 2021 sowat 68,5 miljoen gebruikers gehad.

MTN het op 18 Februarie in ’n kennisgewing aan plaaslike aandeelhouers gesê hy verwag ’n styging in wesensverdienste per aandeel (WVPA) van tussen 25% en 35% (tussen 187 en 262 sent). Met inagneming van die WVPA van 749 sent vir die ooreenstemmende finansiële jaar geëindig 31 Desember 2020, sal sy WVPA waarskynlik tussen 936 en 1 011 sent vir die finansiële jaar geëindig 31 Desember 2021 wees.

Die groep het voorts gesê die verdienste per aandeel (VPA) sal tussen 15% en 25% (tussen 142 en 237 sent) laer wees. Met inagneming van die VPA van 946 sent vir die ooreenstemmende finansiële jaar geëindig 31 Desember 2020, kom dit neer op tussen 710 en 804 sent vir die finansiële jaar geëindig 31 Desember 2021.

MTN se aandeelprys het oor die afgelope vyf jaar met meer as 54% gestyg tot die vlak van R183 waarteen dit op 17 Februarie verhandel het. Net gemeet oor die afgelope jaar, het sy aandeelprys met ’n enorme 158% opgeskiet. Die groep maak sy resultate vir die finansiële jaar geëindig 31 Desember 2021 op 9 Maart bekend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vonkprop ·

As ek so na die nuwe logo kyk sien ek daar is glad nie meer wit in nie. Net swart.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.