Nuwe TikTok-tendens sê ‘werk is nie jou lewe’

Argieffoto. (Foto: Sincerely Media/Unsplash)

Stel jouself ʼn werksomgewing voor waar dit aanvaarbaar is om slegs binne kantoorure dít wat jou posbeskrywing behels te doen. Niks meer nie.

Die Covid-19-pandemie het wêreldwyd baie veranderinge aan die werkplekkultuur teweeg gebring, insluitend ʼn nuwe tendens genaamd #QuietQuitting, wat werknemers aanmoedig om stilweg die sogenaamde “kapitalistiese streep” by die werk te trek.

Dr. Natasha Winkler-Titus, leierskapontwikkeling-programhoof by die Universiteit Stellenbosch se sakeskool, sê “quiet quitting” behels nie die bedanking van werknemers nie, maar eerder die stel van grense om nie meer as dit wat van hulle verwag word te doen nie.

“Werknemers wat hierdie filosofie volg trek die streep en stel grense om ʼn werk-lewe-balans te herkalibreer en hul geestesgesondheid te beskerm,” verduidelik sy.

Dié tendens het in Augustus vanjaar vlamgevat nadat ʼn Amerikaanse TikTokker @zaidlepplin ʼn video gemaak het waarin hy vertel hoe hy dit raakgelees het en besef het dat “werk nie jou lewe is nie”.

Dié video het veral onder die Generasie Z-werkmag opslae gemaak en het tans amper ʼn half miljoen trefslae op TikTok.

Daar word beweer dat die beweging sy oorsprong in 2021 in China gehad het toe werknemers in protes teen dié land se uitbuitende werkure die nou gesensorde hutsmerk #tangping – wat “om plat te lê” beteken – begin gebruik het.

Wat het hierdie tendens veroorsaak?

Volgens Winkler-Titus het die afgelope drie jaar se toename in tuis werk tot groter bewustheid rondom die buigsaamheid van werkure onder mense gelei.

“Die hoeveelheid Suid-Afrikaners wat tuis werk het sedert die pandemie van 4% tot byna 40% gestyg. Dit, gekombineer met die geestesgesondheidsimpak van die pandemie, het mense laat herbesin oor hul lewensdoel en of hul beroep werklik daarby inskakel.”

Argieffoto. (AP Photo/Mark Schiefelbein, File)

Sy voeg by dat werkgewers nie kan verwag dat hul personeel dadelik na ʼn “normale” werkomgewing kan terugkeer sonder dat daar ongemak gaan wees nie.

BBC het berig dat dié beweging, wat rondom selfbehoud gesentreerd is, veral by jonger en deeltydse werknemers in die Verenigde Koningryk en die VSA aanklank gevind het omdat hulle glo nie die “nodige erkenning en vergoeding” by die werkplek gekry het wat hulle glo aan hulle verskuldig is nie.

Franco van der Berg, ʼn junior media- en skakelbeampte by die vakbond Solidariteit, sê aan Maroela Media dat “quiet quitting” egter nie ʼn nuwe konsep is nie, maar net ʼn nuwe term vir iets wat jare lank reeds in die werkplek te sien is.

“Mense se misnoeë met hul werksomgewing, veral in Suid-Afrika, kan moontlik as ‘quiet quitting’ geïnterpreteer word, maar daarom is dit belangrik dat daar deurlopende en deursigtige kommunikasie moet wees om werknemerbetrokkenheid te verseker.”

Wat is die eienskappe?

Joe Galvin, hoofnavorsingsbeampte by Vistage Worldwide, het aan Forbes gesê dat mense wat aan die volgende skuldig is, moontlik ʼn “quiet quitter” geword het.

  1. Onbetrokkenheid.
  2. Kom slegs die minimum prestasiestandaarde van die werk na.
  3. Isoleer van ander spanlede.
  4. Onttrek van enige gesprekke, take of aktiwiteite wat nie werkverband is nie.
  5. Woon vergaderings by, maar neem nie self daaraan deel nie.
  6. Maak ander spanmaats se werkslading meer.

Winkler-Titus sluit hierby aan en lys traagheid en minder toewyding, passie of entoesiasme vir werk ook as moontlike aanduiging dat ʼn werknemer dié beweging volg.

“Hierdie gedrag is soms prestasieverwant en moet as prestasiekwessies hanteer word, maar baie daarvan het regtig met betrokkenheid te doen. Hoë vlakke van betrokkenheid is gekoppel aan prestasie en welstand, maar wanneer werknemers nie ʼn stem het nie en ontmagtig voel, raak hulle ongemotiveerd,” voeg sy by.

Die Britse loopbaanafrigter Joanne Mallon sê baie mense onttrek hulle ook nie noodwendig doelbewus aan hul werksomgewing nie en raai diegene wat dit wel doen aan om hulle pos te evalueer. “Almal het een of ander tyd in hul lewens ‘quiet quitting’ toegepas, maar besef nie dis ʼn teken dat dit tyd is om aan te beweeg nie.”

Hoe kan ʼn mens dit hokslaan?

Volgens Van der Berg is verwagtingbestuur kernbelangrik vir werkgewers en -nemers wat hierdie tendens wil vermy.

Die onlangse toename in tuis werk tot groter bewustheid rondom die buigsaamheid van werkure onder mense gelei. (Foto: Andrea Piacquadio/Pexels)

“Mense moet besef dat die werkomgewing nie staties is nie. Meer take kom by, ander val weg, maar daar moet deurlopend ʼn poging tussen die betrokke partye wees om seker te maak elkeen weet presies wat van hom of haar verwag word.”

Winkler-Titus sê ook dat daar ʼn “sielkundige kontrak” in die werkplek is wat die “ongeskrewe kontrak van beloftes en verwagtinge binne die diensverhouding” bepaal.

“Wanneer hierdie kontrak verbreek word, is werknemers meer geneig om die organisasie te verlaat of emosioneel te onttrek. Werkgewers wat nie fokus op die verbetering van geestesgesondheid en werknemerswelstand moontlik maak nie, loop die risiko om met ʼn onbetrokke arbeidsmag te sit.”

Bykomende bronne: BBC, Forbes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan ·

Werk-lewe-balans is die grootste klomp bog nog uitgedink. Dit behels fundamentele denkfoute, enigeen wat dit aanhaal moet bietjie weer gaan dink oor hul filosofie.

Vexed ·

Waar, die werk verteer jou suig jou leeg en gooi jou weg wanneer ‘n nuwe “trend” aan die deur klop. Dit is goed dat mense van dag een af weet hulle is net goed in ‘n maatskappy. Nee, nie ‘n nommer nie, dit is reeds te veel.

Pieterbusa ·

Wel ten minste het dit nou ‘n naam. “Quiet quitting”. By meeste maatskappye is dit deesdae die norm.

Schalk ·

As werkgewer dink ek dit benadeel jou besigheid as iemand die tipe denke in jou werksplek het. Ekstra gee word gesien as ambisie en dit is beloonbaar.

Pieterbusa ·

Jys heeltemal reg. Dis definitief beloonbaar, as jy die regte werkgewer is. En ek wil nie negatief klink nie, maar om “die ekstra myl te loop” word nie oral raakgesien nie en meeste lojale, goeie werknemers staan dan later terug. Daar is net nie meer aansporing nie. Almal word dieselfde betaal en behandel. Ambisie of geen ambisie

Vexed ·

Ja maar, dit word nie beloon nie, en dit is juis die ding. Mense word meestal net uitgebyt met mooi beloftes. Bitter raar dat dit anders is.

Vexed ·

Geweldig, veral as hulle begin bloed trek, meeste het goeie tande so ja…

Willem ·

En dan wonder die mense hoekom hulle nie bevordering of ordentelike verhoogings kry nie. Dit vat harde werk en die ekstra myl gaan om suksesvol te wees.

Vexed ·

Mense werk hulle oor die algemeen siek en kry net ‘n dwarsklap as beloning. “Wees bly jy het ‘n werk” so, nou reageer mense om hulle self te beskerm en die base skrik hulle vaal. Te laat.

LANA is ELANè ·

Die ironie is dieselfde mense wat so gesteld is op hul geestesgesondheid, nie besef wat dit beteken om ñ besigheid se deure oop te hou nie. Hulle dring steeds aan op13de tjeks, bo gemiddelde verhogings, hope verlofdae en al die ekstras wat gepaardgaan vanaf die huis werk en allerhande ekstras soos om tuis te wees vir jou kinders ens.
Die werkgewer moet altyd maar net meer gee, terwyl hulle nou danksy hul sg geestesgesondheid nie omgee hoe ñ werkgewer sy deure oophou in moeilike ekonomiese tye.
Ek wonder wat sal gebeur as salarisse aangepas word na die werklike ure gewerk, maw jy klok in, jy klok uit en hou boek van elke ding wat jy deurlopend doen in daai sg werksure. Ek kan jou verseker jou werkgewer sal finansieël baie baatvind by so reëling as jy slegs betaal word vir werklike werk gedoen.
Maar die meeste werkgewers wat ek ken is nie so eng nie, maar mag gedryf word om dalk anders na die werkverhoudinge te kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.